Dieet

Geen wilskrag nie?

Dis Maandag en jy begin “reg eet”. Jy het jouself dit immers belowe toe jy die afgelope naweek voor die kos-versoekinge geswig het. Teen Woensdag raak jou wilskrag minder. En teen Vrydag gee jy boedel oor. Jy het die stryd verloor. Al weer.

Jy is “wilskrag”-voos – en nie noodwendig omdat jy iets verkeerds gedoen het nie.

Onlangse navorsing onderstreep dit wat die meeste van ons weet: Jy kry dit reg om “nee” te sê – tot op ‘n punt. Die rede? Jou wilskrag word oor en oor getoets, want jou dieet pas nie by jou lyf en kop nie. Dit sluit ook nie jou kos-gunstelinge in nie. Net die mees gemotiveerde mens sal daarmee kan volhou. Kyk dus weer na jou benadering tot kos. Voel dit asof jy van die een versoeking na die ander steier? Dit word vererger as jy nie genoeg energie (kJ) inneem nie. Ook as jy nie ná ete iets eet wat jou suikertand bevredig nie. Jy kan maar, mits jy ‘n dieet volg wat uit die regte koskombinasies bestaan, as die kosse onverwerk is en met die regte kruie en speserye gegeur is. Gee jouself dus langer tyd om jou doelwit te bereik. En eet dan gesond – maar steeds lekker.

Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za.