Helene Horak
Dieet

Hélène se dieet-blog: “Ek het 70 kg verloor” – Deel 1

Hélène Horak (37), ’n tandarts van Centurion, het 140 kg geweeg. Sy het in September 2011 besluit om die helfte van haar gewig af te skud en dié reis met haar lyf aangepak. Lees haar dieet-blog eksklusief op SARIE.com

Lees die res van Helene se reis HIER in deel 2

Die Begin

Dis September 2011. Ek weeg 140 kg. Ek weet dit, want ek moes myself laat weeg vir ’n doktersondersoek. My ma het ’n baie erge tipe artritis wat ongelooflik aggressief is. Ek moes na haar rumatoloog toe gaan, want dis klaarblyklik nie normaal dat dit so moeilik moet wees om rond te beweeg nie. Ek is net 35 en is nie veronderstel om te sukkel om van die bank af op te staan as ek lank gesit het nie. Onder normale omstandigede het ek gewoonlik nie ’n idee hoeveel ek weeg nie. Ek besit nie eers ’n skaal nie. Ek dra tussen ’n 24 tot ’n 26 en dra ’n 44E- of EE-grootte bra.

Kyk, ek weet ek is vet, maar tot onlangs toe het ek volgens my geen gesondheidsprobleme gehad nie. Ek was in totale ontkenning oor hoe erg dinge geraak het. Ek was nooit vet op skool nie. Op die ergste mollig. Ek het eerstejaarsboude op universiteit ontwikkel en van daar af, ná 2 swangerskappe en 10 jaar, het dit net erger geraak.

Ek wou baie graag ander en myself oortuig dat ek heeltemal tevrede is met hoe ek lyk. Ek is nou maar net eenmaal ’n voller vrou. Ek hou van eet en geniet lekker kos. Niks maak my so gelukkig soos om heerlike kos te maak en mense te voer nie. Dis ’n vorm van liefde en omgee volgens my.

Maar die waarheid was dat ek die vroeë tekens van diabetes begin toon het. Ek het nooit geweet dat skin tags of katspeentjies op jou vel ’n teken was dat jy te veel suiker inneem nie en sterk op pad is om diabetes te ontwikkel nie. Ek het verskeie daarvan onder my arms, tussen my bene en op my keel. Ek kan nie eers ’n kettinkie om my nek dra nie weens al die katspeentjies. Ek ontwikkel goed wat soos pitsere lyk in die waaie van my bene as gevolg van die sweet, en daar is gereeld ’n swam-infeksie onder my te swaar borste. In die somer wil ek dood van die hitte en moet gereeld bekommerd wees oor sweetmerke onder my arms.

Ek hou dan nie van soetgoed nie en die souttert by die tee is ’n baie groter gevaar as enige koek. So hoe kan my suiker hoog wees?

Ek word ongelooflik kwaad vir my ma as sy enigsins net oor my gewig begin praat. Ek het nie ’n probleem nie en ek weier om te dieet of pille te drink, of nog erger, te oefen! As sy aanhou karring daaroor, eet ek sommer ’n pak tjips net om haar te wys. Ek is besig en het nie tyd om te oefen nie. En ek kon nog nooit langer as ’n week op enige dieet bly nie. Dieet-pille gee my gewoonlik hartpalpitasies of maak dat ek snags nie kan slaap nie. So, dis net uit, soos koekies in ’n weeshuis. Ek is net vet en mense soos my ma moet doodeenvoudig daarmee vrede maak.

Ek eet nie ontbyt nie en as ek middae by die huis kom, is ek so honger soos ’n wolf. Ek glo ek eet nie baie nie. Ek is mos honger en ek het nog die hele dag nie geëet nie. So ek mag myself met ’n pak tjips bederf. Ek maak dan aandete en skep vir myself gewoonlik meer as vir my man in. Ek is mos regtig honger. Ek maak gewoonlik die kinders se borde ook skoon, want ’n mens mors nie met kos nie. Dis mos net verkeerd.

My knieë pyn konstant en ek sukkel deesdae om my skoene vas te maak. Dis ’n stryd om teen my werk se trappe op te stap. Ek kan nie met my kinders speel nie. Ek is konstant uitasem en ek het refluks begin ontwikkel, wat ’n ongelooflike slegte manier is om in die nag wakker te word: besig om te verstik aan kos wat in die slukderm opstoot. Ek beveel dit nie aan nie, dit voel asof jy doodgaan. Ek snork vreeslik en ek vermoed ek het slaap-apnee.

My man is ongelooflik. Hy kyk na my en laat my soos ’n prinses voel. Hy is my hoërskool-liefde. En waar die wêreld en my familie volgens my soms wreed kan wees, laat hy my nooit vet of onaantreklik voel nie en dit is seker deel van my probleem. My probleem is dat ek vetsugtig is (obese), nie net mollig nie. En ek het gesondheidsprobleme, of ek dit nou wil glo of nie. Artritis is ’n wesenlike probleem en risiko, ek sien wat dit aan my ma doen. Ek weet ook dat as ek ligter weeg ek baie minder stremming op my gewrigte gaan plaas.  Wie gaan my kan optel as ek val? My arme man, wat net 85 kg weeg, staan nie ’n kans nie. Dit lyk konstant asof ek sy kos steel! Hierdie groot vrou en klein man!  Ek voel aaklig, groot en lomp. Ek is ’n hartaanval wat wag om te gebeur, ek is ’n pre-diabeet en om net weer normaal te lyk, moet ek minstens 70 kg verloor!

How do you eat an elephant?

Dis September 2011 en ek het besluit om ’n lewensverandering te maak. Let wel dat ek nie sê dieet en oefen nie! Ek gaan my hele lewe en verhouding met kos moet verander as ek hierdie berg wil klim.

Ek het aangesluit by die gym. My man het nog nooit vir my gesê ek is vet of my so laat voel nie, maar hy karring gereeld aan my om te oefen. Ek het uiteindelik ingegee. Ek wou in die verlede nie aansluit nie, want ek ken myself en weet dat ek vuur en vlam oefen vir ’n week en dan droog die lus op en ek sit met ’n kontrak vir twee jaar. Ek weier om weer geld in die water te gooi, so my kop beter reg wees.

Centurion-20120421-00138

Helene Horak op 140 kg

Die eerste dag in die gym is aaklig! Dit voel vir my asof almal vir my kyk. Ek sukkel op die oefenfiets, want my knieë kap my maag as ek trap en ek moet met sulke oop bene probeer ry. Dit voel asof ek doodgaan. Regtig, daar is ’n paar keer wat ek stop en eers my pols check om seker te maak dat dat my hart nog eweredig. Ek kry net-net 10 minute getrap en is vreeslik trots op myself.

Ek sal vir my ’n personal trainer moet kry, want ek het nie ’n clue wat ek doen nie. Die gym het ’n hele bord vol mense wat vreeslik ywerig jou wil help oefen en ek kies sommer die eerste een wat ek my oë op lê. Sy is lank en skraal en ek is seker dat sy nie ’n dag in haar lewe al vet was nie. Sy doen eers ’n toets waar sy min of meer net probeer agter kom wat ek kan doen en hoe onfiks ek is. Dis toe nou bitter min en baie onfiks. Ek verduidelik dat my knieë baie swak is en dat ek liefs nie moet hardloop nie, maar sy steur haar nie veel aan my nie. Ek vra ook of ons nie bietjie van die oefening in die swembad kan doen nie, want dis rustiger op die gewrigte. Sy kyk my aan asof ek van Mars af kom. Ek kan nie besluit of sy net nie verstaan dat 140 kg op reeds kwaai knieë ’n baie swak idee is nie, en of sy net nie omgee nie en dink dat hierdie vettie net vol verskonings is nie? Na die derde oefensessie waar sy my squats en lunges laat doen, besef ek hierdie vrou en ek gaan nie werk nie. Sy het nie ’n clue nie en sy gaan my breek. My knieë is geswel en pyn die lewende geloof uit my uit. My spiere is nie so seer as wat die gewrigte die hel in is nie. So, na my vierde oefensessie vat ek my oefenprogram, sê baie dankie en neem myself voor om net eerder self aan te karring.

vet foto

Helene Horak – 140 kg

Ek sny alle gaskoeldrank uit my dieet uit en ek begin deur vir my kos in ’n klein bordjie in te skep. Net ’n week van dit en ek is al klaar ’n kilo af. Ek is in ekstase!

My ma se pilates-instrukteur is baie oulik en my ma stel voor ek moet dalk saam met hom oefen. Hy is gebou soos ’n Griekse god en my moed sak weer in my skoene. Weer iemand wat geen idee het van seer gewrigte nie en wat die gevaar van te swaar boude en die impak daarvan op die kwaai gewrigte, dalk misken. Maar ek is aangenaam verras! Riaan is awesome. Ek is seer na die tyd, maar dis net my spiere wat protesteer en nie my gewrigte nie. Sy hele oefenprogram is eers gerig daarop om die spiere om die gewrigte te versterk en baie kardio-oefening te doen om die gewig af te te kry.

Ek eet nou ook vroëer in die middag reeds my aandete en ek sien dat dit ’n baie groot verbetering met my refluks gee. Ek het teen die einde van September 5 kg afgeskud! Ek kan regtig nie die verskil sien nie. Ek voel bitter mismoedig met hoe baie ek nog moet verloor.

Toe ek een aand, baie jammer vir myself met my kleinboetie, Eduard, gesels oor die vreeslike lang pad wat ek nog het om te gaan, sê hy ’n baie waar ding: “How do you eat an elephant?…One bite at a time!”

Hierdie groot lyf kom nie van gister af nie. Dit het my 10 jaar geneem om te lyk soo sek nou lyk. Ek kan nie nou haastig raak en wonderwerke verwag nie. Hierdie gaan tyd vat. Ek besluit om vir my klein doelstellings te stel, wat ek voel meer haalbaar is vir my. My eerste doel is om 10 kg voor Kersfees te verloor en dit voel al baie meer haalbaar as 70 kg. Ek het hoop en ek byt vas. Ek is n moedige vettie.

Vuur en vlam

My Ouma Bets verjaar in November en dit gaan ’n groot familiefees wees. Al die niggies en neefs gaan daar wees. Hulle vlieg selfs van Londen af in! Ek wil so graag net beter lyk voor dit. Ek weet dis nie moontlik om al die gewig afgeskud te kry nie, maar nog ’n paar kilogramme gaan net my selfbeeld ’n hupstoot gee.

Ek en Riaan oefen steeds bitter hard. Ek kan nou al 30 minute se kardio doen sonder om dood te gaan. Ek doen dan 10 minute se weight training met vry gewigte.  Ek oefen ten minsten 3 keer in die week en dan suffer ek Saterdae vir ’n uur lank saam met Riaan. Hy het oorlog verklaar op my flabby arms. Na die eerste Saterdag kan ek nie lekker my stuurwiel vas hou nie. Ek loop soos ’n T-Rex die hele Sondag, want my arms is só seer. Ek is effens bekommerd oor hoe ek Maandag gaan werk met die seer arms. Gelukkig voel hulle teen Maandag beter.

My sussie Ané het my die oulikste app op haar nuwe slimfoon gewys. Dis Myfitnesspal.  Die ding is ’n dagboek van wat jy eet en tel jou kalorieë. Dit is skokkend toe ek die ding die eerste keer gebruik en besef hoe baie ek steeds eet. Die lepel-en-’n-half suiker in my 3 tot 4 koppies koffie speel toe nou ’n groter rol as wat ek gedink het en selfs in ’n pak chips is daar suiker! Ek het dit nie geweet nie. Ek lees met elke maaltyd my kos in en hoe meer jy die ding gebruik hoe vinniger gaan dit, want hy onthou van jou maaltye en jy kan dit net so weer oordra. Jy kan self Woolies se kos se barcode scan en dan is dit sommer klaar ingelees vir jou. Ek raak dit gou baas en dis later ’n gewoonte om eers al die kos wat ek wil eet in te lees voor ek begin eet.

Ek het ’n skaal gaan koop en het nou een by die werk én by die huis. Ek weeg myself ten minstens een maal op ’n dag. Ek weet die slim mense sê jy moet een keer per week weeg, maar ek kan myself nie help nie. Ek wil sien hoe die oefening ’n verskil maak en is baie haastig en ongeduldig. Ek sien dat gesonde gewigsverlies ’n kilo ’n week is.

Ek verkyk my aan die poppies by die gym wat in hulle crop-tops en stywe broekies oefen. Ek voel so selfbewus met my dik lyf tussen hierdie meisies. Dit voel steeds vir my asof almal vir my kyk en my veroordeel. Ané sê ek verbeel myself en ek projekteer hoogs waarskynlik omdat ek selfbewus voel. Maar regtig, wie sit vol make-up aan voor hul oefen? Is jy nie bang jy sweet jou gesig af nie?

Ek begin die oefening effens geniet, veral as ek saam met Ané oefen. Dis net asof die tyd vinniger verby gaan as jy geselskap het. Ek is vreeslik kompeterend en dit help my harder oefen as ek saam met Ané oefen, want ek probeer haar jaag. Sy is natuurlik baie fikser as ek. Ek voel ook regtig goed as ek klaar geoefen het. Ek weet dit klink soos die ou grappie van dis vreeslik lekker as jy jou kop vir n halfuur teen die muur stamp en dan  op te hou, maar ek begin sien hoekom mense van oefening hou.

IMG-20140108-WA0005

Helene en haar sus, Ané

Ek mis my chips in die aande. Daar is niks so lekker vir my soos om op die bank te parkeer met ’n pak chips nie, maar ek besef gou met Myfitnesspal dat ek min of meer die pak chips gaan mag eet en niks anders vir die res van die dag nie. So ek sal net ’n gesonder alternatief moet kry. Ek ontdek dat wortels en sugarsnaps baie lekker is vir my en ek kry amper dieselfde satisfaksie as van die chips Popcorn is ook ’n wenner. Die airpopper goed proe sleg vir my, so ek maak myne in ’n eetlepel olie op die stoof. Ek moet net versigtig wees vir die sout vir waterretensie.  Dis nou ’n manier om ’n ligte histerie te beleef as jy die volgende dag weeg na te veel sout op die popcorn en jy is sommer ’n kilo swaarder. (Dis seker hoekom jy nie elke dag moet weeg nie, maar toemaar.)

Ek verloor nog 5 kilogram voor die einde Oktober! Dis nou al 10 kilogram en nou begin ek ’n verskil sien. My klere sit baie losser. Meeste mense kom nie regtig iets agter nie, maar ek weet en dis wat saakmaak!

“Ek is nou ‘n grootte 20″

Dis begin November en Ouma se verjaarsdag is om die draai. Ek het daarin geslaag om 10 kg af te skud en ek voel al baie beter oor myself.  Ek het myself bederf en ’n uitrusting vir Ouma se verjaarsdag gaan koop by Queenspark nogal. Dis ’n grootte 20!

Ek moet tyd maak in my besige dag vir gym tyd en het gevind dat tussen 3 en 4 in die middag die beste en stilste tyd by die gym is. Dit gee my engtevrees as daar so baie mense is. Ané verwys daarna as die trol-ure. Want daar’s baie minder poppies en spiertiere daardie tyd van die dag. Nou is dit net om my werkstyd so te beplan dat ek daardie tyd kan gaan oefen.

Ek eet nog steeds nie ontbyt nie. Dis ’n fout!  Ek weet, maar dis asof ek die monster wakker maak as ek geëet het. Ek voel ook baie meer lighoofdig en ek neem aan dis omdat ek nie ontbyt eet nie en my bloedsuiker vreeslik laag word, want ek het ook opgehou eet by die werk. Ek is te lui om ‘n kosblik te pak. Ek besef wat ek doen is ongesond en dat ek ‘n beter voorbeeld vir my kinders moet stel. Ek kan nie my ongesonde verhouding met kos wil oordra na hulle toe nie.

Ek begin pap eet in die oggend. Volgens Myfitnesspal se kalorieë-teller is hawermoutpap my beste en gesondste opsie. Ek weet dat ek gaan naar word min of meer op dag drie van hawermoutpap elke oggend eet. So, toe besluit ek om dit af te wissel met ProNutro en Weetbix. Miskien as ek die pappe afwissel sal ek nie so vinnig moeg raak daarvoor nie.

Ek sny ook suiker uit my koffie en tee uit en begin eerder laevet melk gebruik. Dit het nogal ’n groot invloed op my daaglikse kalorie-inname. Ek begin slimmer keuses maak oor porsies en kos wat ek eet en ek lees nou die etikette op die kos aandagtig voor ek dit koop. Laevet fetakaas van Woolies proe net so lekker soos die volvet opsie en gee jou darem nog so bietjie meer kalorieë.

Centurion-20120726-00209

Ek vind ook dat as ek myself gedra deur die week, ek ’n bietjie meer kan ontspan oor ’n naweek. Ek ken myself en weet dat as ek te lank vasgevang voel met die beperkings van ‘n lae-kalorie dieet ek op ’n stadium gaan simpel raak en binge eet. So ek tel nie kalorieë oor ’n naweek nie.

Ek verloor nog 4 kg in November. Ek is amper by my eerste mikpunt!

Kersfees en die groot eet.

Dis begin Desember en ek het al 14 kg verloor. Ek is baie bekommerd oor hierdie tyd van die jaar, want ek weet dis net een groot ge-etery. Van afskeidsfunksies, vakansiekos tot Kers- en Nuwejaarsfeeste. Hierdie gaan ’n moeilike tyd wees vir my.

Ek wil so graag goed verloor dié maand, maar ek weet dat dit ’n stryd gaan wees net om nie my goeie werk ongedaan te maak nie of heeltemal van die wa af te val nie. Ons bring die feestyd by my skoonouers deur en ons almal kamp by Jeffreysbaai. Ek kry myself vreeslik jammer om te moet kamp vir 3 weke. ( Ek is glad nie ‘n kampeerder nie, maar in ’n huis waar ek uitgestem is 3 teen een, is daar nie grasie vir Mamma nie.) Die seuns is vreeslik opgewonde om in ’n tent te bly so ek sluk maar aan al my trepidasies. Ek het dus ’n volle 2 weke voor ons op vakansie ry.

Ek oefen soos ’n besetene. Ek het min tyd en baie potensiële sondes om voor op te maak. Ek oefen 6 dae in die week en Riaan vervul my met visioene van hoeveel beter ek volgende jaar dié tyd gaan lyk. Ek het ’n redelike goeie verbeelding, maar ek kan dit nie sien nie. En toe hy my begin dreig met ’n deurtrekker-bikini wil ek hardop begin giggel. Ek sien al hierdie dik boude in ’n bikini! Dit sal lyk soos een van Eddy Murphy se flieks, man. Die ou is laf!

Die kampeerdery gaan beter as wat ek gedink het. Ek is so verbaas oor hoe ver ek op die strand kan stap sonder om dood neer te val van die moegheid. My bobene skuur ook minder teen mekaar, wat ’n massiewe bonus is. Daar is min dinge so aaklig soos groot bobene wat skuur teen mekaar, met sand daarby.

Ek het voordat ons op vakansie gery het, daarin geslaag om nóg 3 kg af te skud. Ek is so verbaas met my vermoë om my deesdae nie te ooreet nie. Ek hoef nie alles op te eet nie! Dis ’n groot stap vir my, want van kleins af glo ek dat ek alles moet opeet wat ek ingeskep het. Ek het so bietjie later aan begin glo dis my plig om my kinders se borde ook skoon te maak. Ek dink nie ’n mens moet jou kind dwing om hulle bord kos op te eet teen wil en dank nie. Natuurlik moet ’n mens seker maak hulle eet die gesonde goeie goed ook en nie net die lekker goed nie, maar ek vermoed hierdie behoefte wat ek het om altyd ten alle koste alles op te eet, diep wortels in my opvoeding het. Ek probeer om my seuns nie te dwing om alles op te eet nie, maar hulle kan geen lekkernye kry as hulle nie hulle kos wou eet nie.

Daar is gelukkig nie plek om ’n skaal saam te vat nie. My man het my heel geskok aangekyk toe ek voorstel ons pak dit in die reeds oorvol sleepwa in en het net eenvoudig sy voet neer gesit. Daar is nie ’n manier nie en ek moet net ontspan daaroor.

Ek is heel verlig toe ek teen die einde van die vakansie net 2 kilo’s opgetel het. Nuwejaar en ’n nuwe begin. Ek is 15 kg af sover en ek gaan 2012 in met hoop.

Die wonder van lensies en bone

Dis Januarie 2013 en ek is volstoom aan die gang. Ek het nie te veel skade aangerig oor Desember nie. Ek het met Myfitnesspal se kaloriedagboek wat ek hou, baie meer beheer oor my porsie-groottes en ek maak baie gesonder keuses rakende my kos.
Elke aand van die week maak ek ’n lekker mengelslaai en ek vind dat as ek dit eerste verorber, ek minder eet daarna. Ek eet baie minder rooivleis en het lensies en bone by my maalvleis begin ingooi. Die kinders kom dit nie eers agter nie, want dit kook lekker weg. Die lensies maak dit lae-GI. (Nog ’n dieët buzz word wat ek ontdek het). Dit maak dat ek meer van die kos kan eet vir dieselfde kalorie-inname. Dit verlaag ook die totale vetinhoud, is goedkoop en verlaag jou cholesterol!

 20121116_14210

Ek en Riaan oefen hard aan my arms en bene. Ek kan nou 60 minute se kardio doen. Ek oefen 20 minute op die oefenfiets, 20 minute op die elliptiese oefenmasjien en dan nog so 20 minute op òf die roeimasjien òf die stepper. Ek doen dan gewoonlik nog 20 minute se gewigte, maar net 2 dae van die week oefen ek so lank. Ek het begin om pilates ook te doen, wat Riaan natuurlik ook aanbied en het gevind dit help ongelooflik baie met my postuur en flexibility.  Ek oefen 5 dae in die week en kan die resultate voel aan hoeveel losser my broeke sit.

20121116_184225

Riaan het dit so mooi vir my verduidelik: die kardio help om die vetjies af te brand en die gewigte help dat jy mooi spiere onder die vet gaan ontdek. Die pilates help jou soepel hou, want dis baie maklik om vreeslik styf te word. Hoe meer spiere jy het hoe meer kalorieë verbrand jy ook!

Ek kan vir die eerste keer op ’n plastiekstoel sit sonder dat dit my boude knyp en ek oral oor die stoel spoel soos koekiedeeg. Ek het ook minder van ’n vrees dat ek kampeerstoele en plastiekstoele in hulle maai in gaan sit. Die verleentheid van stoele breek gaan iets van die verlede word!

Teen die einde van Januarie het ek 6 kg verloor, 21 kg in totaal en weeg ek 119kg.

Hou bene, hou!

Dis Februarie. My jongste niggie trou einde Maart en ek wil supergraag goed gewig afskud voor haar troue. Gelukkig is dit eers einde Maart, so ek het tyd aan my kant. My droom is om ‘n mooi rokkie te kan dra vir haar troue. Soos meeste vet vroue weet, is daar redes hoekom ons gewoonlik langbroeke dra, die grootste daarvan is die intense behoefte dat jou bobene hulle nie rou skuur teen mekaar nie! Ek voel ook toeër in ‘n langbroek, asof ek meer weggesteek kry van my logge lyf.

Ek verloor mooi gewig oor my bolyf en ek kan ‘n mooi middeltjie sien ontwikkel. Ek het so opgewonde geraak toe ek vir die eerste keer my bisepspier kan begin sien onder al die vet! Ek verstaan nou die poppies in die croptops. Ek sal ook half-kaal loop om die mooi spiere af te show, as ‘n mens só hard vir dit moet werk.

februarie2
My arme ma moet elke kort-kort kyk na ‘n spier wat ek, rooi in die gesig, bult en dan die  dienooreenkomstige oe- en aahhh-geluide maak! Dis seker net min of meer ék wat dit kan sien, maar dit maak my baie gelukkig en laat my voel asof ek vorder.

‘n Wildvreemde vrou het my vandag by die gym voorgekeer en my vertel dat sy my dophou vandat ek in September begin oefen het en sy kan definitief ’n verskil sien. Ek is so bly ek soen haar sommer! Ek en Riaan oefen hard en ons is op ’n missie om hierdie lyf beter te probeer kry voor die troue. My ma stel voor ek begin foto’s neem sodat ek my vordering self kan sien. Ek poseer in die badkamer in my bra en panties en moet erken dat dit my eerste selfie is wat ek al ooit geneem het. Gewoonlik is ek redelik kamera-sku en sal selfs slegte foto’s op ander mense se kameras delete, as ek dit net by hulle afgestoei kan kry.

februarie1

Ek eet baie mooi en hou in die week baie getrou dagboek. Dis net oor naweke wat ek bietjie skiet gee en spesiaal nie dagboek hou nie, sodat ek net ’n bietjie kan ontspan. Ek drink glad nie meer alkohol oor naweke nie en dit maak ook ’n verskil. Alkohol is leë kalorieë wat ek eerder vir kos kon gebruik het. Dis òf eet òf drink en ek verkies om te eet!

As ek vreeslik lus raak vir sjokolade, vat ek ’n happie van my kinders s’n. Ek noem die happie tax. Dis nog ’n manier wat ek nie so ingeperk voel op my dieët nie. Dit leer die kinders sommer ook van belasting. Ek eksperimenteer ook met suurlemoen water. Dit help klaarblyklik met gewigsverlies, maar dit maak my tande net vreeslik sensitief.

Ek verloor 5 kg in Februarie en kan ’n grootte 18 sexy, swart rokkie koop vir my niggie se troue. Ek voel so pragtig en vroulik in die rokkie.

Lees die res van Hélène se reis HIER in deel 2

  • Karien

    wanneer lees ons die res,ek soek inspirasie weeg 150kg,ek voel aaklig

    • Nicky Roberts

      Hi Karien gaan kyk n bietjie na http://paleoliving.co.za/ vir n gesonde manier om van jou gewig ontslae te raak . Glo my jy sal verbaas wees , daar is fantastiese resepte ook om te probeer

      • Karien

        Hi Nicky dankie

      • Arlizia

        Daar is n great Fackbook group: Sleekgeek wat die Paleo leefstyl volg!

    • Lucelle van SARIE

      Hi Karien, ons gaan elke weeksdag ‘n deel van Helen se blog laai. Vir ander inspirasie het ons 5 van SARIE se beste diëte. Jy kan dit hier kry:
      http://www.sarie.com/gesond/dieet/5-van-sarie-se-beste-diete-dit-werk/

      • Karien

        Dankie ek geniet die blog baie en dit inspireer my

  • Annelize Schmidlin

    Ja ek soek nou al ‘n half uur die res? Waars dit? Asb!!!

  • Nicky Roberts

    Gaan kyk gerus na hierdie webtuiste http://www.paleoliving.co.za .Garry Frasca is al vir 15 jaar n diabeet en insulin gebruiker, met tablette en inspuitings. Hy het sy lewe terug geneem in sy eie hande en deur die regte dieet het hy dit reggekry om van al sy medikasie, insluitend bloedruk en cholestrol pille ontslae te raak. Hy het ook in die proses 28 kilo’s verloor en is vanaf n 44 broek na n 34. Die paleo lyfwyse wat hy volg is maklik , smaaklik en gesond. Gaan kyk gerus as jy jou lewe as kosbaar beskou.

  • Tinks

    Is daar ‘n manier om “notifcations” te kry as die nuwe gedeeltes van die blog gelaai is?

    • Lucelle van SARIE

      Hi Tinks – ons sal elke weeksdag op SARIE se Facebook-blad aankondig wanneer die nuutste inskrywing gelaai is. Dankie vir die saam-lees!

      • Nicky Roberts

        Hi Lucelle, ek stel beslis voor dat lesers gaan kyk na die http://paleoliving.co.za/ link, afgesien daarvan dat dit uitstekende advies vir diabete bevat is daar ook vele mense wat ongelooflike gewig verlies gehad het met die volg van die Paleo leefstyl. Slefs Woolworths se Taste tydskrif, Cuber Shef Nina Timm en ook Swiss Paleo is deel van Garry se blad. Gaan loer gerus. Hy was al selfs op RSG n onderhoud mee gevoer. Jy kan ook vir Garry kontak op garry@agency.co.za of op sy cell 0828070088. Hy is beslis n inspirasie.

  • Annette Boshoff Hartman

    EK is baie trots op jou wilskrag. Mooi so.

  • Charmaine VR

    WOW Helene, jou storie inspireer so baie mense. Ek stuur elke dag die nuwe inskrywing vir my vriendinne en suster wat nie so gereeld op die internet kan kom nie. Ek het ook myfitnesspal app gedownload en ek moet se ek is erg verbaas oor hoeveel kj ek inneem. Soos meeste het ek ook die nuwe jaar begin en gese ek wil gewig verloor, sover het ek al 7kg afgeskud. Baie dankie dat ons die reis saam met jou kan mee maak en met soveel van jou probleme kan identifiseer. … Sien uit na jou volgende inskrywing.

  • Nicky Roberts

    Hi almal, ek stel beslis voor dat lesers gaan kyk na die http://paleoliving.co.za/ link, afgesien daarvan dat dit uitstekende advies vir diabete bevat is daar ook vele mense wat ongelooflike gewig verlies gehad het met die volg van die Paleo leefstyl. Slefs Woolworths se Taste tydskrif, Cuber Shef Nina Timm en ook Swiss Paleo is deel van Garry se blad. Gaan loer gerus. Hy was al selfs op RSG n onderhoud mee gevoer. Jy kan ook vir Garry kontak op garry@agency.co.za of op sy cell 0828070088. Hy is beslis n inspirasie.

  • Amoré Henning

    Dis ongelooflik! Ek ken jou stryd. Het self in 2012 17kg verloor. My motto: “If somebody says you can’t do it, turn around and say watch me” You go girl!

  • Simone Visagie

    Hi ek soek raad asb eks 28 en 140kgs ek weetnie meer wat omte maak nie

  • jutt

    Hi,

    Wow, your site is looking good!

    Thank you for sharing this information.

    top site!

    Please check out my website buy premium WordPress theme

    with kind regards,

    memoona