'n Dieet vir hom én jou
Met dié dieet kan julle albei 4 kg in die eerste maand afskud.
Jy’s so verlief . . . maar die skaal trek swaar.
Studies wys vroue in ’n vaste verhouding sit dikwels gewig aan. Want wie tel nou die kilojoules as jy skitter, veral as die liefde nog douvars is? Dis boonop tog te lekker om peusel-happies met jou geliefde te deel, nè?
Dit het Jenna Bergen, ’n Amerikaanse spinning-instrukteur, selfs genoop om ’n boek te skryf. Your Big Fat Boyfriend: How to Stay Thin When Dating a Diet Disaster (Quirk Books, Januarie 2009) gee wenke oor hoe om nie gewig aan te sit as die liefde blom nie.
SARIE het Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl, gevra om ’n eetplan saam te stel wat die man in jou lewe maklik sal kan volg. Met aanpassings sodat dit ook vir jóú sal werk.
Volgens Mariza hou mans nie van ’n dieet met fieterjasies nie. Dit moet eenvoudig, bondig en sonder sukkel wees. “Jy en jou geliefde kan elk tot 4 kg in die eerste maand verloor. Veral as julle baie het om van ontslae te raak behoort julle dit maklik af te skud – sonder om honger te wees. Met die dieet kan julle dalk 10 of selfs meer kilogram in drie maande verloor.”
Reëls
- Volg met elke maaltyd al die stappe – kies uit elke groep
- Moenie etes oorslaan nie
- Moenie kos uitlaat nie
- Eet al die porsies en keuses soos aangedui
- Eet stadig
Vir vroue
Die eetplan is vir mans uitgewerk. Met die volgende veranderinge is dit egter ook vir vroue geskik:
- Ontbyt: Eet die helfte van genoemde hoeveelhede. Die uitsondering is die hoeveelheid suiwel (groep 1) en stysel (groep 2), wat dieselfde bly.
- Vir middag- en aandete is die hoeveelhede dieselfde vir jou en hom. Halveer egter die porsie stysel (groep 2) en proteïene (groep 1).
- As jy PMS het, kies witbrood en eet 2 blokkies sjokolade (aandete).
ONTBYT (06:00 – 08:30)
Kies telkens 1 uit elke groep
Groep 1
1 k. ongegeurde laevet-jogurt/melk
Groep 2
* ¼ k. rou, gerolde (nie kitskook) hawermout (60 ml) of rou hawermoutsemels (Oat Bran); of* ½ k. (125 ml) gebakte boontjies in tamatiesous (baked beans)
Groep 3
* 2 vrugte (ook piesang) of 2 snye roosterbrood (Kies hierdie opsie net 2 keer per week. Kies ’n swaar brood met groot gate.)
Groep 4
* 2 eiers (gekook of geposjeer) of 6 velletjies maer ham of 2 skelvis-filette; of
* ½ k. gerasperde kaas of 2 snye kaas
Groep 5
* 2 t. olyfolie of ½ avokadopeer of 20 amandels
* Bykomend: ½ k. of meer gesnyde uie, sampioene, tamaties of dik skywe tamatie en uieringe. Eet saam met die eier, vis of ham.
- Kombineer die hawermout (rou) met jogurt, vrugte en neute en eet byvoorbeeld agterna die gekookte eiers.
- Bak of posjeer eiers en kombineer met uieringe, tamatie en boontjies in tamatiesous. (Gebruik die olyfolie en ’n kleefvrye pan hiervoor.) Eet ’n bakkie vrugteslaai en jogurt daarmee saam of maak ’n vrugte-en-jogurt-smoothie.
- Gebruik die eiers om ’n omelet te maak en vul met sampioene, tamatie en uie. Sit voor saam met roosterbrood of ’n Engelse muffin.
- Gebruik melk na behoefte en ekstra eierwit om bv. ’n omelet te maak.
- Drink ’n koppie tee of goeie koffie met of sonder melk saam met ontbyt. Beperk suiker tot 1 teelepel.
Middagete
Ligte maaltyd van die dag (12:00 – 14:00)
Kies telkens 1 uit elke groep
Groep 1
’n Groot porsie (100 g of meer) van enige van die volgende:
* tuna in water (1 blikkie) of salm (½ klein blikkie) of sardientjies, oortollige olie afgegooi (1 blikkie); of
* ham/pastrami/koue, geroosterde of gerookte hoender; of
Jy kan die volgende tot 2 keer per week kies:
* 1 wiel feta of 2 wiele met verminderde vet; of
* 3 eiers, gekook (verkieslik Omega-eiers)
* 1 k. gaar basmati-/bruin- of bruin-en-wilderys; of
* 1 k. gaar pasta, gekook tot al dente (kies pasta gemaak van durum-koring); of
* 1 blikkie gebakte boontjies in tamatiesous (baked beans) of botterbone; of
* 1 groot patat
* 1 rou tamatie; of
* 1 k. ertjies (bevrore, rou of geblik) of gemengde bevrore groente; of
* wortels (soveel jy wil) of 2 – 3 k. groente, gekap of skyfies of heel, bv. tamatie, ui, komkommer, babamielies, ens.
* sap van halwe suurlemoen
Peusel deur die dag
2 vrugte
+
hand vol volstruis- of maer biltong
+
hand vol rou amandels
Aandete (18:00 – 20:00)
Kies telkens 1 uit elke groep
GROEP 1
* 300 g+ stokvis of enige ander vis (nie met deeg of in olie gebak nie); of
* 200 g snoek; of
* 250 g of 2 hoenderfilette (sonder vel); of
* 250 g of 2 hoendersosaties (met of sonder marinade); of
* 100 g of 1 lamstjop (alle sigbare vet verwyder); of
* 200 g kruisskyf (rump steak); of
* 150 g rou, ekstra maer maalvleis, beesvleis of lamsboud in bredie of kerrie of as deel van ’n roerbraai berei. Gebruik die vet (sien 4) vir bereiding, d.w.s. 2 t. vir elke persoon wat eet.
GROEP 2
* 1 medium-aartappel of 4 baba-aartappeltjies; of
* ½ k. gaar basmati-/bruin- of bruin-en-wilderys; of
* 1 k. botterskorsie (butternut) of ½ k. bevrore/ geblikte mieliepitte of 1 mielie
GROEP 3
* 2 k. of meer groenboontjies, uie, kool, broccoli, blomkool, tamatie, komkommer, murgpampoentjie (baby marrow), aspersies, wortels, ertjies en enige ander groente (’n blikkie tamatie tel ook as “groente”)
GROEP 4
* 2 t. canola-/olyfolie of ½ avokado of 4 e. pesto
GROEP 5
* koffie/tee en ’n blokkie Lindt 70%+ sjokolade
* Drink: Mineraalwater, koffie, tee, rooibos, cappuccino of espresso. Koffie/tee met laevet-melk is onbeperk, maar net 3 t. suiker per dag word toegelaat.
WAT OM TE DOEN
- Kook vir aandete altyd meer stysel en selfs groente – gebruik die aartappel, rys en pasta dan as basis vir jou middagmaal.
- Die kombinasie van rys/aartappel, ’n proteïen en groente kan warm of koud geëet word.
t. = teelepel = 5 ml
e. = eetlepel = 15 ml of 3 teelepels
k. = koppie = 250 ml
Die eetplan is gebalanseerd en jy kan dit onbepaald bly volg, mits jy ’n verskeidenheid van kosse kies. Vir nuwe idees, aanpassings as jy baie aktief is of spesifieke gesondheidsprobleme het, asook wenke as jy uiteet, braai en weg van die huis af is:
ALLES EN NOG WAT
Aanvullings
Neem mineraal-aanvullings as jy baie oorgewig is, lank ongesond geëet het en ’n familiegeskiedenis van byvoorbeeld jig of artritis het. Mariza beveel ’n ½ t. soggens en saans van
Dr Vogel Alkaline Powder (beskikbaar by apteke) aan.
Gebruik vars kruie en speserye soos brandrissie, gemmer en koljander, veral by middagete. Dit bevat voedingstowwe wat goed is vir jou gesondheid. Besoek die biblioteek by www.betereet.co.za vir meer inligting oor kruie en wat saam met watter soort geregte werk.
Sout
Ja, jy mag maar. Let egter op hoeveel jy gebruik. Gebruik bv. sout net as jy proteïene en stysel soos aartappel en rys gaarmaak. En nie saam met groente nie.
Brood
Moenie net een soort brood eet nie, al is dit sogenaamde lae GI.
Kies suurdeeg- of beslagtipe-brood (bv. regte Italiaanse ciabatta of panini).
Vries brood en ontdooi by kamertemperatuur. Die GI is dan laer.
Suiwel
Kies laevet-melk en -jogurt en kaas sonder rBST (groeihormone).
Alkohol
Drink die eerste 2 weke net drankies laag in alkohol. Mans moenie meer as 2 – 3 en vroue 1 – 2 sopies per dag drink nie.
Verwante artikels
-
"As ek mismoedig is wil ek net eet"
SARIE Julie 2010
-
Eetplan vir nuwe ma's
SARIE - Januarie 2011 | Kommentaar: 1
Dalk is jy ook ’n nuwe ma wat ná jou swangerskap sukkel om gewig te verloor. Ons het gaan uitvind wat is die beste en veiligste manier om jou figuur terug te kry.
-
Jou dieet-vrae beantwoord
SARIE - September 2009 | Kommentaar: 2
Jy eet laevetkos, maar verloor nie gewig nie. Of jy's 'n uur ná ontbyt weer honger. Jou kwelvrae het gelukkig eenvoudige antwoorde.
-
Julle oor dieetpille en -aanvullings
SARIE - Februarie 2010
-
Tot siens selluliet - hier's die eetplan
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 4
Jy kan in 14 dae tot 3 kg verloor! Jou selluliet gaan klaar effe beter lyk, en ná 3 maande sal jy ’n gróót verskil sien. Dis nou as jy ons (maklike) eet- en oefenplan volg ...
-
Verloor gewig sonder dieet - Rêrig! (Wenk 6 - 15)
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 8
Dis winter en tyd vir tuisgemaakte bredies, cappuccino en lepellê. En sowaar, dís dinge wat jou kan help gewig verloor












Kommentaar
Sasha vd Berg het gesê:
dit werk
8ste Okt. 2010, 15:11Mariette Coetzee het gesê:
Goeie middag, Ek is 31 en het 2 dogtertjies(3&5), van my jongste se geboorte sukkel ek om gewig te verloor en is nou regtig moeg om so te lyk en te voel. Ek het teminste 18kg om te verloor. Moeg Mariette
6de Jul. 2010, 14:40Susan Owen het gesê:
Vir jou en Gerki? Kyk maar daarna
8ste Sep. 2009, 14:52