ontbyt
Dieet

Gewigsverlies: ONTBYT is jou geheime wapen

Jy tel die kilojoules (kJ) en eet daarom nie ontbyt nie. Maar teen elfuur soggens loop jy die teetrollie Storm. Jy knibbel in die loop van die dag sonder om twee keer te dink. En eet jou vanmiddag en vanaand knuppeldik. Dan wonder jy hoekom jou dieet aanmekaar misluk.

Daar is ’n eenvoudige oplossing: Eet ontbyt.

Eet soggens soos ’n koningin. Smiddae soos ’n prinses. Saans soos ’n arm vrou. Jy het dit sekerlik al gehoor, maar doen dit nie, skryf dr. Luc Evenepoel in Dr. Luc’s Promise: Lose the Weight & Keep it Off (Penguin, 2012). Hy is ’n narkotiseur van Kaapstad wat deeglik navorsing oor gewigsverlies gedoen het.

Maar wie het nou tyd vir ontbyt as die kinders kos moet kry en die spitsverkeer geklop moet word? Jy het boonop gelees ’n kilojoule is ’n kilojoule is ’n kilojoule. Of jy dit nou soggens, smiddae of middernag inkry. Of dalk nie?

Verskeie studies wys mense wat ontbyt eet, is meermale maer. Hulle eet in die algemeen ook minder kilojoules in die loop van die dag, skryf dr. Evenepoel. Ongereelde maaltye laat jou metabolisme minder hard werk. (Jou metabolisme is soos ’n knetterende vuur, dit het goeie hout nodig om te brand.)

Die beplanning van jou maaltye kan dus selfs belangriker wees as om net die kilojoules te tel, gaan hy voort. Drie etes op ’n vasgestelde tyd, met ’n klein snoephappie met lae kilojoules tussenin sou jy dit wil hê, ook op ’n vasgestelde tyd, verminder jou kans om oorgewig te wees met 35%. (Eet iets kleins tussenin, ’n appel of ’n paar neute.) Mense wat ontbyt oorslaan, is aan die anderkant 4,5 keer meer geneig om vetsugtig te wees.

En eet jy ontbyt of aandete weg van die huis af, verdubbel jou risiko vir vetsug (weens die baie koolhidrate en vet in sulke kosse). Jou liggaam wil ontbyt en roetine hê, skryf hy.