Kaas
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Raad vir jou onderaktiewe skildklier

’n Bietjie botter, ’n bietjie kaas is miskien al wat jou trae skildklier vra…  

Hoeveel mense, veral vroue, ken jy wat op skildklier-medikasie is? Dalk ken jy iemand, of jy sélf voel net iets is nie reg nie – jy voel traag, moeg, futloos, jy sukkel om te konsentreer, jou hare val uit, jou hande en voete is die hele tyd koud en jou vel bly droog  – ten spyte van die duur rome wat jy gebruik. Jou siklus is soms deurmekaar en jy sukkel dalk selfs om swanger te raak?

Jou dokter toets jou skildklier, want jy kla jy sukkel met jou gewig alhoewel jy dieet, maar helaas, die ding is “normaal” of miskien net so effens onder druk. Geen salf te smeer nie.

Andersyds is daar die ooraktiewe skildklier. Jy voel of jou hart by jou keel wil uitspring en jou oë wil uit-pop. Jy verloor vinnig gewig en kort voor lank is jy dalk in die situasie waar jy vir skildklier-behandelinge moet gaan, maar hierna sukkel jy weer met ’n onderaktiewe skildklier.

Eweneens nie ’n lekker situasie nie. Jou skildklier is potensieel jou vriend – dit kan jou goed laat voel. Maar dit kan ook jou vyand wees as dit jou moeg, tam en lam laat voel en jou gewig laat aansit.

Skildklierfunksie is ’n komplekse onderwerp. Een swaeltjie maak nog geen somer nie – en een skildkliertoets vertel jou nie die hele storie nie. Verskeie faktore kan die bloedtoets (wat jou skildklierfunksie net op daardie oomblik meet) beïnvloed.

Het jy byvoorbeeld geweet dat die streshormoon kortisol ’n effek op jou skildklier het? Siekte beïnvloed ook die toets. Siekte verander jou skildklier se aktiwiteit om jou liggaam kans te gee om die “siekte” te hanteer. En natuurlik die faktore wat die minste aandag geniet: VOEDINGSTOWWE!

Ons weet lankal dat skildklierfunksie afhanklik is van verskeie voedingstowwe: Vitamien A en D, selenium, yster, die aminosuur triptofaan, asook jodium.

Nou toon onlangse navorsing aan dat vitamien A as terapie die trae skildklier kan  normaliseer. In ’n ander studie wys navorsers dat ’n “siek” skildklier “herstel” het ná voldoende byvoeging van selenium.

Dít het my gedagtes laat dwaal na chroniese diëtery. Miskien is jy so iemand – jy voel asof jy die HEELTYD byna niks moet eet nie. Jy koop, kook en eet als wat LOW is. Jou kos proe na niks en jy raak verveeld daarmee – en val dan nou en dan heeltemal van die wa af. Ek glo dis jou liggaam wat jou na daardie HELE blok sjokolade dryf – want hy weet! Daar’s BAIE dinge daarin wat goed is vir jou! (Jy moet net goeie sjokolade koop.)

Nodeloos om te sê, wanneer jou liggaam vir “iets” vra, kan jy maar weet jy skakel  onwetend belangrike voedingstowwe uit …

Botter, room, kaas, vleis, vetterige vis, eiers, lewer en lewersmeer en neute. Dít is ryk aan die verskillende voedingstowwe wat nodig is om jou skildklier “gesond” te hou. Nee, jy’t nie baie daarvan nodig nie. Maar wel élke dag.

Daar’s ook alternatiewe bronne. Vitamien A kan jy byvoorbeeld van wortels, geel vrugte soos perskes, spanspek en appelkose, kry. Baie mense vermy dit omdat hulle koolhidrate uitsny terwyl hulle dieet. Spinasie, broccoli, soetrissies is goeie “dieetkos”, maar ongelukkig moet jy BAIE MEER hiervan inneem om by jou voedselstof-behoeftes te voldoen. Ek ken min mense wat genoeg groente eet net vir algemene gesondheid, wat nog te sê vir die verhoogde hoeveelhede wat nodig is om as die enigste bron van onder meer vitamien A te dien.

Wil jy dus jou skildklier help? Én jou liggaam help om jóú te help om gesond en goed te funksioneer? Hou op “dieet” – hetsy “grotman”, lae vet, lae GI of lae kilojoules – tensy jy daarmee saam ook beter eet!

Tot volgende keer, en LIKE gerus Facebook/betereet as jy elke dag ’n bietjie meer wil leer HOE jy regtig beter kan eet!

Groete

Mariza van Zyl RDKliniese Geregistreerde DieetkundigeBeterEet Voeding en Voedsel KonsultFacebook/bettereatwww.betereet.co.za Mariza

 * LEES AL MARIZA SE DIEET-BLOGS HIER