Dieet

Kenners se eetgeheime

Rentia Lombard, dieetkundige van Pretoria


 

*”Ek kry soms uit die bloute ‘n craving vir ‘n soet ding. Om rustig te raak asem ek eers in … en uit … Dan drink ek ‘n glas water, want soms is ek maar net dors. As dit nie werk nie, eet ek ‘n vrug.

As nie een van dié dinge help nie, doen ek een van die volgende:

*Ek maak sjokolade-Nesquick met vetvrye melk. Dit maak my maag vol, het ‘n lekker sjokoladesmaak en net 608 kJ.

Of: Ek eet iets kleins wat baie soet is (bv. ‘n paar Chuckles). Dit werk nie vir almal nie: Hoe soeter die happie, hoe meer wil sommige vroue hê.

*Ken jouself. Ek loer klokslag vieruur in die yskas. Ek maak dus seker daar is gesonde eetgoed, soos Pro-Vita en maaskaas, of ‘n vrug, ‘n bietjie oorskietkos, of selfs vanoggend se jogurt wat ek nie geëet het nie.

*Ek dood oor kaas. ‘n Mens kry gelukkig lekker soorte met net sowat 12 g vet per 100 g (teenoor gewone kaas se sowat 30 g vet per 100 g). Kyk op die etiket.

*In die winter fokus ek daarop om my gewig konstant te hou – ek probeer dan nie gewig verloor nie.

Dis só by my ingeprent om gebalanseerd te eet, dit voel verkeerd as daar nie stysel, proteïene en groente of vrugte op my bord is nie.”

Suna Kassier, dieetkundige aan die Universiteit van KwaZulu-Natal

 

*”Ek het myself geprogrammeer oaan die ongemaklike nagevolge te dink as ek myself aan kos vergryp.

*Eet is een van die lewe se groot plesiere. Hou egter matigheid voor oë.

*Balans is belangrik. As jy lekkernye van jou kinders weghou, eet hulle hulself naar as hulle ‘n kinderpartytjie bywoon. Daar is altyd lekkers, koekies en gaskoeldrank in my huis, maar my gesin eet dit nie elke dag nie.

*Ek gebruik baie uie, tamaties, knoffel en kruie, maar min sout, in kos.

*Ek gaan gereeld gimnasium toe en stap altyd flink – mense sê ek lyk altyd haastig.”

Marlene Vermaak, dieetkundige van Pretoria

 

* “As jy saans in die bed sjokolade in plaas van skape begin tel, eet ‘n blokkie. Net nie elke aand nie.

*Ek dwing myself om water te drink, al hou ek niks daarvan nie. Dit smaak beter warm en met ‘n bietjie

suurlemoensap daarby.

*Ek wissel my oefenroetine in die gimnasium af, anders raak ek verveeld en is ek nog minder lus daarvoor.”

Sunette Kotze van Pretoria, dieetkundige van Pretoria en eienaar van E-Spice Health Shop


 

*”Jy moet by ‘n punt kom waar jy besef jou denkwyse oor, keuse van en gevoel rondom kos moet verander. Ek was self daar. Wees bewus van wat en wanneer jy eet. Hou dagboek. Leer om respek vir kos en die waarde daarvan te hê. Dit moet egter nie ‘n obsessie word nie.

*Probeer om altyd in beheer van jou koskeuses te wees. As jy in ‘n restaurant gaan eet, beplan vooruit wat jy gaan bestel – en probeer so min moontlik daarvan afwyk.

*Glo in jouself en jou vermoë om die oortollige gewig af te skud. Jou twyfel kan jou eetprogram kelder.

*Moenie honger na ‘n geselligheid gaan nie. Kies een sout en een soet eetding, eet dit stadig en drink mineraalwater.”

Kontak

  • Suna Kassier 033 260 5823, kassiers@ukzn.ac.za
  • Rentia Lombard 072 611 4694, foodsense@live.co.za, www.foodsense.co.za
  • Sunette Kotze 012 548 2762, skotze@lantic.net; www.healthline.co.za
  • Marlene Vermaak 012 460 5053, mardiet@mweb.co.za