Dieet

Hou só jou winterlyf in toom – hier’s dieetwenke

Die winter het ’n manier om met jou kop te smokkel. Dit voel asof jy aanmekaar wil peusel. Jy smag na kosse met baie koolhidrate en kilojoules (kJ) – bredies, macaroni-en-kaas …dinge wat jou warm en knus laat voel. Jy verkies boonop om snoesig by die huis te hiberneer – en dis waar die koskas vol lekkernye wag.

Oefening bly ook gewoonlik in die slag; jy kan mos jou ekstra rolletjies onder lae winterklere wegsteek. Dis dalk evolusie aan’t werk. Ons oer-voorouers het immers daardie ekstra lagie vet nodig gehad om die ysige winter te oorleef. Maar deesdae het jy nie regtig méér energie in die winter nodig nie – in elk geval nie in Suid-Afrika met sy matige winters nie. (Tensy jy ver werk toe stap of nie winterklere het nie.) Tog hunker jy na koolhidraatryke kos, die suiker en stysel wat die onmiddellike hitte verskaf waarna jou lyf smag. Gee jy toe aan daardie craving, styg jou bloedsuiker vinnig, om net so vinnig weer te val. Dié wipplankryery maak jou nóg hongerder. ’n Nare kringloop. Enige kos gaan inderdaad jou metabolisme ’n hupstoot gee en jou liggaamstemperatuur laat styg, sê die webblad webmd.com. Maar ons is nie geleer om aan slaaie, vrugte en groente as winterkos te dink nie. Ons vereenselwig winter immers met ryk, swaar maaltye. As jou liggaam dus sê maak my warm, hoor jou brein: Bring die macaroni-en-kaas!

Gebruik dié wenke om jou gebrek aan wilskrag in die winter te fnuik – en die somer met selfvertroue tegemoet te gaan. Dis verskaf deur twee geregistreerde dieetkundiges, Lila Bruk van Johannesburg en Mariza van Zyl van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl.

[box:full:grey:both]

Jy het nou ’n behoefte aan warmte – ook as jy eet
Lê dus weg aan sop. Dis nie verniet die winter se stapelvoedsel nie. Dit laat jou meer versadig voel – en het minder kJ. Skop jou maaltyd daarmee af en dit verminder jou aptyt. Maar onthou net: As jou gunsteling-sop bone, pasta, rys en rooivleis bevat, tel dit as ’n maaltyd. Terwyl een met groente as basis (groenbone, wortels, seldery, pietersielie, preie en broccoli, of vis,= maer hoender en vark) sommer as voorgereg geniet kan word – of as jy lus is vir peusel.

[/box]

Vermy energie-digte kos
Hierdie is ’n relatief klein porsie met baie kJ. (Bv. ’n hoenderpasteitjie van 140 g met sowat 2 000 kJ). Teenoor ’n gróót bord kos met groente, rys en hoenderkerrie wat tot die helfte minder kJ kan hê, maar jou heelwat meer versadig sal maak. Die kuns is om die gereg se energie (kJ) te “verdun” met bestanddele wat dit volume gee maar met min kJ. Groente is ideaal hiervoor. Jy kan nie ’n fout maak met nog ’n skeppie boontjies, uie, skorsies, spinasie, sampioene, ensovoorts nie.

Nog beter – maak bredies en potjiekos met baie groente in
Wees slim en berei die kos met minder olie en vet. En maak ’n lekker sousie daarby. Jy kan selfs ’n bietjie laervetroom in die sous gebruik. Hou dan die porsies klein.

Wenk Wees slim met trooskos en sorg dat dit boonop jou maag volmaak – sonder te veel kJ. Moenie maaltye of gesonde peuselhappies tussenin vervang met voedingstowwe wat jou oombliklik energie gee nie. Soos kafeïen (te veel koffie wat sommer ’n maaltyd vervang) en suiker (in jou koffie of tee). Maak ’n punt daarvan om liefs “kos” te eet as jy behoefte het aan meer as drie maaltye per dag.

[box:full:grey:both]
Ja, jy weet dit reeds – ontbyt is ’n móét

Navorsing wys mense wat gereeld ’n gesonde ontbyt eet, hou hul gewig makliker in toom. Eet warm hawermout (oats) of hawersemels (oat bran) pleks van gewone ontbytgrane. Warm vrugte en kaneel laat hawermoutpap soos poeding proe. Die beste ontbyt bly maar eiers. Bak met ’n bietjie olyfolie of selfs ’n skraapsel botter. Kombineer met tamatie, uie en sampioene. Elkeen van ons behoort eintlik elke week vyf eiers te eet omdat dit so propvol voedingswaarde is.
[/box]

’n Lekkerte in die winter:
Sorg dat jy genoeg slaap Mense wat minder as vyf uur per nag slaap, is 30% meer geneig om gewig aan te sit as dié wat langer slaap, wys ’n groot Amerikaanse studie oor sestien jaar. Genoeg slaap is belangrik om hormone te balanseer wat jou eetlus en metabolisme help reguleer. Slaap jy te min, is jy boonop geneig om meer deur die dag te peusel, te veel kafeïenryke drankies te drink en minder te oefen.

Moenie oefening verwaarloos nie
Skeduleer jou oefensessie in die gimnasium soos enige ander afspraak op jou kalender. Jy gaan immers nie ’n afspraak met ’n kliënt uitstel net omdat dit koud is nie, of hoe? Die temperatuur binne die gimnasium word waarskynlik beheer en dit sal dus warmer as by die huis wees!

Winter is ook ’n lekker tyd om ’n nuwe sport of soort dans te bemeester
Of om ’n nuwe soort oefenklas te probeer. Vind by jou gimnasium of gemeenskapsentrum uit of daar nuwe programme of klasse is.

Die gimnasium is nie vir jou nie?

  • Gebruik jou gunsteling-inkopiesentrum vir ’n kardio-sessie om jou hart vinniger te laat werk.
  • Trek jou oefenskoene aan.
  • Parkeer verskeie blokke van die sentrum af. Stap vinnig (power walking) terwyl jy met jou oë in die winkelvensters koop. Gebruik die trappe, nie die hysbakke of roltrappe nie.
  • As jy met kruideniersware moet koop, doen dit eerste. Jy moet dan die pakkies dra, wat as ekstra weerstand dienterwyl jy loop.
  • Wees kreatief en gebruik alledaagse huishoudelike items as oefen-toerusting.
  • Maak 1,5-liter-waterbottels vol sand en gebruik as handgewigte.
  • Klim of hardloop vinnig met die trappe op om jou hart harder te laat werk.
  • Gebruik die onderste trap vir afsakke (lunges) of vorentoe treë (step-ups)
  • Moenie die krag van jou eie liggaamsgewig vergeet nie. Jy het geen toerusting nodig vir maagopsitte, opstote of hurke (squats) nie.

Laastens: Moenie jouself oortuig jy gaan jou wintervetjies in die lente afskud nie Dis makliker om jou gewig konstant te hou as om oortollige kilogramme weer te moet verloor.

  • Mago

    hanna sagt: Interaktive Webseite f r konsummaterielle und hietnisodsche Kinder! und Da es sich um ein lesefaules Publikum handelt, frage an die gestalter: ich weiss nicht wie ich das bewerten soll ist es denn gut oder ok das die kinder konsummateriell und hedonistisch sind? und lesefaul noch dazu euer standpunkt hierzu kommt nicht ganz eindeutig r ber, meiner meinung nach. lg hanna