FOTO: Instagram  @inarebelheart

FOTO: Instagram @inarebelheart

Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Melk en jogurt – oor die nuutste ommeswaai….

Die onlangse ommekeer in die “eet-vet-vir-maerword-dieet”-geledere van prof. Tim Noakes verdien meer kommentaar. Melk en jogurt was aangedui as “groen lys”-kosse, oftewel “eet-soveel-jy wil”-opsies, en is toe stilletjies verskuif na die “oranje lys” van “wees-meer-versigtig”-kosse. En glo was daar nog skuiwe …

Ooglopend is die hele kwessie van melk nie met die nodige aandag deur dié groep bejeën nie. Ek deel graag ’n paar feite:

Melk en suiwelprodukte is ’n uitsonderlike bron van voedingstowwe. Proteïene en minerale – veral, maar nie nét kalsium nie. Melk bevat ook vet en suiker. Inderwaarheid bevat een glas melk nie veel minder suiker as ’n trossie druiwe of ’n lekker lemoen of 3 teelepels suiker nie.

FOTO: Inge Prins

FOTO: Inge Prins

Jogurt – ’n gefermenteerde melkproduk – is nie veel anders in Suid-Afrika nie, aangesien die fermenteringsproses hier vroeg gestop word om die “suur”, wat so kenmerkend van gefermenteerde melkprodukte is, te beheer. Die rede: ons is lankel gebreinspoel om te verwag ’n jogurt proe eintlik soos poeding, daarom sal volledig gefermenteerde jogurt baie suur wees en net nie in SA verkoop nie.

Selfs ‘n porsie (150 ml) gewone dubbelroom-jogurt bevat ongeveer dieselfde hoeveelheid koolhidrate as ’n teelepel suiker en klein aartappel. Die “suiker” in die dubbelroom-jogurt is darem gelukkig knus verpak saam met ’n lekker porsie proteïene en natuurlik vet.

Dié aanbeveling – eet suiwel soos jy wil as jy ’n lae-koolhidraat-hoë-vet-plan volg – het dus in die lig van die relatiewe hoë koolhidraat-inhoud van suiwel nog nooit heeltemal sin gemaak nie.

Nog ’n “melk”-faktor wat in ag geneem moet word, is die “hormoon-effek”. Net soos moedersmelk perfek aangepas is sodat dit in die behoeftes van klein mensbabatjies voorsien om optimale groei en ontwikkeling te bevorder, is koeimelk perfek aangepas om in die behoeftes van klein kalfies te voorsien.

Buiten die proteïene en vette en ook heelwat koolhidrate, bevat dit ook groei- en ander hormone. Dié hormone word natuurlik deur die moederkoei geproduseer om die kalfies se groeiproses te ondersteun. Maar nou kry die kalfie nie die melk in nie, ek en jy drink die melk en eet die jogurt – sommer bakke vol dubbeldik-jogurt – dit maak ons lekker trommeldik. En meer vet is mos beter, dan nie?

Jou heerlike versadiging is die gevolg van verskillende soorte proteïene – onder meer wei en kaseïen – wat in suiwel is. Dit is dan ook hierdie proteïene wat in sommige individue ’n positiewe effek uitoefen op aptyt en daarom kan help met gewigsverlies.

Sekere van die proteïene stuur ook ’n “verbrand vet”-sein na jou lyf, net soos ander stowwe, bv. ‘n insulien-tipe hormone (insulin like growth factor) , ’n “bêre vet”-boodskap na jou lyf stuur.

Maar daar is mense wie se liggame meer sensitief is vir die hormone. Hulle gaan steeds lekker vol voel van die suiwelprodukte, maar nie noodwendig gewig verloor nie omdat die eksterne hormone hul eie hormone nog meer deurmekaar kan krap.

Boonop mag jy ook geneties “verstop” as jy te veel versadigde vette inneem: Jou lyf kan gewoon nie die hoeveelheid vet verbrand soos gevind in ’n groter volume volroom-suiwelprodukte nie.

Vir klein, maer en uitgeteerde kindertjies of lenige aktiewe jong lyfies kan melk byvoorbeeld ’n baie positiewe effek hê. Maar daar is diegene wat minder blootstelling aan hormone moet oorweeg omrede hulle geneties meer sensitief is – hulle is die mense wat eerder vetter as maerder sal word, of dan nie gewig verloor nie, as hulle te veel suiwel inneem.

Die akteur Frankie Muniz 'n paar jaar gelede in een van die gewilde Got Milk-advertensies

Die akteur Frankie Muniz ‘n paar jaar gelede in een van die gewilde Got Milk-advertensies

Een dieet is nie vir almal nie en ’n swart-en-wit benadering – of dan ’n groen lys,   geel lys, rooi lys wat voorgeskryf word sonder dat individuele variasie in ag geneem word – is net so skadelik soos die toepassing “one size fits all”-dieetriglyne soos “Lae vet” en “Lae GI” waarteen die nuwe vet-eters met soveel vuur uitvaar.

As jy nie jou lyf heeltemal verstaan nie, is matigheid altyd die beste roete.

Lees gerus in volgende week se blog meer oor “hormoon-sensitiwiteit”

Groete tot volgende keer

Mariza

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

www.betereet.co.za