Dieet

Raadop met my oorgewig kind …

Die gevaarligte het stelselmatig begin flikker. Sy het na meisies van dieselfde ouderdom gekyk, vergelykings getref. Haar kind is groter, ja, maar sy kom mos uit ’n lang familie, het sy haarself getroos.

Op ’n dag het Martie* egter besef dis nie meer ’n verskoning nie. Iets was ook nie pluis met haar kind se eetpatroon nie. Sy sou ná ’n maaltyd opstaan en in die yskas invaar.

“Ons gesin leef gesond. Die kinders is aktief en Emma* speel hokkie, netbal en tennis. Ek is altyd daar om vir hulle kos te gee, hulle hoef nie vir hulself te sorg nie. Boonop het ek van kleins af goeie eetgewoontes by hulle probeer kweek,” sê Martie.

Sy het besef sy moet ingryp, maar was sku vir ’n dieetkundige. “Kinders is slim en ek wou nie ’n negatiewe ding veroorsaak van oor en oor dieet nie. Ek wou die oorsaak van die probleem opspoor. Hoekom eet sy soos ’n stofsuier? Sy is gedissiplineerd met haar skoolwerk, sport. Hoekom nie met kos nie?

“Dit tas later jul verhouding aan. Jy raak so desperaat dat jy wil sê: ‘Hou net op met eet! Wat ís dit in jou wat maak dat jy aaneen wil eet?’ Ja, ons eet soms verkeerd, maar dit was nie al rede waarom sy gewig aangesit het nie. Daar was méér, het ek gevoel.”

’n Pediater het gesê hou dit dop. En later: Sy moet net meer beweeg. Maar Martie het geweet dis ’n wegholtrein.

“Ek het probeer keer dat sy tussenin eet, vir haar kos skool toe ingepak. Maar ’n kind bly ’n kind.

“Jy voer ’n stille stryd. Sy eet ’n ysstokkie op ’n partytjie. Jy kan sién die ander ouers dink: Jou kind lyk so lekker, want sy éét so lekker.”

’n Jaar gelede het sy besef ’n gesonde leefstyl gaan nie die probleem hokslaan nie. Op 11 het Emma al rekmerke gehad. En haar selfbeeld was laag. “Die kinders by die skool was aaklig, my hart wou breek. Eendag het sy ná skool in die motor geklim, sy het die mooiste rokkie aangehad. ‘Weet ma wat sê daai meisiekind? Sy vra of ek pregnant is!’ het sy gesê.

DÍt was die kruispad.”

Iemand het Mariza van Zyl, ’n dieetkundige van die Paarl, aanbeveel. Bloedtoetse het getoon Emma het ”n ystertekort en ’n trae skildklier, laasgenoemde is ’n familietrek. En sy is insulienweerstandig. “Soos ’n diabeet dors bly, bly jy eterig.” (Die seine vir honger/versadig raak deurmekaar.)

“Die ystertekort maak haar moeg. Maar sy was ook emosioneel uitgeput. Sy sien hoe mense na haar kyk en kruip terug in haar dop.”

Mariza het gesê hulle moet die skaal wegpak; hulle het net Emma se middel gemeet en binne 6 weke het sy 6 cm daar verloor.

“Ek het skielik ’n kind wat weer wil leer, en weer by ons sit en gesels,” sê Martie. “Sy het nou die dag die eerste keer op die verhoog gesing, iets wat sy nooit voorheen sou gedoen het nie.”

Sy glo die ervaring kan Emma ’n lewensles leer: Van deursettingsvermoë en motivering, dat jy terugkry wat jy insit. Jy sien wat dissipline en geduld jou in die sak bring.

Hoe het sy Emma sover gekry om saam te werk? “Ek het vir haar die feite gegee: ‘Jy weet tannie sus en so is ’n diabeet? Jy weet dis gevaarlik? Jy is op pad daarheen. Maar dit kan gekeer word; ek sal die pad saam met jou stap.’ Ek volg saam met haar ’n dieet. Dis ’n spanpoging. Dis die invloed wat ’n ma kan hê. Jy is immers die een wat kook.

“En ons eet steeds lekker. Sy voel nie sy word iets ontneem nie. Haar kosblik is propvol. Dis nie asof almal pouses agterkom sy volg ’n dieet nie. En as iemand verjaar en daar is cupcakes en sy kan nie nee sê nie, is dit oukei. Môre eet sy weer reg. Want dis ’n lewenstyl, nie iets wat ophou nadat sy ’n paar kilo’s afgeskud het nie.”

[box:full:red:both]

In jou April-uitgawe van SARIE, nou op die rak, gee kenners raad vir jou en jou oorgewig kind. Hulle deel alles wat jy moet weet en gee wenke oor hoe om dit reg te hanteer.

[/box]