FOTO: Micky Hoyle

Dieet

Mariza blog: Geheime uit die koskas wat jou kan maerder maak

Dis nog lekker koud, maar die winteruitverkopings en lentemodes is reeds ‘n tasbare prik dat die lekker dik lae klere, warm jasse en snoesige truie een van die dae iets van die verlede gaan wees…

 

As jy jouself miskien so bietjie ‘laat gaan’ het in die koue weer – nog ‘n skeppie warm poeding geniet het of eerder snoesig onder die kombers hiberneer as om buite rond te hardloop, – mag jy al begin dink: hoe gaan ek van hierdie ekstra spekkies om die midrif ontslae raak? Moontlik is dit nog laasjaar en die jaar voor dit s’n waaroor jy nog nooit beheer kon kry nie?

Jy kan. Maar jy moet NOU begin. En nee jy hoef nie te begin ‘dieet’ nie. Jy kan net jou liggaam begin voorberei – soos wat tuinmense begin om hulle tuine voor te berei en kompos in te werk, en boere hulle lande voorberei vir planttyd…

Pomelo

Donna Lewis

Gaan jy dan makliker jou ekstra gewig kan verloor? As ek ‘n gewentenlose ‘ dieet-smous’ was, het ek JA geskree, jou geld gevat en gehardloop… en gou ryk geraak uit ander se smart. Maar ek is nie. Ek is DIEP onder die indruk van die kompleksiteit van die menselike liggaam en al die faktore wat bydra tot oorgewig.

Ek kan egter wel bevestig dat die kans dat jy makliker sal gewig verloor as jy hierdie ‘kosmedisyne’ neem, goed is. Ek kan ook bevestig dat jy gesonder sal wees.

Hoekom? Hierdie kosse spreek onderliggende ‘ probleme’  in jou lyf aan wat NIE deur die ‘lae vet, Lae GI, Lae koolhidraat, inspuiting of pil of hongerly-dieëte aangespreek word nie.

Begin dus sommer NOU om hierdie ‘ maermaak’ kosse te eet en gee daardeur sommer  jou algemene gesondheid ‘n goeie hupstoot. Daar is natuurlik nog vele ander ‘geheime wapens’, maar hierdie 5 sal jou klaar ver bring:

  • Die regte olie: elke sel in jou lyf is ‘n weerspieëling van die soort vet wat jy eet. Sekere vetsoorte veroorsaak byvoorbeeld meer insulienweerstandigheid, omdat dit die selwande se werking verander. Dit dra by tot ‘n geleidelike proses (dikwels oor jare) van stadige gewigstoename wat dan later sneeubal en bydra tot ontwikkeling van diabetes en hartsiekte. My top keuses is koudgeparste of koud geprosesseerde olyfolie, neute en sade (of koud geparste olies), Kanola-olie ( net Suid-Afrikaans-geproduseer en sonder preserveermiddels),  Avokado’s en botter.
  • Sardientjies:  Sardientjies is ryk aan verskeie voedingstwowwe, minerale, vitamiene en natuurlik OMEGA 3-vette. Wat jy miskien nie geweet het nie, is dat 1 blikkie sardiens elke week genoegsaam is om aanvullings oorbodig te maak. Sorg vir sardiens in olyfolie, water of tamatie. Die OMEGA 3-vette speel ‘n direkte rol in die insuliensensitiwiteit, maar ook in die ontwikkeling van insulienweerstandigheid.
  • Gemmer: Vars of gedroog. Dis maklik om gemmer deel van jou daaglikse patroon te maak; mens kan selfs heerlike tee daarvan brou. Gemmer werk op verskillende plekke in jou lyf om die onderliggende kwessies, wat  met hardnekkige oorgewig soos bonsende bloedsuiker, stress, cholesterol, en oneffektiewe detoksifikasie gepaardgaan, aan te spreek.
  • Kefir: Dit is aangesuurde melk en proe so iets tussen karringmelk en jogurt. Jy maak dit self met ‘n ‘jogurt plantjie’ of kefir kultuur. Nee, dit stink nie soos KUBUS vir dié wat dit onthou nie. Dit is een van die goedkoopste en maklikste, mees effektiewe maniere om veral jou dermkanaal gesond te hou. HIPOKRATES het al meer as 2000 jaar gelede geweet die dermkanaal is die orgaan wat ‘n uitgesproke effek op die hele liggaam se werking het. Die nuutste navorsing dui daarop dat daar waarskynlik ‘n direkte verband tussen die gebrek aan voldoende derm flora,  tesame met gepaardgaande suboptimale vertering (a.g.v. bv. preserveermiddels),  te veel verfynde kosse wat arm is aan vesel en voedingstowwe en te min rou kosse en die oorgewig en diabetes epidemie is! Anders as meeste kommersiële bronne van kulture of probiotika, bevat jou tuisgemaakte jogurt egter geen preserveermiddels nie en ook nie net een of nege verskillende soorte organismes nie, maar ‘n wye verskeidenheid! Elkeen het ‘n ander funksie. Almal is eintlik baie nodig en ons kry dit nie sommer uit ander voedselbronne nie…
  • Pomelo’s: Beskikbaar. Bekostigbaar. BRILJANTE aanvulling vir gewigsverlies, insulienweerstandigheid en selfs bloeddruk. Navorsing toon dat mense vet verloor deur net `n pomelo te eet. Lees gerus meer op www.betereet.co.za oor hoéveel, wánneer en wát. Onthou: pomelo mag inmeng met die absorbsie van SEKERE medikasie.

As jy meer wil weet HOE om hierdie en ander voedselsoorte gereeld te eet, en hoe om dit by jou eetpatroon in te skakel, kuier gerus saam op facebook/bettereat vir daaglikse BeterEet wenke.

Lees gerus meer op www.betereet.co.za en wenke vir beter, skoner tog lekker koskeuses op facebook/bettereat.

Mariza van ZylGeregistreerde Dieetkundige Facebook/bettereat
www.betereet.co.za
Mariza

* LEES AL MARIZA SE DIEET-BLOGS HIER