lr003
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Te laat vir ‘n paar kilo’s voor Kersfees?

Uit radeloosheid met haarself voer sy aan dat dit maar ‘n somer sonder swem sal wees.

Ek lees tussen die lyne, sy’s moeg. Moeg dieet. Moeg om dinge te probeer wat nie werk nie. Moeg om dinge te doen wat nie ‘werk’ nie.

Lees gerus bietjie my en Lydia van der Merwe se artikel in die nuutste SARIE (Desember 2012). Dis nie ‘n dieet nie – geen beloftes van groot hoeveelhede kilogramme of vinnige suksesse nie. Dis oor dieet  – en die kans dat jy miskien nog heeltyd jouself verniet kasty.

Ja maar… dink jy – ek kan tog nie met hierdie lyf so aanhou nie?

Wens jy ook jy was een van die rare spesie-mense wat kan eet wat hulle wil?

Helaas. Hulle is DUN gesaai.

Die res van ons moet vrede maak dat dit maar altyd bietjie ‘werk’ is. Bietjie meer werk om die slaai te maak. Bietjie meer werk om die gesonde bestanddele en produkte te sif uit die oorvloed op die winkelrakke. Veral hierdie tyd van die jaar is daar net soveel  ‘genot’ (indulgence) produkte. Ja – dis altyd bietjie meer moeite – selfs om by die buffet en skemerkelkie ‘nee dankie’ te sê.

Onregverdig. Ja seker. Maar feit. Herinner jouself jy is nie alleen nie. As jy moedeloos ‘gewerk’ is aan jou goeie eetgewoontes, herinner jouself hoe lekker jy voel as jy goed en gesond eet. Hoe lekker dit is as jou vel mooi is. Hoe lekker dit is as jy later as jou vriendinne plooie gaan kry omdat jy minder verfynde kosse geëet het.

Herinner jouself hoe lekker dit gaan wees as jy hups en aan die gang kan ouer word…en nog steeds jou gunsteling klere kan dra…in dieselfde nommer.

Herinner jouself aan dinge wat belangrik is wat NIE met jou ‘ nommer op die skaal’ te doen het nie. Soos baie energie. Genoeg om te speel met jou kinders of kleinkinders en dinge te kan doen!

Maar hoe gemaak met die bietjies ekstra (of baie) om die middel?

As jy planne het vir Desember vakansie en ‘n lekker los somerrokkie  – spandeer ‘n paar rand op ‘n lekker self-tan. Dit gaan veel meer vir jou selfbeeld beteken as om nou op ‘n een of ander verbygaande wa, vol beloftes van ‘n lenige somerlyf en bruingebrande blokkiesmaag, te spring. En dit voor Kersfees.

As jy egter van die geleentheid wil gebruik maak om die komende ‘rustiger’ tyd van die jaar ten volle te benut –dis absoluut die regte tyd om aanpassings te maak aan die manier wat jy koop, kook en eet. En ja – mens kan die proses so bietjie ‘versnel’ – maar belowe my jy sal jouself nie weeg nie en aanhou met die ‘beter’ keuses – tot VOLGENDE kersfees.  Nee – nie ‘ dieet’ nie. Net vastrap-‘beter’ eet!

Laai gerus hierdie maklike ‘gids’ af om vir jou ‘n idee te gee van ‘n baie gesonde eetpatroon.

En net terloops – dis nie nodig nie – weliswaar verskriklik verkeerd en onmoontlik om alle stysel, en vet en suiker uit jou dieet weg te laat…maar dis ‘n ander dag se storie.

Besoek gerus facebook/bettereat vir daaglikse ‘ betereet’-wenke en www.betereet.co.za vir meer nuus en minder ‘nonsens’ oor gesondheid en kos.

* Klik vir nóg blogs deur Mariza.

  • Sunet Zondagh

    Ek stem saam!! Leef gesond en geniet elke oomblik daarvan!! Niemand wil tog heeltyd net dieet nie. EET REG, kweek n’ nuwe lewensstyl en eetpatroon aan en houaan reg eet!! Ek het ook al alles probeer, is ook moeg probeer, die beste is aanhou en uithou, maar met iets waarmee jy kan volhou en wat jou soos n’ mens laat voel. Energiek, tevrede en gelukkig!! Dis nonsens om heeltyd so honger te voel!!