Chorizowors-en-lensiesop

Chorizowors-en-lensiesop FOTO Micky Hoyle

Dieet

Eet sop en word maer

Nee, dis nie die alombekende “sop-dieet” wat elke jaar maar weer die ronde doen wat hier te sprake is nie. Geensins. Jy kan in elk geval nie daardie vreeslike afgewaterde sop, wat hoofsaaklik uit kool bestaan en wraggies herinner aan ’n strafkamp, vir meer as 3 dae oor jou lippe forseer nie. Buitendien, ’n paar hardnekkige kilo’s is straf genoeg …

Moet ook nie val vir die leë beloftes van vinnige gewigverlies nie. Die paar kilo’s minder op die skaal ná die sop-dieet is meestal kortstondig.  Dis onwaarskynlik dat jy vet verloor het, dis eerder spiermassa en water wat verlore gegaan het.

Ek wil jou so bietjie vertel oor lekker sop en hoe dit inderdaad ’n wonderlike en maklike hulpmiddel kan wees om jou die eerste hupstootjie te gee sodat jy uiteindelik daardie 5 kg wat al so lank sit, kan verloor.

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUN/JUL 2014

FOTO  Micky Hoyle
SARIE KOS JUN/JUL 2014

Dit werk so: 

Wintersop bied jou die gulde geleentheid om ’n groot verskeidenheid voedselitems op ’n smaaklike manier deel te maak van jou eetpatroon. Veral kosse wat jy nie noodwendig normaalweg eet nie. Voedselsoorte wat elkeen uniek voedsaam is, soos verskillende groentesoorte en dalk ’n nuwe graansoort.

Wintersop is ook die ideale gereg vir die gebruik van speserye en kruie wat dikwels metaboliese wonders is. So is borrie is iets wat elke mens weekliks behoort te eet – en ’n lekker winter-kerriesop is ’n makliker manier om dit in te kry. Borrie help bevorder natuurlike hormoonwerking,  verminder inflammasie, het kankerwerende eienskappe en kan selfs die vorming van nuwe vetselle help verminder. Daar is nog heerlike kruie en speserye wat wonderlike metaboliese helpers is, soos brandrissie, kaneel, naeltjies, knoffel en pietersielie. Die “warmte” van die bakkie sop het meer te bied as net die gevoel van warmte. Speserye is dikwels metaboliese verwarmers, of versnellers.

Een van die groot voordele van ’n bak sop is dat jy so lekker vol voel. Die rede hiervoor is natuurlik die uitwerking wat volume op die honger/versadigingseine in die liggaam kan hê en het min te doen met die inhoud van die sop. Die oomblik dat die maag rek met die volume van ’n sowat 300 ml-bakkie sop, gaan die sein brein toe en word chemiese stowwe wat versadiging aanhelp, afgeskei. Dít gebeur natuurlik nie as jy probeer “versadig voel” deur te knibbel aan ’n halwe piesang of paar tamaties en ’n stukkie kaas nie.

FOTO: Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Langer vol voel of tevrede voel ná jou maaltyd is faktore wat egter ook beïnvloed word deur jou soort sop, bedoelende die proteïen-, vet- of koolhidraat-inhoud van jou sop. Elkeen van hierdie komponente speel ’n groter of kleiner rol by verskillende mense. Sommige ouens voel sommer gou lekker as hulle meer vetterigheid geëet het, terwyl ander regtig die koolhidrate nodig het om “versadig en verkwik” te voel.

Jy behoort nou saam te stem dat sop waarlik ’n potensiële allesdoener (allrounder) is as dit kom by honger, versadiging en seine tussen die lyf en die brein en jou metabolisme. Maar daar is ’n laaste faktor wat aandag verdien, naamlik die sogenaamde “verdunningseffek” en hoe dít baie belangrik is as jy sop wil gebruik as hulpmiddel om ’n paar kilo’s af te skud.

Dit werk so: Dit maak nie saak wát jou manier van eet is nie, as jy nie minder energie inneem as wat jou liggaam gebruik nie, kan jy vergeet om gewig te verloor. Ja, die manier waarop jy “minder” eet, kan wissel van mens tot mens. Jy kry dit miskien reg met Banting, iemand anders vas intermitterend (intermitting), of nog iemand anders eet kleiner porsies – maar minder moet dit wees.

Sop kan hier help. Dink maar: Jy gooi ’n houertjie room in ’n pot sampioensop, maar kan 8 porsies uit die pot kry. Dit is net 30 ml room per persoon, of 2 eetlepels. Dis gelykstaande aan sowat 10 g vet of 2 teelepels botter. Min genoeg, en as jy bant maak dit natuurlik nie saak nie. Of 1 blik klapperroom in ’n romerige Thaise sop. Nou lewer die pot van 8 porsies net 50 ml per persoon, en dis nie eers 10 g vet nie.

Dis bietjie moeiliker om die hoeveelheid koolhidrate in die sop te reguleer.  ’n Paar drywende bone in ’n vaal sop herinner te veel aan koshuiskos, en daar’s min dinge so simpel soos ’n dun ertjiesop. Maar wanneer jy slim sop kook met groentesoorte soos gerasperde kool, wortel, seldery en rape wat jou bone of ertesop volume kan gee, of met murgpampoentjies (courgettes), broccoli, blomkool of sampioene wat lekker puree maak, sal selfs die byvoeging van ’n aartappel of patat of twee geensins jou sop in ’n “hoëkoolhidraat-taboe” verander nie. Jy het steeds smullekkerte vir relatief min kalorieë.

En soos ek gesê het, minder kalorië is ongelukkig gewigverloor se beste maatjie.

Wil jy graag meer weet? Like my op Facebook/bettereat en ook by Twitter/BetterEat en volg my elke dag se betereet lekker inspirasie by Instagram bettereat.betereet.

Lees my tweede blog oor slim spesery-soppe en ’n strategie om jou metabolisme te verbeter.

Groete,

Mariza

Mariza23 copy

– Geregistreerde dieetkundige Mariza van Zyl. In haar nuwe boek, Dik vir dieet (Naledi, R245), beantwoord sy onder meer vrae wat sy gereeld hoor.