sr1307_koshoof_4_310w_310w
Dieet

Is jou ‘ hoëvesel’-koskeuses regtig so goed vir jou?

Natuurlik! dink jy, vesel is mos belangrik. Dit is kardinaal as deel van ‘n gesonde dieet … Jy voel dan vandag juis so goed, want jy (en jou gesin) het vanoggend jul hoëvesel-pap geëet. Deur die dag is dit hoëvesel-brood, hoëvesel-beskuitjies en vanaand eet julle hoëvesel-pasta …

Waar jy kan, kies jy meer vesel. Jy moedig ook jou kinders aan – irriteer hulle soms selfs – en miskien onnodiglik so!

Hoëvesel-kos is miskien minder gesond as wat jy dink. Dit los in elk geval dikwels nie die gereeldheid-kwessie heeltemal op nie, en ai, die midrif en boep gee maar altyd probleme.

Vesel is ‘n komplekse onderwerp. Ongelukkig word dit dikwels te veel vereenvoudig – en word net gepraat van oplosbare en onoplosbare vesel. Die korrekte groepering is einlik “meer oplosbaar” en “minder oplosbaar”. Minder oplosbare vesel word bv. gevind in ru-vesel (bran) maar ook sade, vrugte en groente. Meer oplosbare vesel word gevind in byvoorbeeld hawermout, peulgroente, lensies en vrugte.

Produkte wat geëtiketteer word as “hoë vesel”, byvoorbeeld kitsontbytgrane, kraakbeskuitjies en brood, bevat gewoonlik meerendeels “ru-vesel” of “bran” – wat meestal heeltemal onoplosbaar is. (Dit is die buitenste “doppies” van koringkorrels – totaal onverteerbaar – wat net soos ‘n besem in jou derm werk.)

Navorsers van Sydney vra tereg: Is dit nie tyd dat die aanbeveling dat mense hoëvesel-items moet kies onder die vergrootglas geplaas word nie?

Die rede: veselinname – veral “ru-vesel” – word geassosieer met die verhoogde inname van PHYTATE. Phytate “blokkeer” die opname van onder meer sink, kalsium en yster, en kan selfs ‘n effek op die opname van vitamien B3 of niasien in die liggaam hê. Wat het dit te doen met my midrif en hoe gaan ek my derm gereeld hou sonder elke oggend se “regmaker”-bakkie pap? wonder jy.

Daar’s ander maniere. En die potensiële nadele van “te veel” ru-vesel moet oorweeg word.

Sink is van kardinale belang vir die produksie van insulien in die liggaam – wat bloedsuiker stabiel hou. Dit is ook bekend dat mense met insulien-weerstandigheid en diabetes geneig is tot lae sink-vlakke. Ouer mense ly ook maklik aan ‘n onderliggende sink-gebrek – wat bv. hul smaak aantas. Sink speel ook ‘n belangrike rol in energie-metabolisme in die lewer, en sonder genoeg sink is jou immuunstelsel maar effentjies.

Jou hormone ly ook onder ‘n sink-tekort. Sink is belangrik vir ‘n mooi vel, genesing van seertjies en speel ‘n groot rol in dermgesondheid. Onthou, ‘n “ongesonde” derm is die oorsaak van baie gesondheidskwale.

Die probleem – dis moeilik om ‘n sink-gebrek te identifiseer en te diagnoseer, maar veral wanneer mense staatmaak op grane as basis van hul dieet, weet voedingkundiges dat ’n sink-gebrek algemeen is.

Dit is ook nie onmoontlik dat ’n onderliggende sink-gebrek ‘n rol speel in JOU midrif of jou kind se aknee-vel-stryd nie.

Onthou, dit gaan nie daaroor dat jy NIE moet vesel inneem nie. Nee, wat wel moet gebeur, is dat jy ’n bietjie moet kyk na die “bronne” van jou vesel-inname en NIE net op een of twee items moet staatmaak om dit in te kry nie.

Variasie in jou voedselkeuse sal verseker dat jy jou nie deur jou patroon van “elke dag dieselfde” eintlik in ‘n “wanvoeding van soorte” in eet nie.

Wanneer jy dus genoegsame groente, vrugte, soms peulgroente, soms bruinrys, neute en sade eet, kry jy steeds genoegsame vesel in. Die verskil: jy kry ook genoegsame bronne van SINK (en ander belangrike minerale soos magnesium en kalsium) in. Jogurt, kefir en kaas voorsien baie beskikbare bronne van sink.

Daar’s ongelukkig min wegkomkans – gesond eet is glad nie so “eenvoudig” soos die prentjies op die pakkies nie. Al hoe meer en meer is die bewyse dat daar geen “maklike” kortpaaie is nie. Stel jy belang in beter eet?

 

Lees gerus meer op www.betereet.co.za en wenke vir beter, skoner tog lekker koskeuses op facebook/bettereat.

Mariza van Zyl RDKliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

www.betereet.co.za

Mariza

* LEES AL MARIZA SE DIEET-BLOGS HIER