sarie030
Dieet

Murgpampoentjie-tzatziki met kaaspoffers

Heerlik vir inpak kos werk toe!

Pleks van komkommer, gebruik jy murgpampoentjies om hierdie vars tzatziki te maak. Die kaaspoffers is ’n Brasiliaanse lekkerny. Dit word gemaak van tapioka-meel wat jy by gesondheidswinkels koop, dis heerlik botterig en klam in die middel – en dis glutenvry!
20 kaaspoffers – genoeg vir 6

Kaaspoffers
• 250 g (270 ml) ongesoute botter, in blokkies gesny
• 250 ml melk
• 5 ml sout
• 300 g (625 ml) tapioka-meel
• 2 eiers
• 100 g parmesaankaas, fyngerasper

Murgpampoentjie-tzatziki
• 4 klein murgpampoentjies, grofgerasper
• 250 g Griekse-styl jogurt
• 3 kruisementblare, fyngekap
• 1 knoffelhuisie, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper

Poffers Verhit oond tot 180 °C. Plaas botter, melk en sout in ’n kastrol. Verhit tot botter gesmelt het. Haal af van hitte en voeg tapioka by. Meng goed tot alle klonte opgelos het. Laat deegmengsel effens afkoel en plaas in mengbak van ’n elektriese menger. Klits deeg by stadige spoed tot koud. Moenie bekommerd wees as die botter uitskei uit die deeg nie – as die deeg afgekoel het, sal die botter weer deel word daarvan. Wanneer die deeg koud is, voeg die eiers een-een by en klits goed ná elke byvoeging. Vou die kaas in met ’n metaallepel, maar hou ’n bietjie eenkant om bo-op te sprinkel. Skep groot teelepels vol deeg so 5 cm uitmekaar op uitgevoerde bakplaat. Plaas in oond en bak 30 minute.
Tzatziki Meng al die bestanddele in mengbak en geur met sout en peper. Sit voor saam met kaaspoffers.