Mariza van Zyl
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Staal jouself teen dik beloftes!

Haar naam was Tweety Bird. ’n Getweet-tweet – (so ’n lang eee) uit volle bors en ’n groot oop bek het dit baie duidelik gemaak sy verwag van my om haar ook te voer sodra ek naby haar gekom het. Goggas. Wurms. Vlieë! Ek’s mos haar ma – al gril ek vir goggas en kan ek hulle nie vang terwyl ek vlieg nie …

Sy was my grootmaak-swaeltjie. Deur haar versigtig in die lug te gooi, het ons haar leer vlieg.

Uiteindelik het sy weggevlieg. Nou, elke jaar as die swaeltjies in die lente terugkeer na die nessie bo my kantoordeur, wonder ek of sy dit gemaak het. Is sy een van daardie tweet-tweet-swaeltjies op die telefoondraad wat aankondig dat die winter verby is? Of miskien was sy te mak en het nie besef die kat sal haar opvreet as sy gevang word nie?

Anders as die swaeltjies wat elke jaar op die “regte” tyd kom, voel dit soms vir my of die pas waarteen die jaar deur die kalender aanstap – Kersfees, Valentynsdag, Paasfees, Moedersdag – al vinniger word. Is die versierings nie vir jou ook elke jaar vroeër en vroeër in die winkelventers nie?

En dan is daar die aankoms van die Dieetseisoen!

Ek het reeds die eerste advertensie gehoor: “Moet jou nie onkant laat vang nie … die somer kom en jou winterlyf moet waai.” Of so iets.

Anstig staan en roer jy dalk jou lekker bredie op die stoof of kruip net dieper onder die kombers voor die kaggelvuur in?

En ek? Ek het nog nie genoeg rooiwyn-aande bymekaargemaak om my te hou tot volgende winter nie! Wie wil dink aan warm kry as dit so lekker snoesig is binne?

Feit bly, net soos die vroeë versierings jou nooi om jou beursie oop te maak, net so kan jy verseker wees dat die wiele reeds aan die rol is om jou te verlei tot ’n slanker lyf. Hierdie dieet. Daardie aanvulling. Probeer hierdie maaltydskommel of inspuiting of poeier of pil. Dik beloftes van dunwees!

Miskien is jy een van daardie mense wat dink: hierdie keer? Dít of dát het dan verlede jaar so goed gewerk vir my vriendin. Dalk het jy reeds ’n paar kilo’s afgeskud, maar nou sukkel jy om dit af te hou. Of het jy weer daarvan opgetel? Moontlik het die laaste dieet-tendens jou baie goed gepas, behalwe dat jy nie nóg ’n stuk spek soggens in die gesig kan staar nie …

Hetsy jou gesondheid vereis dat jy “iets” doen, hetsy jy net bitter graag weer in ’n swembroek wil pas of van ’n spekrolletjie wil ontslae raak, mag ek jou ’n paar wenke gee? Wenke vir die komende weke om die hele “dieet”-spel in konteks te plaas? Die konteks is dat gesondheid oor meer as maerwees gaan. En nie net jou korttermyn-gesondheid nie, maar ook jou langtermyn-gesondheid. Ag nee wat, dink jy dalk, ek’s nog nie eens 30 nie en oud- of siekword is nog baie ver. Maar die wysheid van die grysheid maan dat dinge verander as die middeljare-ouderdom naderkruip.

Kan jy jou lewe verleng met beter eetgewoontes? Of keer dat jy siek word? Dit is ’n geloofsaak, glo ek – die datum van jou vertrek.

Die voorkoming van onnodige toestande, soos ongemak, min energie en gedurige verkoues, is egter grootliks die gevolg van keuses. Dit is ’n feit – nié fiksie of ’n bemarkingstaktiek nie: Wat jy eet of nie eet nie, wat jy doen of nie doen nie, en natuurlik ook wat jy dink en nie dink nie, het beslis alles ’n positiewe of negatiewe effek op jou hele lyf!

Staal jouself teen dik beloftes.

Volgende week volg: Wenk 1 Hoe maak jy jou kos gaar dat dit help gesond maak? En dit het geensins betrekking op die gebruik van ’n kleefvrye pan of die soort olie of vet of hoeveelheid vet wat jy gebruik nie …

Sien jou dan!

Groete tot volgende week

Mariza van Zyl

Vir meer inligting besoek www.bettereat.net

Volg Mariza op Twitter of Facebook.

 Lees ook