FOTO ter illustrasie

FOTO ter illustrasie

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Suiker – hoeveel is genoeg?

’n Swanger SARIE.com-leser het dié week vir Mariza raad oor bloedsuiker gevra. Die uitslag van haar  bloedsuikertoets was normaal, maar tog het haar dokter suiker in haar urine opgetel. Sy wil by Mariza weet of dit die gevolg is van die bruinsuiker wat sy soggens oor haar pap eet.

Vandag gesels Mariza oor bloedsuiker, diabetes en die rol van suiker in ons dieet.

“Jy is miskien nie swanger nie en het dalk nie ’n bloedsuikertoets gehad nie, maar die kans is goed dat as jy vanoggend pap (ja, ook die sogenaamde volgraan-pap) geëet het – met of sonder bruin-, geel- of kunsmatige suiker – jou bloedsuikervlak ook verhoog sal wees. Ten minste tot 2 uur ná die maaltyd. Dalk is dit té hoog, veral as jy ’n bietjie oorgewig, onaktief, insulienweerstandig of gestres is omdat jy vanoggend laat was. As jou liggaam nie meer kan kompenseer nie, is jy moontlik op pad na diabetes.

Wat is bloedsuiker?

Die “bloedsuiker” waarna verwys word, is eintlik glukose – ’n soort suiker wat in ons bloed voorkom.

Hoe word dit gemeet?

Bloedglukose word gemeet deur ’n bloedglukose-monitor (die klein “masjientjie” waarin die strokie met jou druppel bloed gedruk word), of jy kan jou bloed laat trek. Wanneer jy ’n urine-toets doen, meet die stokkie of daar glukose-suiker in jou urine is.

In die ou dae, vóór ons hierdie toetse gehad het, moes dokters proe aan mense se urine! Sommige dokters se sintuie was so fyn ontwikkel dat hulle aan die reuk van die pasiënt kon raai dat daar ’n bloedsuiker-kwessie was.

Is dit normaal om “bloedsuiker” te hê?

Almal het altyd “suiker” in hul bloed. Die liggaam handhaaf ’n fyn balans en vervaardig sy eie suiker om vlakke stabiel te hou wanneer dit te laag is. Wanneer jou bloedsuikervlakke te laag is, sal jou brein ook hongerseine stuur.

Die tye as dit te hoog is, probeer die liggaam van die oortollige suiker ontslae raak. Die oormaat word deels in die urine uitgeskei en deels omgesit in vet – en meestal gestoor. Wanneer daar ’n oormaat is, sal jou bloedsuiker en/of die urine-glukose verhoog.

Is dit gevaarlik?

Die “te” is soos gewoonlik gevaarlik – té hoog vir té lank, en ook as dit skielik te hoog is.

Té vinnig té hoog is dikwels die geval wanneer jy kos eet wat jou liggaam “vinnig” kan omsit in suiker.

Die bloedsuiker sal ook te hoog vir te lank wees of te veel op en af wip as jou liggaam se vermoë om suiker te gebruik nie optimaal funksioneer nie – soos in die geval waar jy insulienweerstandig is, te veel vet eet of te min beweeg.

Verhoogde bloedsuikervlakke dra by tot o.m. inflammasie in die liggaam en insulienweerstandigheid. Die metaboliese skade wat aangerig word wanneer jou bloedsuiker buite beheer is, gaan op lang termyn wyd uitkring. Diabetes, artritis, hartsiekte, depressie, oorgewig, Alzheimersiekte – noem maar al die siektes onder die son. Inflammasie in die liggaam speel ’n rol by almal, en daarin lê die gevaar.

Waar kom die suiker vandaan?

Selfs al eet jy niks nie, sal daar altyd “bloedsuiker” in jou bloed wees – al eet jy net proteïene en vet en gebruik jy kunsmatige versoeters.

Suiker word ingeneem as deel van ’n voedselitem (in stysel, groente, vrugte), of bygevoeg in die vorm van tafelsuiker, glukose, fruktose, maltose, dekstrose, ens. Daar is egter ook suiker in melk en jogurt – al is dit ongegeur!

Die sondaar

Die sondaar in ons moderne dieet is grootliks verfynde suiker en bronne daarvan, soos verfynde stysel, of dan te veel kosse wat suiker bevat as jy minder nodig het. Drink jy byvoorbeeld glase melk en sukkel om jou bloedsuiker te beheer?

Hoe meer verfyn die kos is, hoe meer gekonsentreerd is die suikerdeeltjies. Daarom kan die “suikers” in byvoorbeeld pap of brood jou bloedsuiker net so laat styg soos wat korrelsuiker of tafelsuiker dit sal doen – al is dit die hoëvesel-opsie.

Verfynde kosse verteer ook vinnig en veroorsaak meestal ’n skielike styging in jou bloedsuikervlakke.

Onverwerkte styselkosse, vrugte en groente is ook bronne van suiker, maar die suiker is só “verpak” dat die liggaam meer moet werk om dit te verteer. Die suiker in onverwerkte kosse is ook gewoonlik minder gekonsentreerd, omrede daar meer vesel en water in die kosse is.

  • ’n Groot teelepel suiker en ’n medium-pruim / 1 ui / 1 koppie broccoli gaan min of meer ewe veel suiker bevat.
  • Dieselfde geld vir die meeste brood: ⅔ van die gemiddelde lae-GI-brood weeg ongeveer 30 g. ½ koppie kitsgraankos weeg ongeveer 20 g. Dit bevat egter net soveel suiker of koolhidrate as 100 g aartappels of 220 g waatlemoen.

Hoeveel is te veel?

Die vraag moet eintlik wees – hoeveel is te veel vir JOU?

As jou metabolisme reeds nie goed werk nie – soos wanneer daar al ’n rolletjie onder jou naeltjie sit, jy miskien insulienweerstandig of dalk swanger is, en jou liggaam vasbrand met die “verwerking” van suiker, gaan jy nie net moet kyk na watter suiker en bronne van suiker jy eet nie, maar ook na hoeveel. En nie net nou en dan nie, die hele tyd.

Vir een persoon mag die suiker uit die stysel van 1 sny brood (al is dit lae-GI) of uit ’n 120 g-appel te veel wees. Kies dan liewer ’n opsie wat minder gekonsentreerde suiker bevat. Miskien nou en dan ’n kleiner porsie waatlemoen of ’n pruim.

Die goue reël

Kies onverfynde styselkosse en kleiner porsies daarvan. Tensy jy baie aktief is, het jy nie baie hiervan nodig nie.

Eet gerus 2 vrugte elke dag – enige vrugte. Hoe groter jou verskeidenheid, hoe beter. Eet baie groente. Niemand het nog ooit diabetes ontwikkel of oorgewig geraak a.g.v. te veel groente nie. Kies álle soorte groente en jy kan daagliks ’n porsie van daardie soorte eet wat ’n bietjie meer “suiker” bevat.

Laai gerus hierdie twee gidse af. Miskien eet jy meer suiker en bronne van suiker soos stysel as wat jy besef!

BeterEet-groete tot volgende keer

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

 

 

 

 

Het jy wenke en idees nodig? LIKE gerus Facebook/bettereat en besoek www.betereet.co.za