Dieet

Mariza blog: “Eet só vir ‘n plat maag”

100 jaar gelede het ’n boepie by vroue amper nie bestaan nie, en so-ook nie enige van die sogenaamde ‘gesonde’ kosse waarmee ons vandag gebombardeer word nie.

“Ek wens ek kon dit afsny!” sê ’n pasiënt nou die dag.
“Wat wil jy afsny?” vra ek.
“Hierdie handevol vet om my naeltjie,” sê sy.

Ongelukkig, selfs al laat jy dit afsny, gaan dit nog nie jou probleem oplos nie, want die een of twee of meer hande vol van jou eie vleis wat jy so kan vashou om jou maag en middel is maar net die punt van die ysberg. Die res sit in jou buik!

Die boepies – voorheen net geassosieer met oupas en oumans – steek deesdae kop uit selfs by jong kinders.

Die oorsaak: Die moderne dieet en -lewenstyl.

100 jaar gelede het ’n boepie by vroue amper nie bestaan nie, en so-ook nie enige van die sogenaamde ‘gesonde’  kosse waarmee ons vandag gebombardeer word nie.

Ja, daar was nie iets soos laevet-margarien of -melk nie. En ook nie lae-GI en kits- en vinnige kosse nie. Kinders het groot geword op mieliepap en eiers vir ontbyt. Ma moes self brood bak, en dit het een keer per week gebeur. Elke tuin had ’n vrugteboom of twee gehad en fiets of stap was die modus van vervoer.

Vandag weet baie mense nie eers meer hoe growwe mieliepap smaak nie, wat nog te sê tuisgebakte brood en botter. Jong mense praat dikwels van enigiets wat geel is en op brood gesmeer kan word as botter.

Ons gejaagde lewenstyl en onaktiwiteit, laat nagte, min vars lug en sonskyn, besoedeling, chroniese medikasie soos die Pil en anti-depressante speel natuurlik ook ’n rol.

Die oplossing vir die een of twee of meer handevol vet wat jy kan vasgryp om jou naeltjie (jy en duisende mense wêreldwyd), is nie enige van bogenoemde nie.

Die oplossing is kompleks want die boepie en opgeblasenheid/pofferigheid/spekkigheid is net ’n simptoom van vele onderliggende kwessies.

As jy regtig sukkel, onthou, die onderliggende oorsake of faktore moet eers aanspreek word. En nee, dit is nie net ‘n pillietjie nie (al mag dit moontlik bietjie help.)

Om die wortel van die kwaad te vind is nie altyd so maklik nie, maar onderliggende insulienweerstandigheid is ’n algemene probleem by mense wat hardnekkige vet om hulle middel het. Jy het nie ’n deftige bloedtoets nodig om dit uit te vind of jy insulienweerstandig is nie. Meet jou middel, Mevrou. As hy mik tussen 80 cm en 94 cm is jy waarskynlik op pad na insulienweerstandigheid. Meneer, joune moet onder 102 cm wees, liewer onder 94 cm.

Dit is natuurlik nie die enigste oorsaak van die boep nie.

Almal almal kan egter baat vind by ’n paar eenvoudige veranderinge aan hulle daaglikse eetpatroon om die probleme geassosieer met oormaat vetberging aan te spreek waar dit begin: op selvlak.

Elke sel in jou liggaam moet ander voedingstowwe kry sodat hulle anders kan begin funksioneer – en die rol kan verbrand! As jy dit nie doen nie, gaan jy dit maar net oor en oor en oor doen.

As jy die gat in die wasbak nie regmaak nie – gaan jy aanhou water intap vir altyd.

Daar’s heelwat verandering en sommige van meer belang by sekere mense as by ander, maar hierdie 3 is maklik doenbaar:

1. Verander die soort vet wat jy eet

Verruil jou laevet-smere en -produkte gerus vir ongeprosseerde olies soos olyf- en avokado-olie, en ook organiese klapperolie. Eet meer rou neute liewer as laevet-skyfies. Die soort olie wat mens gebruik het ’n baie groot rol te speel in die manier wat ons liggaam vet kan gebruik. Vandag se dieet bevat te veel poli-onversadigde vette en verwerkte vette wat selle weerstandig maak vir insulien. Gee jy nie jou liggaam die regte vette nie, gaan die insulienweerstandigheid by jou bly en sal jy net kyk vir slaai, dan word jy vet.

2. Eet meer kosse ryk aan omega 3-vette

Sardientjies, salm, makriel, okkerneute, lynsaad, canola-olie. Elke sel se struktuur moet oorgebou word en genoeg omega 3 in jou dieet help verseker dat jou selle se struktuur so is dat hulle goed funksioneer. Jy het nie ekstra omega 6 nodig nie, daar’s genoeg in omloop.  Die voordeel van kos bo pille is natuurlik dat jy ook ander belangrike voedingstowwe soos zink inkry wat ook ’n rol speel in die ontwikkeling van insulienweerstandigheid en ’n boep.

3. Eet meer speserye en kruie

Chillies, paprika, kaneel, gemmer, pietersielie, marjolein, roosmaryn en knoffel om maar net ‘n paar te noem bevat almal unieke voedingstowwe wat ook op selvlak ’n invloed uitoefen. Nie net help dit dikwels met ’n gevoel van versadiging nie, dit voorsien aktiewe bestanddele wat inflammasie in ons liggame as gevolg van stres of te min voedingstowwe help neutraliseer. Hierdie kosmedisyne doen ook veel meer as om net die probleme by die selle te voorkom. Inteendeel kan dit ingespan word om saam met ’n beter dieet die probleem te behandel.

Dit is net die begin. As jy nie in totaliteit beter begin eet nie, dan sal jy soms die stryd wen, maar altyd die oorlog verloor. Let wel, ek gebruik doelbewus nie die woord ‘gesond’ eet nie bloot omdat die deursnit ‘gesonde’ dieet veels te veel voedsel bevat wat hierdie selherstel proses teëwerk. Jy ken die storie miskien? As jy perfek ‘reg’ eet verloor jy gewig en soms krimp jou boepie. Sodra jy egter een ietsie verkeerd eet, dan is jy nie 2 nie, maar 4 treë, terug.

Wil jy graag meer leer? Kuier gerus saam op facebook/bettereat en www.betereet.co.za. Wenke om BETER te eet wat deel kan word van jou lewe.

LEES OOK: Jy en jou ongelukkige derm