Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Tem jou honger só

Honger is vir sommige ‘n baie emosionele kwessie. Jy weet miskien hoe dit voel? Die oomblik as jy moet anders eet, of dieet – is jy onmiddelike heeltyd honger!

Inderwaarheid is dit dan ook die basis waarop HONGER – of dan liewer die afwesigheid van HONGER – gebruik word as gewilde ‘bemarkingstegeniek’ om vele dieetstrategieeë  se lof te besing: Jy sal nie honger wees nie/word nie/voel nie/lank vol voel/lank vol bly. Die afwesigheid van honger word voorgehou as ‘n absolute doelwit om na te jaag.

Maar wat is honger? Honger is ‘n chemiese reaksie. ‘n BAIE komplekse chemiese reaksie. Daar’s Ghrelin, Leptien, Cholesistokinien, Serotinien, Insulien – van die boodskappers (of in mediese taal HORMONE) wat betrokke is in die wisselwerking tussen brein en maag en lyf (vetweefsel/spierweefsel en selfs been) om honger/versadig boodskappe te orkestreer.

Honger sit dus regtig ook in jou kop. Dis nie jou verbeelding nie, nie die bewys van hoe swak jy is en dis nie ‘n teken dat jy geen wilskrag het nie.

Om die waarheid te sê, ek word heel opgewonde as pasiënte na ‘n week of twee van beter eet rapporteer dat hulle soggens HONGER opstaan. Of HONGER voel. Dus – uit by die deur met ’HOE DURF jy honger wees’. Mens moet met HONGER maak soos met ‘n wilde perd – leer hom verstaan, ken sy streke en gebruik dan die ongebreidelde krag tot jou voordeel.

Maar wat as my honger buite beheer is? Kan ek die chemie van die honger wees, en dan versadig voel en weer honger wees kontroleer. Ja – mens kan – maar jy moet die perd verstaan! En die perd se naam is nie net LAE GI, VET, GRELIN of INSULIEN of die nuwe druppel of poeier of inspuiting nie. Somtyds is die perd se naam Stres of Hartseer of Depressie of selfs Oormoeg of gewoon LYF HET KOS NODIG! LYF SMEEK VIR VOEDINGSTOWWE! Dít moet mens aanspreek.

Honger met opstaantyd? – Fantasties! Gedurig honger? Probeer om elke 2 – 3 ure te eet – 3 maaltye en 3 klein tussenmaaltye. Dink VOEDINGSTOWWE! Verruil dus verfynde produkte – items wat baie verwerking vereis het – al is dit LAE VET/GI/SUIKER – vir kos wat jy selfs sou kon pluk of voorberei/produseer. Vrugte/neute/groente/stukkie kaas/jogurt – alles RYK aan voedingstowwe.

Honger smiddae 16h00? Eet vóór die groot gevaar jou pak en dryf na enigiets en alles verteerbaar. Antisipeer dat dit jou ‘slegte’ tyd is – (baie waarskynlik ‘n kombinasie van stres van die dag en bloedsuiker).

Omarm jou eie lyf se seine. Herlei die gemorsde energie om skuldig te voel en sorg beter vir jouself. Sorg dat jy iets in jou handsak het – rou neute, sade, gesnyde biltong of stukkie droë wors. Jy’t altyd jou selfoon by jou – jou lewenslyn. Waarom nie ‘n ‘lewenslyn’ om jou te red uit hongersnood nie?

Maak jou maag vol met etes. Die maag wat ‘rek’ na ‘n goeie volume kos is een van die knoppies om die boodskap brein toe te stuur dat jy genoeg gehad het. Twee klein kraakbeskuitjies met ‘n smeerseltjie lae-vet margarien tel nie as middagete nie. Eet genoeg kos. ‘Pof’ jou bord op met groenteslaaie – MET olyfolie.

En laastens, eet stadig. Dit alles is meer effektief om die ‘genoeg gehad’-boodskap brein toe te stuur as ‘designer’ kos met allerhande ‘claims’.

Tot volgende keer! En onthou, jy kan elke Donderdag tussen 1 en 2 in die middae direk jou dieet-vrae op Facebook aan my vra.

Groete

Mariza van Zyl RD
Geregistreerde Dieetkundige

Meer wenke by www.betereet.co.za

Betereet op Facebook

 

LEES AL MARIZA SE VORIGE DIEET-BLOGS

  • Elsje Holmes

    Hi Mariza, ek gaan regtig hard probeer om so te eet en om te peusel aan die regte kos. Dankie vir jou goeie raad. Groete.

  • Elmarie Kemp

    Ek stem 100% saam. As mense net sal ophou om hulle uit te honger, absoluut die rede waarom "diets" faal! Eet jou maer! Gesonde kos, kleiner porsies, selfs ‘n "treat", maar ook kleiner porsies, 6 x per dag. Nie OOREET nie! Die groot porsies koek/tert (ek dink aan die ongeskikte porsies by "coffee shops") word net ingestop sonder om te dink, as jou porsie klein is, eet stadig en GENIET dit! Dit bring bevrediging dat niks jou ontneem word nie!

    Ek glo aan ‘n proteien "bar" 4 nm, wat gewoonlik almal se "swak" tyd is, Slimfast se Chocolate Peanuty Bar, voel darem dat jy ‘n sjokolade eet (is altyd in my handsak). Gaan sit en geniet dit, eet stadig, dink wat jy eet saam met ‘n koppie koffie, dit vul jou so, dat jy nie rasend honger by die huis kom nie. So dikwels eet mense net sonder om te dink.

    Nog ‘n wenk, beplan & berei maaltye voor die tyd, dat jy gou kan eet as jy honger saans by die huis kom, dit word andersins beslis ‘n onnodige peuseltyd en dan eet jy nog steeds ‘n maaltyd daarna!

  • willene van der merwe

    Wonderlike raad! Ek word mos vet van ontspan, en noudat ek nie meer werk nie en baie gelukkig en stresvry leef, het ek 5 kg opgetel oor 4 maande se tyd. Ek sal jou goeie raad volg en net minder eet!

  • Mariza van Zyl RD BeterEet

    Elmarie dankie dat jy saamstem met die basiese beginsels van gereeld eet maar die produk wat jy gebruik is nie iets wat ek sal aanbeveel nie. Die betrokke ‘ meal bars’ bevat in die bestandele lys onder ander ‘partially hydrogenated fat, high fructose corn syrup’, palm kernel oil en non-nutritive sweetener’ (ek wonder dadelik watter een). Die snack bars se eerste bestandeel is suiker! Ek klassifiseer dit dus as ‘n lekkerny – nie ‘n gesonde klein ‘maaltyd’ nie.
    Ek sal verseker meer vertel oor hierdie bestandele in ‘n volgende blog.

  • MJV

    Ek het ‘n enorme klomp gewig om te verloor en oorweeg om weer terug te gaan na Weigh Less, wat voorheen nie gehelp het nie omdat ek nie gemotiveerd was om "reg te eet" nie. Sal dit goed wees om Weigh Less weer te probeer of moet ek eerder net jou raad volg en probeer om op my eie aan te gaan?
    Ek wil baie, baie graag hart en siel in hierdie poging insit en sukses behaal, want ek wil baie graag aktief deel wees van my man, kinders en kleinkinders se lewens. Ek besit nie ‘n skaal nie en wil ook nie een hê nie, dus sal ek êrens moet weeg om te sien of iets wel gebeur, daarom het ek gedink terug na WL.
    Help asb.

  • Elmarie Kemp

    Marisa, ek het 35 kg (wat ek opgetel het na verhuising oorsee) met my 4 nm. stafie in 15 maande verloor (6 klein gebalanseerde maaltye, wat selfs pizza, pasta en sjokoladekoek/kaaskoek ingesluit het, maar in klein porsies) en behou my gewig steeds en ek eet elke dag nog steeds 4 nm my stafie, dit vul my (my swak tyd vd dag) agv die proteien in die stafie. Ek het beslis ‘n meer beperkte kennis as Huishoudkundige, maar dit werk vir my. Dieetplan dra ook my man ( dokter met ‘n spesiale belangstelling in oormassa pasiente, ekstra kursusse gedoen) se goedkeuring weg. Dit gaan tog aan die einde vd dag oor metabolisme ( vir my net ‘n halfuur oefening ‘n dag) en regte hoeveelheid kaloriee per dag inneem?

  • Azolda

    Hallo Mariza

    Ek sukkel om my baba magie weg te kry…ek is glad nie ‘n soet tand nie en eet my ontbyt elke oggend.ek eet nie baie nie maar reageer wanneer ek honger voel.ek het al 2 keisersnitte.ek het al begin stap.

    help

    Vrou van Calvinia

  • Lindie

    Hi Mariza……. ek het gehoor toe jy op rsg gepraat het oor n sekere produk wat mens help gewig verloor om ju middel haha moet se het nie als gehoor……. al wat ek kan onthou dit was iets soos Anne Tackling of iets………… nou ja ek het nou al oral gevrae niemand ken die produk of iets van dit asb help tog………………….
    Baie dankie
    Lindie