FOTO: Getty Images / Gallo Images

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Dieet

Ons vet kinders – Is ‘bant’ die oplossing?

Ons kinders bars behoorlik uit hul nate. Pas het twee boeke verskyn wat ’n laer- koolhidraat-hoë-vet-dieet as die oplossing aanbeveel. Een daarvan deur die omstrede prof. Tim Noakes. Lydia van der Merwe stel ondersoek in.

Hier volg ’n uittreksels uit die artikel “Ons vet kinders”in ons Oktober-uitgawe.

oktober 2015 okt carlize earle voorbladgesig

Toe aktrise Gwyneth Paltrow twee jaar gelede aankondig haar kinders eet nie koolhidrate (brood, pasta, rys) nie, het dieetkundiges gewaarsku hulle kan aan voedingstekorte ly. Hul brein gaan glo ook nie behoorlik kan werk nie.

So pas het twee boeke plaaslik verskyn wat presies dit vir kinders voorstel. En boonop aanbeveel hulle moet nie afgeskeep word as dit by vet kom nie. Kompleet met resepte vir elke fase waardeur ’n groeiende kind gaan.

Dit teen die agtergrond van ’n kos- omwenteling wêreldwyd. Die vinger word toenemend na verfynde stysel en suiker gewys as ’n bydraende faktor tot die vetsug-epidemie in veral Westerse lande. Dat die laevet-manie die laaste paar dekades toe nie so ’n goeie ding was nie.

Prof. Tim Noakes dryf die lae- koolhidraat-hoë-vet-beweging (LKHV, oftewel banting) ter plaatse. Dis nou ná die weghol-sukses van sy omstrede boek, Die Kos Revolusie (Quivertree, 2013). Sy aanbevelings vir kinders het hom egter vroeg die wind van voor laat kry. Toe hy op Twitter ’n ma aanmoedig om haar baba op ’n LKHV- dieet te speen, het die Vereniging van Dieetkunde (ADSA) hom voor die Gesondheidsberoepsraad gedaag. (Die verhoor is 23 November.)

Maar The Real Meal Revolution – Raising Superheroes (deur Tim Noakes, Jonno Proudfoot en Bridget Surtees) is verrassend gebalanseerd, baie daarvan kan selfs verstandige raad genoem word. Daar word gou verduidelik dis nie streng banting, dus geweldig min koolhidrate, nie. Maar wel anti-suiker en anti-verfynde koolhidrate. Die meeste ontbytgraankosse en kommersieel voorbereide babakos, staatmakers vir baie ouers, word summier by die deur uitgegooi.

In dieselfde tyd verskyn Kath Megaw, dieetkundige met ’n belangstelling in kindervoeding, se Real Food, Happy, Healthy Children. Kath is baie beslis dis nie banting vir kinders nie. Sy wil eerder die klem op natuurlike, nie-geprosesseerde kos laat val. Enige verpakte kos is dus ook in die spervuur. As voorstander van ’n laer-koolhidraat- hoë-vet-dieet vir kinders is vergelykings met Superheroes onafwendbaar.

Kath doen wat sy sê: Dis hoe haar drie kinders, Joshua (16), Teegan (12) en Jaytn (9), eet. Teegan, ’n danser, oefen tot agt ure per dag.

Nog ’n dieetkundige, Tamzyn Murphy Campbell van Kaapstad,
se dogter, Hannah (3), volg ’n laer- koolhidraat-hoë-vet-dieet sedert sy ses maande is.

Lees verder in ons Oktober-uitgawe …

Lees in die Oktober-uitgawe

  • Waarom jou kind se dieet verander?
  • Só moet jou kind eet
  • SARIE se vet-gids
  • Hoe doen jy dit?
  • Speen hulle van suiker
  • Aanbevelings van ’n dieetkundige