Dieet

Michele Riley het 70 kg verloor met ‘n HVLK-eetplan

Michele Riley van Hermanus het sowat 70 kg afgeskud, die meeste daarvan op ’n hoë-vet-lae-koolhidraat- (HVLK)-eetplan. Hier is haar storie.

‘‘My gewig was die grootste deel van my lewe ’n probleem. Dit het my meer as dertig jaar as mens gedefinieer. Ek is 51 en weeg 73 kg. Die laaste keer wat ek soveel geweeg het, was op my troudag 30 jaar gelede – ’n geleentheid waarvoor ek ook gewig verloor het.

Ek het in November 2012 by die HELP-buitepasiënte program (vir mense met koolhidraat-verslawing) by die Harmony-kliniek in Kaapstad aangesluit en ’n HVLK-dieet begin volg. Ek het toe 116,8 kg geweeg. Dit nadat ek reeds sowat 28 kg afgeskud het – op my swaarste het ek die skaal op 144,6 kg laat kreun. Maar dit was ’n stryd om die gewig wat ek verloor het, nie weer op te tel nie.

Dit het ’n rukkie geneem om daaraan gewoond te raak dat ek hoëvet-kosse kan eet – dat volroommelk, -jogurt en room nie meer taboe is nie. Ek het gedink ek gaan koolhidrate baie mis. Maar nadat ek eers besluit het om dit uit my dieet te sny, was dit maklik om daarsonder klaar te kom. Terwyl ek op die HELP-program was, is my gewig weekliks gemonitor. Ek het hoofsaaklik  geswem vir oefening, omdat ek ’n knie-besering gehad het waarvoor ek ’n operasie moes kry. Die eerste sowat 3 weke was ek maar tammerig as ek oefen, maar daarna het my energievlakke gestyg.

Ek het 20 kg verloor en die knie-operasie ondergaan. Daarna wou ek fiks word. Ek het dus deelgeneem aan ’n ses maande lange fiksheid- en makeover-uitdaging by ’n gimnasium op Hermanus. Hoewel ek baie geoefen het, was ek nooit sonder energie nie. Ek het steeds die HVLK-dieet gevolg. Toe ek die uitdaging in Januarie vanjaar  voltooi, was ek die eerste keer in 25 jaar nie oorgewig nie.

michele Riley dieet tim noakes

Fisiek voel ek sterk, fiks en energiek. Ek is nie meer so opgeblaas soos toe ek koolhidrate geëet het nie, veral dié met baie suiker. Ek kry ook nie meer cravings vir koolhidraatryke kosse nie. Ek kon my medikasie vir hoë bloeddruk los en my medikasie vir insulien-weerstandigheid verminder.

Emosioneel het ek ’n meer positiewe uitkyk op die lewe en ek voel ook beter oor myself. Dit is vreemd as mense my soms glad nie herken nie. Dit het my ’n rukkie geneem om gewoond te raak aan hoe ek nou lyk. Jy verander ook innerlik. Ek is ’n emosionele eter en weet ek moet te alle tye bewus wees van wat ek voel en hoekom. Sodat ek nie weer kos gebruik om my emosies te hanteer nie.

My man het my nog altyd ondersteun, ook toe ek op my swaarste was. Hy het die pad saam met my gestap en is trots op my prestasie. Hy volg ook die HVLK-eetplan, het gewig verloor en voel goed.’’