mariza_henk_foto_310w
Dieet

Dieetkundige Mariza blog: “Luister jy na jou lyf of verpakking?”

Ek is so benoud as ek nie kan ‘tel’ of sien of dit ‘n lae produk is al dan nie. Selfs as ek normaal eet, kies ek die opsies met ‘n badge.

Mevrou Voormy se probleem is deels die gevolg van jare se breinspoel. Een-voorskrif-pas-almal. Almal moet laevet eet. Die nuutste is almal moet vrugte vermy, of iets anders laag of hoog… Vul maar self iets hier in.

Ten spyte van massa-media-reklame (ja, voeding het ‘n advertensie-metode geword) is dit ‘n feit dat méér mense vandag voedingsverwante gesondheidsprobleme het as ooit voorheen in die geskiedenis van die moderne mens. Om die waarheid te sê word diabetes en sy voorlopers, insulienweerstandigheid en pre-diabetes, geklassifseer as ‘n epidemie.

Mevrou Voormy merk op met ‘n vraagteken in haar stem: “Vet is mos sleg vir die hart. Suiker, ook vrugte moet vermy word. Ek kyk uit vir kos wat ‘n badge dra, dis ‘n beter keuse.” Sy is goed geleer, dink jy?

Verkeerd. Sommige mense moet meer vet eet. Meeste mense eet te min groente en vrugte. Produkvervaardigers moet betaal vir die ‘badge’. Die een op die rak sonder die ‘badge’ is moontlik selfs beter, of miskien nie.

Mevrou Voormy sukkel met naweke en spesiale geleenthede en partytjies en voel sy eet verkeerd want die riglyne kan skielik nie meer toegepas word nie. Die kos is nie in pakkies nie, en omdat sy so gebreinspoel is deur al die diëtery, weet sy nie meer hoe nie. En het sy ook nie meer vertroue om te luister na haar lyf en met common sense beter keuses te maak nie.

As sy weer kan leer luister wat haar lyf sê sal dit makliker gaan om steeds te doen wat goed is, al is die kos nie in ‘n pakkie nie. Sy mag miskien nodig hê om byvoorbeeld by die restaurant ‘n paar vrae te vra voordat sy haar keuse maak, soos iemand wat allergies geword het vir ongesonde kos.

Probeer eenvoudig dit:

Dink terug aan ‘n tyd, toe jy nie geweet het van dieet nie. ‘n Tyd toe jy goed gevoel het, en jou lyf goed gevoel het. Het jy toe anders geëet? Miskien wou jy in elk geval nooit jou broodjies eet by die skool nie – maar het die biltong verslind. Die koek het jou glad nie gepla nie – maar jy kon nie genoeg kry van die bredie in die pot nie. Jy het sommer so in die loop ‘n wortel uit jou ma se yskas gehaal en het nodig gehad om heeldag te kou, maar was skoon siek as jy te veel geëet het by ‘n partyjie.

Daar is vandag verskeie akkurate, minder en glad nie akkurate metodes om mense se ideale dieet vas te stel.

Genetiese toetse, body typing, bloedtoetse om maar ‘n paar te noem. Selfs dan is daar nog ‘n magdom van onsekerheid oor wat presies goed is vir jou.

Wat wel presies seker is, is dat jy moet luister vir jou lyf, en hom nie aanhou martel as sy of hy vir jou sê hy kry sooibrand of ‘n energie–dip of ‘n hoofpyn. Miskien is jou derm net nooit gelukkig nie. Hierdie simptome vertel ‘n storie maak nie saak wát die badge sê nie.

Almal se dieet hoef nie brandmaer te wees nie, sommige mense moet brood vermy al is dit ‘n sogenaamde lae-GI-opsie en liewer aartappel eet of selfs ‘n stukkie sjokolade. Sommige mense moet min eet en ander hoef nie min te eet nie.

Universeel het almal egter baie vitamiene, minerale en voedingstowwe nodig. Het jy al so ‘n badge gesien? Volledige kos! Ja onverwerkte, onverfynde, heel en ongeprosesseerde kosse. As dit die basis van jou normale dieet maak, ongeag die badge, kan jy weer begin luister vir jou lyf en leer om op te hou dieet. Jy kan eerder kan jy dag-vir-dag ‘normaal’ beter eet – nie dieet nie…