Foto ter illustrasie

Foto ter illustrasie

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Is sop en brood jou gewigsverlies-voornemens se dood?

Is jy ook mal oor sop? Maar hoe goed is dit vir jou dieet? Dieetkundige Mariza van BeterEet gee raad …

Ek is mal oor sop: koue somersoppe, romerige soppe, dun soppe, dik soppe … net nie pakkie-sop nie!

Sop is natuurlik veel meer as ’n ekonomiese manier om van als wat amper “af” is in jou yskas ontslae te raak. Inteendeel, sop is ’n baie slim dieet-truuk, en dit gaan oor veel meer as net gewigsverlies.

Niemand wil “honger” wees nie … al wil jy hoe graag gewig verloor of net jou gewig konstant hou. Honger is ’n normale liggaamsein … en ’n mens is veronderstel om HONGER te word as jy nie eet nie, of “verkeerd” eet, of as jou liggaam om welke rede ook al nie die kos kan “gebruik” wat jy eet nie.

Mariza se blog: Tem jou honger só

Dis ironies, want meestal sal ’n nuwe dieet-trend sê dat jy nie “honger” gaan wees nie. Hoewel honger nie altyd ’n slegte ding is nie, assosieer baie mense ongelukkig gedurige honger met dit wat hulle deurgaan as hulle ’n dieet volg. Die honger word dan vereenselwig met een of ander persoonlike swakheid … asof jy iets verkeerd gedoen het en die feit dat jy honger is jou “straf” is.

Onthou, “glad nie honger” is net so sleg soos “heeltyd honger”.

Enersyds kan jy sop inspan as jy “heeltyd” honger is. As jy jou sop slim kies, help dit jou om versadig te voel sonder dat dit “te veel” is – te veel energie/koolhidrate/vet of wat ook al jou masjinerie verstop. Jy kan ’n heerlike romerige sop geniet – baie hiervan met minder kilojoules/vet/koolhidrate as 2 skyfies pizza, ’n toebroodjie of selfs ’n dieet-skommel.

Hoekom werk dit vir honger? Die groot volume wat met ’n bord sop gepaard gaan, rek die maag. Dit het tot gevolg dat sekere chemiese stowwe in die liggaam afgeskei word wat ’n rol speel in die versadig-boodskappe wat van die brein kom.

Andersyds kan sop ’n baie gekonsentreerde bron van voedingstowwe wees vir mense wat nie hul gewig moet oppas nie, of sukkel om genoeg te eet.

Jy kan dus kies hoe jy die sop vir jou gaan laat werk – vir gewigsverlies of om honger mae vol te maak.

Na gelang van jou gekose benadering, gaan jy deur versigtige keuses jou ideale sop maak.

Wenke

  • As jy geen stysel wil eet nie – kies dan meer groente en vleis.

Prof. Noakes ten spyt, moenie oorboord gaan met die vet nie, en as jy nie insulienweerstandig/diabeties is nie, sluit gerus ’n goeie bron van stysel in. Hou net jou hoeveelhede dop. Gelukkig is dit maklik as jy sop maak vanweë. die verdun-effek.

Die verdun-effek het tot gevolg dat enige bestanddeel waarvan jy minder moet/wil eet, verdun kan word deurdat jy meer bestanddele byvoeg waarvan jy meer kan eet – soos groente en maer vleis. Terselfdertyd konsentreer of verdig jy dan sommer die voedingstof-inhoud van jou sop! Dit word nóg meer gesond.

’n Goeie voorbeeld om die beginsel te illustreer is room en botter. Tot onlangs het almal geglo dit is ’n taboe vir gesondheid. Inderdaad nie – dit het nog altyd gegaan oor hoeveel …

Kyk wat gebeur met die room in jou sop: Onthou, as jy bv. ’n 250 ml-houertjie kloproom in jou sop gebruik en jy maak 1,5 liter sop (4 groot porsies), sal elke persoon 4 eetlepels room inkry. Dit is gelyk aan ongeveer 20 g vet. Glad nie te veel vir ’n maaltyd nie. Deur meer groente te gebruik en bv. hoender in die sop te sit konsentreer jy die voedingswaarde, maar die room bly dieselfde en jy kry nog steeds net soveel room in.

Neem dit selfs ’n stap verder en vervang ’n bietjie van die room met olyfolie. Nou is dit ’n goeie kombinasie vette – en steeds nie te veel nie. Én jou sop is nóg meer gesond.

Speel met bestanddele soos kerrie en borrie, rissie, kaneel, gemengde speserye, neut, suurlemoen- en lemoenskil en vars kruie. Dit help metaboliese probleme herstel en is lekker.

Wat van droë bone, splitertjies en lensies?

As jy sukkel met jou gewig, hou die verhouding van hierdie bestanddele min in verhouding tot jou groente. Moet bv. nie die hele pakkie gebruik nie – net ’n koppie vir ’n liter water. Peule gee jou sop ’n “dik” gevoel as hulle amper heeltemal weggekook is. Minder peule beteken minder koolhidrate. Wanneer jy egter meer gesonde koolhidrate (en sommer op die koop toe proteïene, goeie vesel en lekker baie B-vitamiene) nodig het – soos wanneer jy ’n skraal groeiende seun is wat heelmiddag op die rygbyveld spandeer het of ’n vegetariër is wat sukkel om genoeg proteïen in te neem, dan is die peulgroente broodnodig … Niks dan soos ’n bak spikkelboontjiesop nie!

Dieselfde geld vir gort, koring en rys. Dit is bestanddele waarvan mense wat “van nature” maer is meer moet eet en die res van ons minder. (Jy sal weet as jy so iemand is.)

En die brood?

Sorg vir die beste brood wat jy kan kry. As jou sop reeds gort en lensies en ’n pakkie bruin-uiesop in het (dit is maar hoofsaaklik stysel, suiker, sout en geurmiddels), dan is die brood natuurlik net wat nodig is om die maaltyd ’n regte styselbom te maak – wat liewer vermy moet word as jy jou gewig dophou.

Het jou sop egter minder of geen stysel/peule/grane in nie, geniet gerus jou broodjie hiermee saam – dan is dit nie ’n dubbele dosis stysel nie. Maar eet meer sop as brood.

Die sop-en-brood-kwessie wentel dus hoofsaaklik rondom die kombinasies wat jy kies. As jy jou “formule” reg het, kan jy sonder om skuldig te voel jou sop en broodjie eet.

Kry wenke en resepte vir “maermaak”-sop op www.betereet.co.za

BeterEet-groete tot volgende keer

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

 

 

 

 

 

Het jy wenke en idees nodig? LIKE gerus Facebook/bettereat en besoek www.betereet.co.za