sr0904paasfees08_310w
Dieet

Dieetkundige Mariza van Zyl: Hoe ‘skoon’ is jou kos en wat doen dit aan jou?

Ek het saam met ‘n voedseltegnoloog – die slim mense wat sorg dat voedselfabrieke ‘veilige’  kos voorsien – gewerk so paar jaar gelede wat GLAD nie slaai geëet het wat nie tuis voorberei was nie. Volgens haar was dít nou teelaarde vir kontaminasie met allerhande goggas…

Deesdae word daar ook gepraat van ‘ skoon-eet’ (clean eating) met verwysing na ‘n bewustheid t.o.v. hoeveel preserveermiddels en bymiddels daar in kos is.

Voedselspreservering is ‘n belangrike deel van voedselsekerheid – dis verseker. Voedselpreservering – verkoeling, droging, die gebruik van sout en ook suiker en speserye soos borrie en kerrie en verskillende chemiese stowwe – wat natuurlik voorkom – soos NITRATE om bv. vleis te ‘ kuur’, is amper so oud soos die mensdom.

Sonder preservering sal baie produkte wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar, nie op ons rakke wees nie.  Dit is ongelukkig egter so dat dit dikwels ‘makliker’ en goedkoper is om ‘n preserveermiddel by ‘n voedselitem te voeg instede daarvan om die vervaardigingsproses sodanig aan te pas dat dit nie nodig is nie. Dis ook duurder – en die risiko vir verlies is meer – want die rakleeftyd is korter.

Jogurt is ‘n goeie voorbeeld. Normaalweg is dit nie ‘n produk wat tradisioneel preservering nodig gehad het nie – synde dit reeds ‘n metode is waar sekere bakterie die melk ‘versuur’ en sodanig ‘n produk wat langer beskikbaar is. Gaan soek jy egter vir jogurt sonder preserveermiddels in Suid-Afrika vandag, is die kans dat jy by meer as een winkel moet inkopies doen groot…

Is dit noodwendig sleg?  Nee, maar ek dink tog mens moet daaroor dink. Hoeveel kosse kry jy in wat preserveermiddels bevat? Alhoewel preserveermiddels nie ‘onveilig’ is nie, is dit wel so dat sommige mense meer sensitief is vir moontlike reaksies. Hulle moet ook deur die liggaam ‘ verwerk’  word wat die lading op die ‘detoksifikasie’-stelsel teoreties verhoog.

Alles wat ‘in’ gaan – moet iewers heen gaan. Geen komponent in kos ‘verdamp’ die oomblik as ons dit geëet het nie.

Het jy al ooit gekyk hoeveel van die kosse wat jy eet preserveermiddels bevat? Dis maklik – volgens wet moet dit op die voedseletiket aangedui word.

Ek sien hierdie week ‘n interessante video op Youtube.  ‘n Observasie–studie is gedoen – m.a.w. die navorsers maak nie gevolgtrekkings nie, hulle kyk net en raporteer. Met behulp van ‘n kamera wat in ‘n kapsule ingebou was, is die pad wat die kos gevolg het vanaf die mond dwarsdeur die maag en derms gefotografeer. Die een groep het tuisgemaakte noedels geëet, die ander groep kommersiële noedels wat voorberei was met ‘n olie wat ‘n preserveermiddel bevat.

Die beeldmateriaal is verstommend. Vergeleke met die  tuisgemaakte ‘ skoon’  noedels het die ‘gepreserveerde’  noedels nie baie goed verteer nie. Om die waarheid te sê – dele daarvan het glad nie verteer nie….

Wat beteken dit?

Die spesifieke preserveermiddel – TBHQ-  kom algemeen voor en word dikwels as ‘n anti-oksidant aangedui op voedseletikette. Dit word as ‘ veilig’  beskou in die hoeveelheid wat in voedsel gebruik word – maar in groot hoeveelhede is dit toksies.

Wat egter vir my van meer belang is, is as ons voedsel nie optimaal verteer nie dit beteken dat ons nie optimaal die voedingstowwe wat in die voedsel opgesluit is kan gebruik nie.

Gereelde lesers van my blog sal al weet – ek het ‘n ‘ding’ oor voedingstowwe en hulle belang in gesondheid via gesonde metabolisme. Dis immers feit – gebrek aan voedingstowwe is sentraal deel van die ontwikkeling van leefstylsiektes soos oorgewig, diabetes, insulienweerstandigheid, maar speel ook ‘n groot rol in bv. hiperaktiwiteit, asma, leer– en konsentrasie-probleme om maar ‘n paar te noem.

Ek sou bitter graag wou ‘sien’ – met hierdie kamera-metode –  wat die effek op ‘ vertering’ is van ander preserveermiddels.

Intussen kan ek nie meer saamstem met die SKOON-EET-beweging nie, want dis so deel van BeterEet™!

Nee, jy hoef nie angs te ontwikkel as jy iets sien wat gepreserveer is nie, maar maak ‘n stap in die regte rigting. Byvoorbeeld. in plaas van 5 produkte per dag wat preserveermiddels bevat, gebruik een – en maak self jou sousie…(LIKE gerus op facebook/bettereat vir daagslikse ‘ skoon’–kos wenke).

Ongelukkig is dit so dat mens soms moet ‘stem’ met jou beursie! Ja, mens betaal miskien ‘n rand of twee meer  vir ‘n ‘skoon’  produk, maar dit kos geld vir ‘n vervaardiger om oplossings te soek om die prosesse en metodes te ondersoek om  metodes te kies en preserveermddels te kies wat meer ‘natuurlik’ is.

Jou lewer en jou lyf sal jou dankbaar wees…

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

www.betereet.co.za