sr0907dieet03
Dieet

Jy’s so verlief . . . maar die skaal trek swaar. Hoekom?

Studies wys vroue in ’n vaste verhouding sit dikwels gewig aan. Want wie tel nou die kilojoules as jy skitter, veral as die liefde nog douvars is? Dis boonop tog te lekker om peusel-happies met jou geliefde te deel, nè?

Dit het Jenna Bergen, ’n Amerikaanse spinning-instrukteur, selfs genoop om ’n boek te skryf. Your Big Fat Boyfriend: How to Stay Thin When Dating a Diet Disaster (Quirk Books, Januarie 2009) gee wenke hoe om nie gewig aan te sit as die liefde blom nie.

Hoekom is vroue geneig om gewig aan te sit in ’n vaste verhouding?

* Mans is groter gebou en het meer spiere. Sy liggaam verbrand dus kilojoules (kJ) baie vinniger as joune – en hy kan meer as jy eet sonder om gewig aan te sit.

* Jy is meer bewus van jou gesondheid en gewig as hy. Jy sal nie sommer ’n bord kos verorber wat met kJ gelaai is as jy alleen is nie. Dinge verander as Mnr. Reg jou lewe instap. Skielik word jy omring deur kosse hoog in vet en koolhidrate waarvoor jy gewoonlik sku is. Soos jy meer op jou gemak by hom is, raak jou wilskrag minder – en jy word al hoe meer deur vetmaak-kosse verlei.

TOE – Sarie Marais,
11 Januarie 1956

Moenie dat die badkamerskaal ’n skrikbewind op u uitvoer nie. Om te straf te verslank, is om moeilikheid te soek. As u bors-, heup- en middelmaat eers netjies genoeg is na u sin, wees dan tevrede, selfs al is u gewig volgens die skaal nog taamlik indrukwekkend. Per slot van rekening gaan niemand u tog optel om te voel hoe swaar u is nie!

Sarie Marais, 11 Januarie 1956

 

Bron: Jenna Bergen in Your Big Fat Boyfriend.
Besoek www.bigfatboyfriend.com.

* In die Julie-uitgawe van SARIE het Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl, ’n eetplan saamgestel vir jou én vir hom!