Dís hoekom jy nie gewig verloor nie + Eetplan

Deur Lydia van der Merwe, SARIE GESOND Winter 2011

Dís hoekom jy nie gewig verloor nie + Eetplan Foto’s: Donna Lewis Galery

Jy doen als reg, eet byna niks, maar verloor nie gewig nie? Dalk is dit ’n simptoom van ’n suiker- en insulienwanbalans. Hier is vir jou ’n spesiale eetplan, saamgestel deur die dieetkundige Mariza van Zyl

Dis ’n epidemie, sê die kenners. Hulle is baie bekommerd, want diabetes neem wêreldwyd toe en een uit vyf mense word deesdae daarmee gediagnoseer.

Ons praat spesifiek van nie-insulienafhanklike (of tipe 2) diabetes. Die ouer suster daarvan is oorgewig of vetsug.

Ons weet nou al oorgewig is ’n mediese toestand met ernstige gevolge – veel meer as net hoe jy lyk.

Navorsers wat probeer om gewigstoename te verstaan, laat val die kollig die laaste dekade of wat op insulien-weerstandigheid.

Dis wanneer jou lewerselle, vet en spiere “weerstandig” raak teen die werking van insulien. Dis ’n simptoom van ’n “wanbalans” of iets in jou liggaam wat nie reg werk nie, eerder as ’n siekte. Jou gene speel verseker ’n rol in die ontwikkeling daarvan. Saam met onder meer jou eetpatroon, lewenstyl, soos streshantering, en hoe aktief jy is.

Gewigstoename dra by tot insulienweerstandigheid, wat jou op sy beurt nog meer gewig laat aansit – ’n bose kringloop. Sowat 80% van oorgewig mense is insulien-weerstandig. Albei toestande is deel van die sogenaamde “metaboliese sindroom”. Dis ’n versamelnaam vir drie of meer van die volgende mediese toestande wat saam voorkom: hoë cholesterol en/of ander bloedvette, hoë bloeddruk, abnormale bloedsuikervlakke, ’n boepie of groot middelmaat, en insulien-weerstandigheid.

Al hierdie dinge vergroot jou kans op diabetes. (Ander risiko-faktore sluit in ’n familiegeskiedenis van die siekte en ’n gebrek aan oefening.)

Die eerste teken van insulienweerstandigheid is dikwels ’n hardnekkige vetlagie om jou maag. Dit skei chemiese stowwe af wat stilletjies jou metabolisme omkrap. Insulien – oorgewig... pre-diabetes – diabetes...

Hoe werk dit?

Jou liggaam vervaardig insulien om te verseker dat glukose (afkomstig van veral koolhidrate, stysel en suiker in kos) deur jou selle opgeneem en vir energie gebruik word. As jou selle weerstandig is, “blokkeer” dit die insulien se werking. Jou liggaam vervaardig dan meer insulien en die vlakke daarvan in jou bloed styg. (’n Vereenvoudigde verduideliking vir ’n moeilike biochemiese proses.)

Jou liggaam probeer eers ander maniere om van die glukose (suiker) ontslae te raak – soos om dit in vet om te sit en te stoor. Jy sit dus gewig aan, veral om jou middel, en sukkel om dit te verloor. ’n Bloedtoets sal nou waarskynlik wys jou bloedsuikervlakke is bietjie hoog en jy kan met pre-diabetes gediagnoseer word.

Jy is nog nie ’n diabeet nie, want daar is genoeg insulien om jou bloedsuiker te beheer. Gaan die proses egter voort, vervaardig jou liggaam later te min insulien vir die bloedsuiker-beheerproses.

Jy kan ook soveel gewig aansit dat die beskikbare insulien later net te min is. Of ’n kombinasie daarvan. Diabetes word dikwels gediagnoseer wanneer jou vastende bloedglukosevlak hoër as die normale 5,5 mmol/L is. (Millimol per liter is die maatstaf vir die bloedtoets.)

Is ek insulien-weerstandig?

*Dit word met eenvoudige bloedtoetse bepaal.

*As jou middelmaat meer as 80 cm (vroue) en 94 cm (mans) is, is jou risiko groter. Maar navorsing wys etnisiteit kan ’n rol speel. By swartes vrywaar ’n dun middel ’n mens byvoorbeeld nie. Dis dus belangrik dat ’n dieetkundige of dokter jou diagnoseer.

*Nog gevaartekens is ’n boepie, knaende honger, probleme om gewig te verloor en dit af te hou, en bloedsuikervlakke wat wipplank ry. As jy jouself herken en/of met insulien-weerstandigheid gediagnoseer is, volg dié spesiale eetplan wat dieetkundige Mariza van Zyl saamgestel het.

Wat om te verwag

Jy kan die dieet volg so lank jy wil. Saam met omega 3-aanvullings (1 000 mg per dag), genoeg rus en matige oefening sal dit help om jou insulien/bloedsuiker-wanbalans te herstel. Al wys die skaal dalk nie dadelik iets nie, kan jy wel sentimeters verloor: soms baie gou, maar beslis van die derde week af. Jou mikpunt moet wees om veral sentimeters om jou middel te verloor. Dinge soos ’n trae skildklier, baie stres of slapeloosheid kan dit moeiliker maak. Kry hulp daarvoor en begin met ’n besoek aan jou dokter.

ONTBYT

Eet die eerste 2 weke voor ontbyt ’n pomelo. (Dit kan help om jou aptyt te beheer.) Kies daarby een van die volgende 7 ontbytplanne. Eet verkieslik tuis of op pad werk toe, nie eers by die werk nie.

1.  Tuis-kos

• 1 k (250 ml) ongegeurde laevet-jogurt
• ½ k (125 ml) vrugteslaai
• 2 rog-kraakbeskuitjies
• ½ avokado

2. Pad-kos

• 1 houertjie (175 ml) ongegeurde laevet-jogurt
• 1 groot appel
• 1 e (15 ml) rosyne of 1 t (5 ml) heuning
• 10 amandels

3. Warm pap

• ½ – 1 k (125 – 250 ml) gaar hawermout
• 125 ml laevet-/vetvrye melk
• 2 stukkies droëmango, of 2 halwe droëperskes of 4 halwe droëappelkose. Snipper en kook dit saam met hawermout.
• 10 amandels

4. Vrugteskommel

• 1 k (175 – 250 ml) ongegeurde laevet-jogurt
• 1 piesang
• 1 appel of koejawel of pynappel
• ¼ k (80 ml) hawermout
• 10 amandels
Versap alles en drink stadig

5. Naweek-ontbyt (nou en dan)
• 1 sny (30 – 40 g) growwebrood, gerooster – verkieslik ’n “nat” brood of een met groot gate
• 1 eier, gekook of geposjeer of geroer
• 1 tamatie, gebak of rou
• 1 houertjie (175 ml) ongegeurde laevet- of vetvrye jogurt
• 10 amandels
• 1 t (5 ml) heuning (opsioneel) .

6. Rou hawermout

• ¼ k (80 ml) gestoofde vrugte of 1 gestoofde appel
• 175 ml laevet- of vetvrye jogurt
• ¼ k (80 ml) geroosterde hawermout
• 1 e (15 ml) geroosterde amandels

7 Oupa-ontbyt

• 1 k (250 ml) gaar mieliemeel (kies die growwe een)
• tamatie-en-uiesmoor (125 ml)
• 2 e (30 ml) biltong of 1 dun snytjie kaas (30 g)
• 125 ml melk vir tee of koffie

Smelt kaas bo-oor pap en smoor.

VERSNAPERINGE

Eet een keer per dag:

Verpligtend 1 vrug en 10 amandels

Opsioneel Hand vol springbokof ander wildsbiltong; rou wortel of tamatie

Kies ’n ander tyd van die dag (soos laatmiddag) een van die volgende vier:

1 • ½ k (125 ml) laevet-melk
• 1 klein piesang of enige ander vrug
• 10 amandels

2 • 1 gebakte of rou appel of enige ander vrug
• 2 vol e (50 ml) laevet- of vetvrye ongegeurde jogurt
• 1 t kaneel

3 • 1 vrug
• 10 neute
• 100 ml versoete of ongegeurde laevetjogurt (nie kunsmatig versoet nie)

4 • 1 dun sny growwe saadbrood (30 g)
• 1 middelslag-piesang
• 1 e (30 mg) gerasperde wit kaas
• 1 t kaneel

Rooster die broodjie. Sny piesang, sit op broodjie en sit kaas bo-op. Mikrogolf 1 minuut. Sprinkel kaneel oor.

Om te drink

Rooibos, Engelse tee, goeie koffie, rooibos- of koffie-cappuccino: 2 – 3 k per dag. Vetvrye of laevet-melk na behoefte. 1 t suiker of 2 t heuning per dag word toegelaat, maar geen versoeter nie. (Jou palet soek dan steeds na iets “baie soet”.)

LIGTE MAALTYD

(Kan middag- of aandete wees)

Nes met ontbyt, is daar 7 opsies (sien verder in kopie). Kies ook telkens een van die groente-opsies – óf ’n rou groenteslaai óf ’n bakkie groentesop.

1.  ROOI-EN-GROEN SLAAI

• 1 rou tamatie
• 10 cm-stuk komkommer

Kombineer met een van die volgende:

• 2 t (10 ml) olyf- of kanola-olie
• 4 t pesto (10 ml) of ½ avokado

Opsioneel

basilie of pietersielie

Opsioneel

grasuie of agurkies

* Die slaai kan ook gemeng word met rys, lensies en noedelgeregte.

2.  GROENTESOP

genoeg vir 3 – 4 porsies

• 2 e (30 ml) groenteaftrekselpoeier
• 1 knoffelhuisie, fyngedruk
• 4 e (60 ml) olyf- of kanola of avokado-olie
• 1 x 800 g-blik geskilde tamatie
• pak (300 g) broccoli of blomkool of kool, gesny
• 2 groot wortels, gesny
• 1 liter kookwater
• 2 selderystingels, gekap
• bossie pietersielie, gesnipper
• sout na smaak

Roerbraai aftrekselpoeier en knoffel in olie. Voeg al die bestanddele behalwe die pietersielie en seldery by. Kook tot groente net-net sag is. Voeg pietersielie en seldery by, geur na smaak en laat staan vir sowat 5 minute.

Eet ook saam met ligte maaltyd

• 2 e (30 ml) wit, appel- of balsemasyn
• of ½ suurlemoen se sap
• of 100 – 175 ml ongegeurde laevet-jogurt

Meng die asyn, suurlemoen of jogurt met die slaai, of eet die jogurt net so.

SEWE OSPIES:

Kies een van die volgende 7 opsies, gekombineer met die slaai of sop, as ligte ete van die dag:

Keuse 1

• 1 k (250 ml) gaar basmatirys of bruinrys
• 1 gekookte eier (55 g)
 

Keuse 2

• 1 x 410 g-blik bone in tamatiesous (baked beans) of 1 groot patat (150 g)
• 1 gekookte eier of
1 gerookte of geroosterde hoenderborsie (90 g)
 

Keuse 3

• 1 x 410 g-blikkie lensies of keker-ertjies, of kook 1 k (250 ml) lensies

Kies een of meer van die volgende (jy kan almal kies) en meng met lensies of keker-ertjies
• ½ ui klein gekap
• 2 bruin pekeluie
• 2 agurkies

• 4 pikantrissies

• 3 – 4 ingelegde of geweekte songedroogde tamaties of soetrissies
• ¹/³ wiel feta-kaas
 

Keuse 4

(Hierby hoef jy nie ’n groente-opsie te kies nie)

• ½ pak (200 g) wortel-enkoolslaai gesny, klaar gewas
• 2 e (30 ml) rosyne
• 1 e (15 ml) pekanneute, gekap
• ½ (125 g) bakkie vetvrye maaskaas, gemeng met 2 t (10 ml) mayonnaise
 

Keuse 5

• 4 rog-kraakbeskuitjies
• 1 avokado of ½ – 1 blikkie tuna (in water) gemeng met
• 2 e (30 ml) laervetmayonnaise
 

Keuse 6

• 1 k (250 ml) gaar skulpnoedels
• ½ k (125 ml) gestoomde ertjies
• ¹/³ wiel feta-kaas
 

Keuse 7

• 1 groot aartappel (170 g – 200 g)
• ½ bakkie (125 g) vetvrye maaskaas
• ½ k (125 ml) fyngekerfde biltong of 2 e (30 ml) fyn biltong

HOOFMAALTYD


 

Instruksies: Begin die eerste twee weke jou hoofmaaltyd met 1 glas water en die sap van ½ suurlemoen of 1 e (15 ml) appelasyn of die vars sap van ½ pomelo.

As jy dit nie kan verdra nie, drink ’n koppie kaneeltee.

Die etes is as volg saamgestel:

  • Minstens 1 porsie (1 k) groen groente: broccoli, spinasie, groenbone; en ’n porsie (1 k) ander groente: sampioene, tamaties, wortels.
  • ’n Klein porsie stysel- of styselgroente: basmati- of bruinrys (½ k gaar); aartappel (1 middelslag); patat (1 middelslag); botterskorsies (2 dik skywe); mielies (1 middelslag). Dis altyd kleiner as jou groenteporsie. Eet meermale styselgroente en minder pasta en ander verwerkte graanprodukte soos koeskoes, brood en witrys.
  • ‘n Lekker porsie gehalteproteïene met min vet – liefs net 2 keer per week rooivleis.
  • Olyf-, of avokado- of kanola-olie (ongeveer 10 – 15 ml per persoon) en kruie en speserye om kos mee te geur of te berei. Of ½ avokado per persoon.

Hoeveelheid:

Kies een van die volgende 5 geregte. Dis genoeg vir 2 volwassenes en 2 kinders, of 4 volwassenes.

Jou deel:

¼ van die gereg. As daar oorskiet is, kan jy ook ¼ vir môremiddag bêre.

1. HOENDERGEREG MET GROENTE OP RYS

• 30 ml olyfolie
• 2 t (10 ml) paprika
• 2 groot uie, gesny
• 2 groot groen soetrissies, gesny
• 6 groot vellose hoenderborsies, in blokke gesny
• 1 x 800 g-blik geskilde tamaties
• 500 g murgpampoentjies, in dun ringe gesny
• takkie roosmaryn
• sout na smaak

Braai paprika in olie, voeg uie en soetrissie by. Sit eenkant.

Braai hoender tot byna gaar.

Gooi tamatie (gesny), murgpampoentjies, roosmaryn en gebraaide uie en groenrissie by.

Kook vir sowat ½ uur. Sit voor op bruinrys.

(Jou porsie rys: ½ koppie gaar bruinrys.)


2. VIS EN TJIPS EN GROENTE

(Bak vis ongeveer 15 – 20 min by 200°C.)

• vars of bevrore vis (700 g-boks)
• 50 ml olyfolie
• 2 t (10 ml) fyngedrukte knoffel
• 750 g-pak bevrore tjips vir oondbak
• 50 ml wit of bruin balsemasyn
• 4 middelslag-tamaties, in skywe gesny
• 1 x 300 g-pak broccoli-enblomkool- mengsel
• ½ k (125 ml) gerasperde kaas
• tamatiesous

Meng knoffel en 30 ml olie en bedrup vis. Bak saam met die tjips in die oond. Meng res van olie met asyn om tamatieskywe te bedrup. Stoom broccoli en blomkool. Gooi gerasperde kaas bo-oor en smelt in oond. Sit vis voormet varsgekapte pietersielie en peperwortelsous, skyfies met tamatiesous na smaak en groente.

(Jou porsie tjips: 110 g, of ’n sewende van die pak.)


3. EENSKOTTEL-GEREG

• 4 groot varktjops – alle vet verwyder
• 2 e (30 ml) sojasous
• 2 e (30 ml) soet brandrissiesous of heuning
• sap van 1 suurlemoen
• vars gemmer (opsioneel)
• 4 middelslag-patats, geskrop en in 1 cm-ringe gesny
• ½ kool, gesny
• 250 g sampioene
• 2 groot uie, in kwarte gesny
• 2 e (30 ml) olyfolie

Marineer vark vir so ½ uur in mengsel van soja- en rissiesous, suurlemoensap en gemmer (indien gebruik). Pak al die bestanddele in ’n oondbak en bedrup met olie. Voeg ¼ k water by, bedek en bak by 180ºC vir 45 – 60 minute of tot vleis en groente sag is.

Rooster dan ’n paar minute oop tot vleis verbruin.

4. MEXIKAANSE WRAP

• 1 e (15 ml) olyfolie
• 2 t fyngedrukte knoffel
• paprika
• 2 groot uie gekap
• 500 g ekstra-maer maalvleis (verkieslik volstruis)
• 1 groot avokado
• sap van ½ suurlemoen
• sout en peper
• 500 ml ongegeurde jogurt
• 6 groot tamaties, in blokkies gesny
• ½ Engelse komkommer, in blokkies gesny
• 1 x 410 g-blik bone in tamatiesous (baked beans)
• 1 pak tortilla-wraps

(gewoonlik 6 – 8 in pak)

Verhit olie en roerbraai 1 t knoffel, paprika en 1 ui. Voeg maalvleis by, met ’n bietjie water indien nodig, en stoom tot gaar. Druk avokado fyn en meng met suurlemoensap, sout en peper na smaak. Meng komkommer met jogurt en 1 t knoffel. Meng tamatie en ander ui. Bedek mengsels en sit in yskas tot etenstyd. Maak wraps in mikrogolfoond warm. Skep 3 e warm maalvleis, 2 e avokado, 4 – 6 e komkommer jogurt, 2 e tamatie-en-uieslaai en 2 e blikkiesbone in wrap. Rol toe.  

(Jou porsie: 1 wrap.)


5. BRAAI

• heel hoenderstukke (4 dye en 4 boude, of 8 dye)
• 4 – 6 mielies of aartappels, gekook
• 4 – 6 uie, in foelie in kole gebak

Slaai

• 200 ml room met verminderde vet
• 50 ml suurlemoensap
• 500 g groenbone, gekerf en gestoom tot nét liggroen
• 2 appels, in blokkies gesny
• ½ k(125 ml/100g) pekanneute, gekap
• 3 selderystingels, gekap
• 3 grasuie, gekerf
• slaaiblare na keuse

Hoender: Braai vleis oor kole.

Slaai: Meng room en suurlemoensap vir suurroom na smaak. Meng res van bestanddele en skep op blare. Drup suurroom oor.

Sit voor met vleis, uie en aartappel of mielie. 

(Jou porsie mielie of aartappel: 1)


6.  KERRIE EN RYS

• 2 e (30 ml) olyfolie
• 15 ml kerrie-puree (pasta) of breyani-kerriepoeier
• 1 t fyngedrukte knoffel

• 2 groot uie, gekap

• 500 g beesvleisblokkies sonder vet
• ½ k (125 ml) rou lensies
• 2 lourierblare, 2 naeltjies en 1 kaneelstokkie
• 2 groot wortels, gesny
• 250 g vars of 3 k bevrore groenboontjies
• sout na smaak
 

Rys

• 2 k (rou) Basmati-rys
• 2 t sout
• 4 k kookwater

Rys: Meng alles en mikrogolf vir 12 minute op hoog.

Kerrie: Roerbraai kerrie en knoffel in olyfolie. Voeg uie en ná ’n paar minute vleis by. Verbruin vleis en voeg dan 500 ml water, lensies, lourierblare, naeltjies, en kaneel by. Prut en voeg ná 10 minute
wortels en groenbone by. Kook nog 5 – 10 minute tot bredie lekker geurig is. Gooi water by indien nodig en kook tot lensies heeltemal pap en sag is. Sit voor op rys.

(Jou porsie rys: ½ k gaar rys.)


NAGEREG

 
Bederf jouself saans met ’n blokkie donkersjokolade wat in 125 – 200 ml warm, laevetmelk gesmelt is en met ’n bietjie kaneel gegeur is. Of kies vir nagereg vrugte en miskien ’n lepel vla.

WYN

’n Glas wyn per dag is nie doodsonde nie. Bly weg van “soet” alkohol soos soetwyn, sider en  mengeldrankies.

 Vir hulp: Bel Mariza van Zyl by 021 872 8423 of besoek haar webblad www.betereet.co.za.

Kommentaar

  • Enjoy your blog ) my blog

    9de Mei. 2013, 11:37
  • EK VIND DIT BAIE INTERESANT EN SAL GRAAG DIE RESEPTE VIR HOE COLESTROL WIL HE

    8ste Apr. 2013, 19:13
  • Ek moet dringend iets doen. Hoë cholestrol , maar medies wil nie vir die pille betaal nie. Help asb. met pille se naam. eK moet gewig verloor maar eet alreeds te min ??? Wat gaan met my aan. ?

    28ste Mar. 2013, 16:07
  • Ek is insulien werstandig en wil graag weet - Kan ek 'n lys kry van kos wat nie moet eet nie, en wet ek kan eet?

    16de Mar. 2013, 11:04
  • Help asseblief. My man is gediagnoseer met ureter kanker en sy linkernier moet verwyder word om verspreiding te keer. Wil graag weet of julle my kan help met riglyne van tipe voedsel wat ek vir hom kan gee om sy ander nier gesond te hou en ook om te help dat hy gewig verloor. Hy het in 2009 'n pasaangeër ontvang en as gevolg van die skok het hy ook diabetes geraak. Die diabetes is nie erg nie - sy suiker toetse wissel tussen 5.00 tot 5.7. Hy gebruik medikasie vir hoë bloeddruk en cholosterol. Ek weet regtig nie waar om te gaan soek vir die regte tipe voedsel soorte nie. Weet net hy mag nie meer baie proteine inneem nie, want dit is nadelig vir sy niere. Gaan dit dalk moontlik wees dat u dit vir my epos of laat weet in watter uitgawe van Sarie die riglyne sal verskyn. Baie dankie vir die hulp Groete Stef

    26ste Feb. 2013, 13:38
  • hallo ek wil net weet of daar iemant daar buite is wat my kan help om gewig te verloor. ek het al alles probeer ma kry dit nie reg om dit af te kry nie. ek sal dit af kry ma dan sit ek dit net weer op. ek weet dus nie waar ek my vout maak nie, so ek soek hulp al is dit net n maklike en goedkoop diet plan wat ek kan volg en so ook wat my man en dogtertjie kan saam eet.(en hy hou baie van sy vleis en lekker eet)

    25ste Feb. 2013, 16:06
  • Goeiemore Het u nie dalk vir my 'n eetplan vir 'n hoë bloeddrukleier nie. Baie dankie.

    25ste Feb. 2013, 10:18
  • Baie dankie vir die insiggewende inligting. Wil graag vir u inligting vra i.v.m. my kleindogter, 10jr oud. geweldig oorgewig. Sou ook op die program kan gaan sou ons haar Inselien weerstandigheid laat toets? Hoor graag van u. Stuur asseblief u e-pos na my persoonlike e-pos adres. estellesvdl@gmail.com Byvvoorbaat dankie Estelle van der Linde

    3de Feb. 2013, 20:33
  • EK WIL NOU IETS SNAAKS VRA. EK IS NIE HARDLYWIG NIE, MY MAAG GAAN NET NIE SELF NIE KAN DIT VEROORSAAK DAT MENS GEWIG AANSIT A.G.V JOU MAAG WAT NOOIT WERK NIE. (EK DINK NOGAL SO)

    30ste Jan. 2013, 10:44
  • Middag Kan julle nie so gaaf wees om die eetplan aan my te EMAIL NIE. Dankie by voorbaat Pieter

    27ste Jan. 2013, 14:22
  • Hi ek is 25 ek is te skaam om te se hoeveel ek weeg ek het on langs uit gevind ek het insulien weerstand ek so erg gehuil ek ht I'm een week 8kg op getel en in maand 20 ek weet nie meer nie ek kort hulp en gou ek wil gesond wees ek sal enige iets proebeer ek wil net nie so erg oor gewig wees nie ek ek ook nie mamma word nie want ek erg oor gewig help as iemand kan

    8ste Jan. 2013, 10:12
  • My seun was in n motor ongeluk, sy milt is verwyder en daarna is n stuk van die pankreas verwyder, hy moet op n low fat dieet gaan , wat kan julle aanbeveel, hy het nof insiluun wat afsky hoor graag van julle.

    4de Jan. 2013, 09:02
  • Ek is ook diabetes 2 - my gewig is reg (het die die resepte gebruik - baie dankie) maar ek het baie spiermassa verloof - wat se tipe oefening moet ek doen (my bene baie maer) of is daar dalk ander raad

    13de Des. 2012, 11:08
  • Ek is 'n diabete sal dit vir my help

    3de Des. 2012, 11:45
  • Ek is ook gediagnoseer met inulienweerstandigheid sowel as 'n onderaktiewe skildklier. Gaan beslis die eetplan probeer. Hoop die keer werk iets!

    20ste Nov. 2012, 16:34
  • ek is n diabeet insulien afhanklik en drink ook medikasie vir diabetes, ek het sedert jan 2012 nadat ek op hierdie medikasie gesit is ongeveer 40kg in gewig opgetel en ek eet 100% korrek,my voete het begin brand en het n dooie gevoel in....my suiker is onder beheer en is nooit meer as 6 in oggend of aand nie,maar ek kannie hierdie opgeblase gevoel meer hanteer nie en medici antw my net dit is wat insulien doen ek spuit 35ml kortwekende 2x per dag 35 ml langwerkenkend saans maar drink nog 2x 500 mg metaformin 2x per dag asook 2 glyglazide 2x per dag...verder moet ek 160mg lasix soggens en 160 mg saans drink asook 5mg unat....eks altyd moeg,het vreeslik pyn oor my lewer pankreas gedeelte[bo my middellyf]...sal so waardeer as u raad het

    19de Nov. 2012, 19:50
  • Dis ek,gaan nou vir my Antagolin kry. Kan dit wees dat my bloedsuiker na 2 enkel whisky's so laag val dat ek n geweldige kopseer kry.

    6de Nov. 2012, 13:10
  • Hester het gesê: Hallo almal, sjoe watte styd lê vir my ook voor. Ek is so bly om te sien ek is nie alleen wat die stryd gaan aanvat nie. Ek is ook insulienweerstandig en moet ook gewig verloor om swanger te kan raak. Ek is nou baie positief en glo met Liewe Jesus se hulp gaan ek defnitief gewig verloor en my baba gaan defnitief vir my gegee word. Hou moed mensies ons sal bo uit kom.

    30ste Okt. 2012, 11:02
  • Ek gaan dit beslis probeer.

    25ste Okt. 2012, 15:30
  • Wat kn ek drink vr insulien

    21ste Okt. 2012, 20:58
  • Mimmie, die pille se naam is: MNI se AntaGolin

    17de Okt. 2012, 16:56
  • Ek is 27 jaar oud en weeg 103kg ek is insullien weerstandig en het 'n trae skildklier. Ek drink glucophase 3 keer 'n dag asook een skildklier pil. Ek hou nie van water nie. Ek sukkel om swanger te raak en infertiliteits dr se ek moet eers gewig verloor. Ek kan net nie reg eet nie het die heeltyd lus vir verkeerde goed! En later gee ek moed op. Ek wil so graag swanger word maar is nie sterk genoeg om die ding reg te kry nie elke 2 weke moet ek bloed toets en dit bly op gaan! Is moedeloos hulle se pille gaan help maar dit doen nie!!!!

    3de Okt. 2012, 08:20
  • Ek is ook gediagnoseer met insulienweerstandigheid en het al alles probeer niks help nie het nou al 19kg op getel het nou een aand op die tv n add gesien wat hulle pille atverteer juis vir my geval maar kan nie die pille se naam gekry het nie en sit nou elke aand voor die tv om te kyk of hulle dit weer antv as daar iemand is wat dalk weet wat dit was en die naam het wil jy my nie GROOT asb laat weet wat dit is nie asb Die probleem maak my deppreset asb daar by kry ek nog glude ook en kan niks daarvoor gebruik nie asb asb help my

    27ste Sep. 2012, 13:59
  • Ek gan dit beslis probeer. Eks insulien weerstandig en pre diabetic. Sukkel baie met my gewig. Niks wil meer help ni. Danki vi die raad, Eks al raadop. Ek het ook gehoor behalwe vi Omg 3 kan mens ook Brewers yeast (wat chroom bevat) drink saam met magnesium complex. Is dit waar?

    30ste Aug. 2012, 21:47
  • Ek is insulien weerstandig, maar het ook n onderaktiewe sklidklier. Ek het vir 3 jaar gesukkel om gewig te verloor, maar met n onversadigbare lus vir soetgoed, kon ek niks verloor nie. Die oom lik toe ek stysel en suiker begin sny toe verloor ek die kilo's. Ek drink nogsteeds klein bietjie suiker in my tee en koffie maar dis al. Geen sjokolade meer nie. Baie vrugte en groente en baie baie water. En siedaar!

    30ste Aug. 2012, 17:42
  • Ek het 'n vriendin wat tipe 2 diabetes het, gaan dit defnitief vir haar stuur, alhoewel ek nie 'n diabeet is nie, het ek 'n hardnekkige boepie waarvan ek ontslae wil raak, ek gaan dit sommer ook self probeer.

    30ste Aug. 2012, 15:43
  • Het gister besluit dieet is vir die hase. Hierdie lyk na 'n gesonde, volhoubare eetplan. Dankie Sarie!!

    30ste Aug. 2012, 14:34
  • Kyk gerus na AntaGolin deur MNI, by www.mnilifestyle.co.za. Ek het sedert Mei 2012, al 12 kilogram verloor. Dit gaan nie oor dieet nie,maar om 'n gesonde leefstyl aan te leer en oefen speel 'n baie belangrike rol.

    30ste Aug. 2012, 14:31
  • Ek gaan dit beslis probeer. ek het in 2010 kolonkanker gehad en was baie siek ek het 25kg verloor in 1j se tyd en na my laaste gemo het ek binne 6maande weer 18kg opgelet en kry dit nie afgeskut nie, ek het ook n platmaag gehad toe ek siek was en nou het ek weer n maag en rolle, ek eet nie baie nie, het my lewe deur nog in n klein bordjie geeet.

    2de Aug. 2012, 09:47
  • Ek het ongeveer 45kg verloor toe ek diabetes gekry het in 30 maande, ek het die gewig konstant afgehou vir 3jaar en het van verlede jaar af weer begin optel en voel soos 'n wors in al my klere ek is so depresief daaroor, hoe werk dit dat mens soveel gewig verloor sonder enige poging om te probeer en nou kan ek weer geen beheer kry oor dit wat ek optel nie, is daar enige raad? My cholestrol is mooi en my skuldklier is ook normaal en ket 2weke terug bloedtoetse gedoen.

    27ste Jul. 2012, 13:14
  • Die hele gesin kan dit eet. Ons gaan dit doen en gesond eet. My dogter-hulle eet 4 keer per week vis, gebruik net olyfolie en eet net groente, soms vrugte en hulle het die ideale gewig en is gesond met genoeg energie. Geen brood , net provita, ens en gesonde eetgoed vir my kleinkind skool toe. Dit wat jy eet, is jy en jy kan jou gesond eet en gesond bly. Baie dankie vir die webwerfg. Dis puik.

    4de Jul. 2012, 07:56
  • Na my 3 babas kan ek net nie gewig verloor nie. My maag wil nie sak nie, gaan dit probeer.

    1ste Jun. 2012, 12:40
  • Ek gaan dit BESLIS pobeer!!!DAKI!!

    28ste Mei. 2012, 11:32
  • Ek dink ek Gaian dit ok prober en dink ek her n insulien problem. Mara Gaian my Evers last totes. Ek eet al reeds amper soos die diet met baie groente en vrugte Salam met oefening. Maar sukkel om gewig te verloor.

    27ste Mei. 2012, 18:36
  • Kan ek hierdie dieet volg as ek gediagnoseer is met Hoe Cholesterol. My LDL cholesterol vlak is 4.2. Ek soek baie dringend 'n gesonde cholesterol eeplan. Kan ek dit volg? Dankie

    23ste Mei. 2012, 12:53
  • Gaan nou dieet print en dit probeer. Ek sit met n probleem, die maag is groot en ek sukkel om gewig te verloor! Ek is al moedeloos, ek is 60 en sukkel steeds met gewig!

    20ste Mei. 2012, 19:47
  • Baie interssant en volgbaar. Nie so duur dat jou oë traan nie.

    20ste Mei. 2012, 17:48
  • EK IS 'N DIABEET. EK SPUIT MYSELF IN OGEND EN AAND IN MET INSULIEN. HET 'N BOEP WAT EK NIE WEG KRY NIE, HET OOK NIER VERSAKING KAN EK DIE RESEPTE GEBRUIK???

    10de Mei. 2012, 15:31
  • Klink baie belowend maar sit met groter probleem as net die insulienweerstandigheid waarmee ek onlangs gediagnoseer is - ek het ook al die afgelope 20 jr 'n pasaangeer en het ook nie galblaas - dus moet ek ook nog my ander toestande in ag neem met dieet - baie van die voedsel vir een toestand moet weer vir een van die ander vermy word en maak dit baie moeilik - en dan het elke toestand omtrent sy eie onderafdelings - dus het ek een groot stryd met kos oor die algemeen want baie van die kossoorte wat ek wel kan eet kry ek net eenvoudig nie gesluk nie - ek gee al omtrent moed op

    9de Mei. 2012, 18:24
  • My dogterjie is 5 jaar oud en insulin weerstandig,kan sy die selfde dieet volg en hoeveel omega 3 moet sy inkry. dnk

    20ste Apr. 2012, 13:52
  • Eet tans gesond, baie baie vrugte. Nogtans wil vetjies nie minder word nie. Sukkel met baie hoe (was 9.87 nou op 7,67met behulp van Rychol tablette) genetiese cholesterolprobleme. Gelukkig is bloeddruk laag. Baie stresvolle werkslewe wat my soms van my oefening weghou waarvoor ek so lief is. Dus is ek tans redelik raadop en wil graag iets doen aan my gewig. Hierdie dieet sluit alle kosse in wat ek gewoonlik geniet, alhoewel my hoeveelhede en balans heeltemal uit verhouding is. Graag probeer ek hierdie 'dieet"' alhoewel ek nie diete volg nie net maar minder verkeerde kos probeer eet.

    9de Apr. 2012, 10:26
  • Ek is vandag met insulienweerstandigheid gediagnoseer,juis omdat ek die afgelope jaar omtrent 10kg opgetel het en dit maak my uiters depressief.Ek gaan beslis hierdie eetprogram op die proef stel.

    28ste Feb. 2012, 21:42
  • Metformin twee maal per dag het wonders vir my gedoen....met of sonder dieet....

    12de Feb. 2012, 18:12
  • ek is baie dankbaar om op die wonderlikke webwerf te kon afkom. ek was opsoek na 'n kerrie wortel slaai resep en ek kry dit nerens nie. kan iemand asb vir my 'n lekker kerrie wortelslaai wat mens kan bottel - resep na my email asb. my email nr is venterbelinda1@gmail.com. ek sal so baie bly wees. ******************************* ek is 'n diabeet en ek wil net se baie dankie vir die wonderlikke resepte dit gaan my baie handig te pas kom. baie dankie aan Sarie.

    3de Okt. 2011, 16:30
  • Ek hou van al die resepte, maar glo my,a al wil ek, kan ek nie so baie eet nie, ek sal die pap ding doen in die oggend, n eier en graanbrood met tamatie in die middag en vannand maar net minder eet as manlief, maar ek glo mens moet nog steeds BAIE water ook inneem, en oefen, ek oefen 4 keer n week, water arobiese oefeninge en dis fantasties, ek is nie baie oorgewig nie, wil net so 7kg verloor, dan is ek gelukkig. ps is 62 jaar oud en weeg 62kg op die oomblik het altyd baie goed gelyk op 57kg.Groete en dankie vir n wonderlike tydskrif......,G

    28ste Sep. 2011, 11:24
  • Baie dankie vir die menu ek wil dit baie graag na volg maar het nie `n printer by die huis om dit uit te print nie. Hoe kan ek maak om dit net na my eposadres te stuur dan kan ek van dit af werk of na iemand anders stuur om dit vir my uit te "print".

    6de Sep. 2011, 13:39
  • Het ook gehoor klein-aartappeltjies is 'n beter keuse (lae GI), ook koue aartappels - soos in slaai - 'n beter keuse - is dit so?? Is die gebruik van fruktose 'n goeie opsie, i.p.v. suiker? dankie!

    4de Sep. 2011, 17:24
  • d

    1ste Sep. 2011, 21:40
  • NOU JA TOE, KOM ONS KYK WAT GEBEUR........ EKS 'N APTEEK ASSESTENT EN WEEG 127KG MET DIE HULP VAN 'N DOKTER VIR DAAI RELISLIM PILLE EN DIE KOS PLAN KAN ONS GAAN WERK.

    23ste Aug. 2011, 15:49
  • Die bestandele is dinge wat jy in jou huis het en daarvoor kan dit werk. Ek gaan sommer more begin werk hieraan en hopenlik so die vetjies afskud. Dit lyk na 'n baie gebalanseerde diet. Val sommer more oggend weg. Baie dankie Sarie - dit maak dit maliker om wel iets positief vir jouself te doen.

    21ste Aug. 2011, 18:33
  • Baie goed met lekkr resepte

    14de Aug. 2011, 18:30
  • Baie goed met lekkr resepte

    14de Aug. 2011, 18:30
  • Baie dankie vir die raad , sal beslis van dit probeer.

    22ste Jun. 2011, 07:00
  • Hallo Mart Louw (my Suster) het gevra of mens gewig gaan verloor, baie kos. sy het my na die webblad verwys want sy se dit doen wondere. Ek moet ook iets doen en die lyk definitief nie na dieet tog het sy verloor. Dankie

    10de Jun. 2011, 17:49
  • Nog 'n oulike webwerf is www.gifoundation.com

    26ste Mei. 2011, 10:39
  • Ek was onlangs gediagnoseer met insulien weerstandigheid. Ek het so gesukkel om 'n eetprogram in die hande te kry, toe vertel my suster my van die eetprogram op jul webwerf. Baie dankie aan my sus, Lise en dankie Sarie, dit lyk belowend!!!

    26ste Mei. 2011, 10:30
  • Gaan ek gewig verloor kos lyk bikki baie?

    24ste Mei. 2011, 21:10
  • Dieet vir winter

    18de Mei. 2011, 21:36
  • Goed, ek druk dit uit en volg dit maar: hoe gaan die hoeveelhede verskil van man tot vrou? My man is gediagnoseer met insulienweerstandigheid, so hy moet beslis hierdie program volg. Kan julle help?

    16de Mei. 2011, 13:15