mariza_henk_foto_310w
Dieet

Dieetkundige Mariza: “Oefen sonder om ’n vinger te lig”

Mevrou of Mejuffrou. Jy moet oefen! Sê jou jong, gespierde dokter en jy wonder:

Wanneer moet ek dit in my besige dag inpas. Hoe kan ek op straat verskyn om te stap as ek soos ‘n Oros-mannetjie voel. Alternatief maak jy verskonings: jy kan nie bekostig om gimnasium toe te gaan nie. Jy kan nie stap nie – dis nie veilig nie. Jy het ‘n rugbesering of kniebesering. Jou oefenfiets het in ‘n klerehanger verander. Soggens as RSG ‘beweeg’ sit jy op kantoor.

Jy wonder ook hoe hy dit regkry om so lenig te bly…

Ongelukkig is ons mense NIE gemaak om heeldag te sit nie. Daar is genoeg geskryf oor die belang van oefening. Dit is egter feit dat ons vandag – meer as ooit tevore in ons geskiedenis –  PRESIES die teenoorgestelde doen as wat goed is vir ons liggame wat beweging betref: Ons sit en ry. Ons probeer Gimnasium toe gaan 3 maal per week. Ons sukkel om aan die gang te bly.

Ons probeer darem. Maar vir baie van ons is dit ‘WERK’ om aan die gang te kom en ons lywe te gebruik! Ons is ‘gebou’ om te ‘hou’ mits ons genoeg loop, hardloop en werk met ons spiere. Met ons hele liggaam. Nie net ons brein nie.

Geen verbykomkans nie.

Oefening of spieraktiwiteit is kardinaal om byvoorbeeld beendigtheid te bou van die beskikbare dieetkalsium en magnesium (wat ook maar skaars is in ons moderne dieet is).

Oefening is kardinaal om bv. streshormone te ‘verbrand’ wat andersinds amok maak in jou lyf. Fisiese oefening beïnvloed selfs hoe goed ons kan leer. Hoe goed die informasie vasgelê word in die brein nadat ons blootgestel is daaraan.

Oefening is ook ‘n natuurlike eetlusdemper (mits jy nie verslaaf is aan energie-drankies nie).

As jy moeg voel deur net te dink aan die herorganisasie in jou program om plek te maak vir oefening – dan gaan jy MAL wees oor hierdie oefentegniek. Dis eintlik nie ‘n oefening nie – eerder ‘n oefen-BROKKIE.

Dit werk so.

Daar is tot dusver 5 ‘vervoerders’ geïdentifiseer wat glukose of bloedsuiker uit die bloedstroom verwyder. Een hiervan – genaamd GLUT4 – is primêr aktief in jou spiere en vetweefsel.

GLUT4 is egter BAIE sensitief vir insulienvlakke en insulienweerstandigheid en verander vinnig van ‘n lekker groot 20 sitplek bus na ‘n klein sleepwaantjie as bloedsuiker en insulien begin wipplank ry. (Onthou – stres en min slaap dra ook hiertoe by!)

Die gevolg van ‘minder’ GLUT4’s is dat selle nie die glukose kan opneem en gebruik nie. Omdat die liggaam dan nie die energie kan gebruik nie, word dit in die lewer omgesit in vet. Dan word dit gestoor in die rol om jou middel en jou boepie groei al groter -al is jy nie swanger nie!

Jy kan egter jou GLUT4’s  aktiveer – dit weer verruil vir ‘n 20 sitplekker en sodoende jou liggaam help om hierdie bose kringloop te stuit.

Só moet jy maak

Sit of staan en konsentreer. Miskien moet jy dit doen waar niemand jou sien nie maar dit kan ook as effektiewe afskrikmiddel gebruik word…

Trek al jou spiere wat jy kan saam: byt op jou tande, druk jou arms styf teen jou lyf, maak jou hande kloue, trek saam jou boudspiere en maagspiere, bo-beenspiere en kuite. Knyp jou tone. Jy moet amper begin bewe en rooi word in jou gesig.

Probeer dit so hou vir 1 minuut. Moenie jou asem ophou nie –jy mag asemhaal. Ontspan dan!

Jy sal nie glo hoe goed jy so paar minute na hierdie oefenbrokkie kan voel nie – en as jy dit kan regkry om dit ‘n paar keer op ‘n dag te herhaal, help jy jou liggaam ontsnap uit die bose kringloop van honger, ‘cravings’, te veel eet en vet-word wat deel is van insulienweerstandigheid.

Maklik genoeg? Laat my weet wat dit vir jou doen en besoek gerus www.betereet.net vir nog beter brokkies.

Mariza van Zyl RD
Kliniese Geregistreerde Dieetkundige
Bettereat op Facebook

www.bettereat.net