sk0804patat11
Dieet

Jy het PMS en is lus vir brood? Dis nie jou verbeelding nie!

Dis net voor jou maandstonde en jy voel nukkerig, geïrriteerd en heeltyd lus vir peusel. Dit verg al jou deursettingsvermoë om steeds die “regte” kosse te eet – veral lae GI-kosse.

Maar hoor hier: ‘n Onlangse studie onder Japannese vroue het gewys vroue met PMS voel beter ná ‘n maaltyd met hoë GI-kosse. Die koolhidrate in ‘n hoër GI-maaltyd help skynbaar om die konsentrasie van die belangrike aminosuur triptofaan te verhoog. Dié aminosuur help om die goedvoel-breinstof serotonien te vervaardig. Gesonde hoë GI-keuses: druiwe, waatlemoen, kapokaartappels, mango’s, appelkose (vars), pynappels, rosyne en volkoringbrood.

Vergeet dus van jou skuldgevoelens en luister in dié geval na jou lyf. Lae GI-kosse is nie die begin en einde van gesonde eetgewoontes nie. Dis slegs ‘n bousteen en jy hoef dit nie altyd slaafs na te volg nie.

*Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za.