Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Vrugtesuiker – vloek of gesondheidsvonds?

Is jy ’n diabeet? Ly jy aan insulienweerstandigheid? Gesteld op jou gesondheid of gedurig opgeblaas?

Jy sou dan seker al gehoor het: Vrugte maak vet, diabete moet vrugte en vrugtesuiker vermy. Maar ook: eet meer vrugte vir die vesel – dan sal dit jou winderigheid en opgeblaasdheid oplos. Nou wat nou? Hoe gemaak as jy ’n dermprobleem het én insulienweerstandig of oorgewig is? Moet jy nou of moet jy nou nie?

Ons hoor dikwels mense sê : “Ek verloor nie gewig as ek vrugte eet nie!” of “my dokter het gesê geen suiker of vrugte.” Die huidige fokus op die sogenaamde paleo-eetpatroon en lae-koolhidraat-hoëvet-dieet en sy Suid-Afrikaanse familielid, die Tim Noakes-dieet, verban vrugte omdat dit vrugtesuiker bevat.

Die kwessie oor vrugte gaan daaroor dat dit ’n gekonsentreerde bron van vrugtesuiker (of fruktose) is. Die anti-vrugte-brigade maak stellings soos fruktose (en jy hoor vrugte) is net so giftig soos alkohol. Fruktose (en jy hoor weer vrugte) veroorsaak lewer-vervetting en diabetes. Maar as jy die betrokke metaboliese prosesse in die menslike liggaam van nader bekyk, lyk die ware toedrag van sake anders.

Eerstens moet ons verstaan wát fruktose en die voedselbronne van fruktose is

Fruktose is ’n monosakkaried of enkelsuiker. Dit is daarom anders as bv. sukrose of tafelsuiker, of stysel en vesel wat uit korter en langer kettings suikers bestaan. Bronne van fruktose sluit in tafelsuiker, vrugte én groente, bv. beet, uie, broccoli, tamaties. Geen natuurlike vars vrug bevat ooit nét fruktose nie, maar altyd ’n kombinasie van suikervesel en groot hoeveelhede water. In vrugte en groente is die fruktose-konsentraat baie laer as bv. in vrugtesappe, vrugtekoeldranke en vervaardigde produkte.

Dit is hiér waar die verwarring onstaan het en die baba (vrugte) sommer saam met die badwater (fruktose) uitgegooi word.

Die kort en die lank is: ja, gekonsentreerde bronne van “leë”-kalorie-fruktose-produkte ís “giftig”. Al ooit op ’n voedseletiket die woorde “High Fructose Corn Syrup” gesien? Kyk maar bietjie, ons sien mens dit ál meer.

Die kwessie kom uit Amerika

In die VSA is mielies baie volop en ’n goedkoop bron van fruktose. Deur middel van ’n chemiese proses word “high fructose corn syrup” vervaardig. Dit word gebruik om koeldranke, ontbytgrane, roomys, souse – alles wat soet is – te versoet.  Daar’s natuurlik ook fruktose in poeiervorm  – jare lank aanbeveel vir kinders wat moeg en tam was, in die tye voor die koms van die sport-drankie!

Dié produkte is gekonsentreerde bronne van vrugtesuiker. Laasgenoemde in ’n gekonsentreerde vorm – anders as in die vorm waarin dit in vrugte en groente voorkom – is sonder enige ware voedingswaarde. Dit verskaf nét energie. Geen vitamiene, plant-nutriënte of vesel nie. Geen fenole (die molekules wat geur en smaak gee aan die vrugte) wat  ’n rol speel om – in samewerking met ons immuunstelsel – te help om ons te beskerm teen siektes soos bv. kanker.

Wanneer daar reeds te veel energie in jou dieet is en wanneer jy meer eet as wat jou liggaam verbrand, dan sal jou liggaam baie makliker die fruktose omsit in vet. Maar indien jy nie jou liggaam met kos oorlaai nie (nie ’n boks nie, maar ’n takkie druiwe op ’n slag eet), is dit oor en oor bewys dat daar geen nadelige effek op die liggaam is nie – nét positiewe effekte.

Vrugte maak vet as jy te veel eet en onaktief is. Vrugte kan ’n diabeet se bloedsuiker opjaag as die porsies te groot is – ongeag die sogenaamde GI. En dit het eintlik min met die fruktose te doen, eerder die glukose en sukrose. Diabete meet glukose in bloed – nie fruktose nie.

Dis natuurlik baie meer nuuswaardig om te verkondig dat iets “gif” is as wat mense aangeraai word om hand in eie boesem te steek en selfondersoekend te vra: Is die hoeveelheid kos, die soort keuses wat ek maak en die gebrek aan aktiwiteit nie eerder die oorsaak vir die siekte van ons tyd, obesiteit, nie?

*Net ter interessantheid: Selfs op ’n lae-koolhidraat-hoëvet-(LCHF)-dieet kan  vroue, wat altyd minder as mans moet eet (omrede ons metabolisme stadiger is), met gemak 2 vrugte elke dag geniet – en selfs meer as jy slim kies.

Laai gerus jou vrugtelysie af by www.betereet.co.za.

Mariza van Zyl

 

Mariza van ZylRD Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

Facebook / bettereat

www.betereet.co.za