mariza
Dieet

Mariza se dieet-raad: ‘Elke vrou het sjokolade nodig …’

Mariza van Zyl is ‘n geregistreerde dieetkundige, gewapen met 20 jaar se ondervinding, baie ure se navorsing en stories van duisende mense wat kom raad vra het. Kom lees haar blog en deel in haar kennis om beter te kan eet.

VRAAT! sê ek vir my rekenaar … terwyl ek nog ‘n hand vol neute eet … (Ek self is baie sensitief vir bloedsuikerfluktuasies en die neute help regtig.)

Ek moes drie keer op-top die afgelope week, dis nou data – nie kos nie (dit moet ek elke 3 uur doen). “Laai asseblief nog ‘n gig.” Dit alles om ‘n rigting te kry hoe ek hierdie blog moet benader …

Ek dink nie dit het my veel gehelp nie, dus gaan ek nou maar maak soos ek met kookboeke en selfs my SARIE KOS maak – lees, lees, lees en kyk die mooi prentjies, kry inspirasie en roer dan sommer ʼn paar verskillende resepte se bestanddele saam in een pot!

Sou makliker gewees het om weg te spring as ek ʼn wow-storie gehad het van hoe ek persoonlik 100 kg verloor het met ʼn mooi before en after foto van my wat ek kan gebruik om te bewys hoe goed my plan gewerk het …

Wat my nou laat dink, dis half jammer aan die een kant, want min dinge trek so vinnig mense se aandag – veral dié van vroue – soos ʼn gewigsverlies-suksesverhaal! En die klem is op die sukses: van hierdie nuwe of daardie nuwe benadering/pil/metode/program/behandeling/kuur/hulpmiddel.

Maar ek wil met jou ander se stories deel, en hoop jy sal ook jou storie met my deel …

Stories van mense wat 100 kg verloor het – weliswaar – maar in sarsies van 5 kg op, plus 5 kg af, plus 5 kg op, plus 5 kg af, tot jy by 100 kg gekom het.

Ook die lyfstories wat minder sigbaar is. Moeg wees, gedurig honger wees, opgeblaas voel,  hardlywigheid, geswelde voete, naels wat breek, hare wat uitval, warmgloede, pofferigheid, en die skildklierpille en antidepressante in jou kas!

Maar ook goeienuus-stories: ʼn Mens kan laat in jou lewe leer om na jou lyf te luister! Lekker eet is goed! Elke vrou het sjokolade nodig …

O ja, en ek moenie vergeet nie: Ek’s mal daaroor om dinge om en om te draai – en hou veral daarvan om geykte aanbevelings as’t ware om te dop. Brood of nie brood nie. Hoekom werk een eetplan vir een persoon – en GLAD nie vir ʼn ander nie. Moet ek botter eet of margarien? Wat pla jou wonder ek?

Dus, gewapen met 20 jaar se ondervinding, baie ure se navorsing, stories van duisende mense wat kom raad vra het (dankie dat ek by julle kon leer hoe elke ou se lyf anders is), nooi ek jou om saam met my op te hou om jouself gedurig sinneloos te dink aan “dieet”. Begin dink: Nie beste, nie altyd, nie net elke Maandag nie … net beter eet!

Groete,

Mariza van Zyl
Geregistreerde Dieetkundige

Facebook/bettereat
www.betereet.co.za

* LEES AL MARIZA SE DIEET-BLOGS HIER

  • SandraVR

    Ek lees graag meer Mariza, ek het al in al hierdie slaggate en nog meer getrap en nogsteeds nie sukses behaal nie

  • Amelia van Rooyen

    Sowaar ek dink sy skryf net vir my ken daai gevoel van moedeloos wees, gaan definitief na haar blog kyk.

  • Suzette

    Nou help vir my oo asseblief, ek wil net so 40 kg gewig afskud, maar ek het onderaktiewe skildklier, drink eltroxin daarvoor en drink oor beta blokker, wat moet ek eet want ek HAAT hongerpyne en as ek gefrustreerd raak dan eet ek, help.

  • Wit Kabouter

    Huh – niks geskryf nie – klink soos politikus, ai jaai jaai.

  • Lolla

    @Wit Kabouter – as jy nie verstaan nie, lees dit maar net weer. Dalk het jy nog net nie so gevoel nie. Moeg, moedeloos en selfs magteloos. Oefen, eet volgens jou reg, maar verloor nie die gewig. Dankie Mariza lees graag jou blog. Weet ek gaan nog baie van jou leer.