sr0801kos_7_small
Dieet

Eet uit – sonder om gesond eet-voornemens te kelder

Dis jammer, maar waar: As jy uiteet, is dit nie maklik om gesond te eet nie. Veral nie as jy kyk hoe goedkoop sekere kitskosse is nie! Om by geleentheid te oortree is deel van die lewe. Soos op vakansie as die kinders die motor se neus na ‘n kitskosrestaurant draai. Dis moeilik om ‘n braai-restaurant se reuke te weerstaan as jy honger is. Maar dis nóg moeiliker om met die gevolge van ‘n slegte eetpatroon saam te leef – ook vir kinders.

Goue wenke

*Eet stadig! Goeie spysvertering begin in die mond en die spoed waarteen jy eet beïnvloed jou bloedsuikervlakke.

*Begin met ‘n slaai  – maar moenie nét dit eet nie. Jou maag moet ”rek” om vol te voel – die slaai is ‘n goeie begin.

*Vra vir ‘n maaltyd sonder skyfies. As dit nie op jou bord is nie, kan jy dit nie eet nie. Of deel dit met manlief, een van die kinders of ‘n vriendin. Eet een of twee – net vir die ”smaak”.

*Drink wyn of water, koffie of tee – liefs nie koeldrank nie.

Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za.