Dieet

Mariza se dieetblog: “Wat eet orangoetangs?

My 9-jarige kom nou die dag by my. In sy hand sy boek oor die aarde: “Mamma, wat eet orangoetangs?”

En ek dag by myself: My kind, ek’s ’n dieetkundige, nie ’n dierkundige nie. Tog was ek nuuskierig waarom hy die vraag vra.

Sy boek is oop by ontbossing … monster-stootskrapers het die grond oopgeskeur en reusagtige bome lê gesaai soos vuurhoutjies. Die reënwoude van die wêreld word uitgeruk om plek te maak vir landerye, en soja en palms word genoem as groot sondaars. Dié gewasse is oral in ons voedsel, lees maar gerus die etikette: SOYA en PALM OIL of PALM FAT. Koekies. Lekkergoed. Energie-gewende ontbytgraan. Kouevleise. Hierdie twee produkte help vervaardigers om “meer” te maak vir minder geld. Sodat kos dan meer bekostigbaar is.

Maar ek wonder: Kan die die mensdom se skynbaar onstilbare honger na méér stopgesit word? Almal hou mos van iets lekker of iets nuuts teen ’n goeie prys!

Orangoetangs eet onder meer vrugte. Die verband tussen hulle en ontbossing is natuurlik die verlies aan natuurlike habitat en daarmee gepaardgaande dieetopsies. Dít is die mens se skuld. Soos gewoonlik. Die moderne mens – of is dit die kapitalisme? – se natuur dikteer dat ons hou van méér vir minder. En moontlik het jy ook al gehoor dat gesond eet glo duur is. Ja, dit ís duur as jy spesifieke demands het of ’n “dieet” volg. Baie proteïene of baie vet of baie spek. Of baie wat ook al. Baie.

Die rede hoekom hy toe eintlik gevra het na die orangoetangs se dieet, was dat ons in ons huis sojamelk gebruik omdat hy allergies is vir melk. Na dese is hy nou heeltemal bereid om daarsonder te gaan, ter wille van die orangoetangs. Dit het my laat dink. Nege jaar oud en verantwoordelik en bereid om daadwerklik op te tree. Hy kan mos nie deel wees van die oorsaak dat die orangoetangs gaan uitsterf nie. My lewe is ook nou makliker. As ek weer moet “nee” sê vir ’n pakkie goedkoop “iets” wat in elk geval geen voedingswaarde het nie, kan ek die orangoetangs se hulp inroep.

Die term is “bekostigbaar”. Maar die bekostigbaarste voedsel is juis daardie produkte wat onverwerk, onverpak, onverfynd is. Pleks van mik vir “soveel jy wil” – hetsy vet of vleis of koeldrank – mik liewer vir “beter balans”. Beter vir jou en beter vir ons aarde.

Ek daag jou uit. Probeer een week geen eetgoed koop wat “kits” of “vinnig” of “maklik” is nie. Koop niks wat SOJA of PALM bevat nie. Dan is jy reeds halfpad daar. As bonus sal jou rande rek en die “beter eet”-indeks van jou dieet sal styg!

Groete tot volgende week,

Mariza