Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS JUN/JUL 2014

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUN/JUL 2014

Dieet

Maklike wenke vir ‘n winter-dieet

Eers die slegte nuus: Die gemiddelde mens sit van ‘n halwe tot 1 kg gewig per jaar aan.

Die goeie nuus? Jy kan dit voorkom as jy elke dag net 400 kJ minder inneem. As jy gewig wil verloor, moet jy 1 000 kJ per dag uit jou dieet sny.

Maar dit gaan al hoe meer oor wát jy eet, en nie net hoeveel jy eet nie, sê Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl.

Hier is goeie gewoontes waarmee jy hierdie winter gewig kan afskud, sonder dat jy ’n ingewikkelde dieet hoef te volg.

SARIE.com gaan elke dag vir die volgende paar weke ’n dieetwenk uit ons argief deel. Hier’s die eerste een! 

1. Eet ’n tuisgekookte ete…

…minstens 5 keer per week. Dis een van die geheime van mense wat gewig verloor en dit nie weer aansit nie, het die Amerikaanse tydskrif Consumer Reports in ‘n opname bevind. Want restaurant- en wegneemetes laat die kilogramme opstapel. (www.consumerreports.org)

Mariza se wenke

  • Moenie meer as een keer per dag iets eet wat “kits” en klaargemaak is nie – hetsy soet of sout. Dit sluit energiestafies, souse, skyfies en kits-noedels in.
  • Onderskei tussen kitskos en geriefkos. ‘n Romerige sous waarby jy net water gooi, is waarskynlik “kitskos”, terwyl ‘n blikkie vis gerieflik is, eerder as kitskos.
  • Eksperimenteer met jou eie gesonde kits-etes. Jy kan onverfynde staatmakers soos gerolde hawermout, grofgemaalde mieliemeel, gort, rys, lensies en selfs aartappels en patats vooraf kook en in die yskas bêre.
  • Maak grofgemaalde geel mieliemeel gaar net soos polenta (fyn geel Italiaanse mieliemeel). Sit dit voor met dik tamatieskywe en ‘n bietjie gerasperde kaas, gesmelt in die mikrogolfoond. Of gebruik gisteraand se oorskiet-aartappel. Jy kan die kaas met gekrummelde feta vervang. Gebruik 1 tot 2 medium-aartappels (afhangend van hoe aktief jy is),’n groot tamatie en 2 eetlepels gerasperde kaas of ‘n derde skyfie feta.’n Lepeltjie pesto daarby is lekker – en gesond.

Lees WENK 2 HIER