Dieet

Kafeekos met minder byt

Jy is, soos baie mense in die Paastyd, op reis. Of jy is só aan’t jaag dat jy ‘n ete oorgeslaan het. Nou moet jy noodgedwonge by ‘n kafee stop om iets te ete te koop.

Sommige mense voel vere en koop ‘n pastei, diepvetgebraaide Russiese (Russian) worsies en ‘n bottel koeldrank. As jy egter graag gesond eet en net jou ergste honger wil stil, is daar minder skadelike keuses. Sodra jou ergste honger baasgeraak is, is dit ook makliker om te kyk vir gesonder kosse, soos ‘n piesang en hand vol rou amandels.

Koop ‘n pakkie gewone skyfies, net met sout. Dit bevat min of meer dieselfde energie (kilojoules of kJ) as ‘n sny brood met 2 teelepels margarien of botter. Onthou: kies skyfies wat net gesout is. En koop gewone aartappelskyfies, eerder as gepofde tjips.

Kombineer die pakkie skyfies met ‘n bottel vonkelwater of selfs ‘n klein botteltjie melk. Vermy koeldrank en selfs vrugtesap om die totale hoeveelheid kJ van dié ‘kits’-maaltyd so laag as moontlik te hou.

 

Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za