Mariza blog: Piesangs, waatlemoen en jou gewig – waarheid of wors?
Foto’s: verskaf Galery
So twee weke terug het ek op BeterEet se Facebookblad ‘n lekker resep gesit vir waatlemoensap....’n maklike en ekonomiese manier om ‘ontslae’ te raak van ‘n pap waatlemoen. Die sap – en my woorde – was skaars koud: "Maar my ma is diabeet en mag nie waatlemoen eet nie...."
Sommiges klassifiseer sekere vrugte as ‘beter’ en ander as ‘slegter’ vir mense wat hulle bloedsuiker moet dophou, gewig wil verloor of gesond wil eet. Die hoofrede klaarblyklik: waatlemoen (en ander items soos papaja ) is nie LAE GI. Nou het piesang ook ‘n label gekry.
Piesangs is stysel.
Ja - Professor Tim Noakes het verlede week groot opslae gemaak met ‘moedige’ aankondiging dat sy grootskaalse verkondiging van ‘carbo loading’ miskien ietwat oor-entoesiasties was – veral as jy ‘koolhidraat’-weerstandig is.
Laasgenoemde is klaarblyklik dieselfde as die reeds alombekende insulienweerstandigheid.
Nou skakel hy alle koolhidrate uit. Ook piesangs.
My moed sak in my skoene – oor die wors! Die ‘gemaalde’ kosboodskappe. Al wat mense nou gaan onthou is: Moenie piesangs eet nie! Net soos die waatlemoenstorie. Die een het te veel suiker – die ander te veel stysel! Waaroor wonder jy nou? Ertjies? Mielies? Stysel of groente?
Ek stem heelhartig saam met Prof Noakes t.o.v. die ‘probleme’ met verfynde en geskonsentreerde bronne van suiker en stysel. My ‘weerstandige’ pasiënte doen al jare goed – want daar’s beter dinge om te doen as om lang lyste wat kosse klassifiseer as laag, medium en hoog te probeer bemeester.
Om egter die arme piesang die deur te wys...daaroor het ek my bedenkinge.
Net so paar gedagtes:
Alle vrugte bevat suiker. Maar meeste groentes ook. Ja, piesang bevat stysel – veral as dit groener is. Soos dit ryper word, sal dit meer vrugtesuiker bevat. Soos ‘n lemoen, of naartjie of ander vrugte.
Alle vrugte is gesond - ook waatlemoen en piesang – en is belangrike bronne van voedingstowwe.
Weerstandig? Wanneer dit by vrugte kom – en ook tot ‘n mate groente – ook styselgroente, is dit miskien nodig om meer aandag te gee aan HOEVEEL jy op ‘n slag?
Bladsy vir bladsy moet mense bemagtig word – om terug te gaan na ‘n eetpatroon wat jy kan volg sonder ‘n lys en sonder ‘n label. Maar dis maklik om te leer – vrugteporsies is min of meer soveel. Dis belangrik om nie NET piesangs of waatlemoen te eet nie. As jy genoegsame ‘kos’ eet – en minder staatmaak op ‘ vinnig’ of kits of wat-ook-al, sal dit moontlik makliker word om nie nie te veel te eet nie. Maak ook tog seker jy kou jou kos fyn! Eet stadig.
Ek het die waatlemoensap-som gaan maak – want daardie sap was baie lekker en soet genoeg dat mens regtig net so 100 ml nodig had as jy wel meer versigtig is met jou koskeuses. Ek het sprankelende water bygegooi vir ‘n verfrissende bruisdrankie. Ek het dit vir my Pa gegee wat ‘n diabeet is. Saam met ‘n hand vol amandels om aan te kou. En gesê hy moet dit stadig drink om te geniet – nie vir die ‘dors’ nie. En hy moet vergeet van GI. En vergeet van gewone voedsel-items wat ‘ taboe’ labels kry.
En as jy van die sommetjie hou: ‘n 200 g stuk waatlemoen (‘n halfsirkel so 2 cm dik gesny – wat ongeveer 200 ml sap lewer), ‘n medium piesang of lemoen, ‘n gehoopte eetlepel, hawermout, ‘n koppie melk, 12 baba-worteltjies of ‘n groterige beet en medium-aartappel – bevat almal dieselfde hoeveelheid koolhidrate....
Gooi enigeen wat sambreel-aanbevelings oor waatlemoen en sy makkers maak met ‘n papaja...
* Lees al Mariza se blogs hier












Kommentaar
Marieta de Jongh het gesê:
As mens alles ontleed sal jy 'iets' vind wat 'nadelig of negatief' is!! ...maar sonder kos bly of te min kos ook!!!.....solank mens matigheid met alles in die lewe toepas dan kan dit nie net verkeerd is nie. ek glo piesangs en waatlemoen het meer goeie as nadelige kenmerke so ek sal dit nie uitsny nie.....groete
19de Mar. 2012, 09:37Mariza van Zyl RD BeterEet het gesê:
Ellen - die koste van siek wees oor die langtermyn kan ek jou verseker is baie meer as die koste om 'n afspraak te maak - maar daarom het ek 'n webblad - om mense soos jy te help - www.betereet.co.za en 'like' gerus facebook/bettereat - daar sit ek ook heelwat wenke! Groete Mariza
1ste Mar. 2012, 13:10Ellen Jonker het gesê:
Hallo Mariza Ek het baie dringend die regte dieet nodig vir insulien weerstandigheid. Ek is verlede jaar Sept daarmee gediagnoseer en die medikasie (Glucophage) het "embarrassing" newe-effekte. Ek is oorgewig, het ongeveer 8 kg verloor vandat ek die medikasie begin gebruik het en dieet verander het, maar ek dink nie ek eet heeltemal soos ek moet nie. Ek het die apteker en internet geraadpleeg om reg te probeer eet. Ons het nie 'n mediese fonds nie en daarom het ek nie 'n dieetkundige gaan sien nie.
16de Feb. 2012, 20:04