sr0604_156
Dieet

Is jou oë groter as jou maag?

Dis moontlik jou oë – en nie jou maag nie – wat die skuld moet kry vir jou ekstra kilogramme wat net maar nie wil wyk nie. Dis nou volgens ‘n nuwe verslag in die Amerikaanse Joernaal vir Verbruiker-navorsing.

Die navorsers praat van die ”buffet”-uitwerking. En dis wat gebeur: In ‘n supermark, kafeteria of by ‘n braai waar die tafels onder die kos kreun, mislei die verskillende kleure jou brein – en jy onderskat die porsiegrootte. Dink maar aan ‘n buffet en hoe jou bord later nie meer plek vir al die kos het nie – al dink jy dat jy net ‘n bietjie van alles ingeskep het. 

As jou brein met ‘n meer eenvormige beeld gekonfronteer word, is jou interpretasie van die porsiegrootte baie meer realisties.

Besluit dus wat jy gaan eet vóór jy by die winkel, kafeteria of okkasie aankom – en hou daarby. Kies ook byvoorbeeld net twee kossoorte as jy aan ‘n wye verskeidenheid blootgestel word. Soos vleis en slaai, of stysel en groente.

Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za.