FOTO ter illustrasie FOTO: Instagram

Dieet

SARIE-leser vertel: My 13-jarige dogter verloor 20 kg PLUS raad aan ouers van oorgewig kinders

Oorgewig-kinders in Suid-Afrika is toenemend besig om ’n groter probleem te word. In die Julie-uitgawe van SARIE het ’n SARIE-leser vertel hoe haar 13-jarige dogter 20 kg verloor het. ’n Sielkundige bied ook raad aan die ouers van oorgewig kinders.

“My meisiekind, Sanet*, het besluit sy wil gewig verloor, want sy is geneig om maklik gewig op te tel. Ek het verduidelik hoekom ’n gebalanseerde dieet noodsaaklik is en die rol van elke voedingstof in ’n gesonde eetplan.

Sy was so bang haar metabolisme word stadiger of dat sy spiermassa verloor, want ek het haar vertel watter belangrike rol dit in gewigsbeheer speel. Sy het my behoorlik met vrae gepeper en self gesorg dat sy reg eet en oefen. Dit was waarskynlik een van die hoofredes waarom sy suksesvol was. Sy het dit nie gedoen net omdat ek dit wou hê nie.

Haar gewigsverlies het so ’n positiewe effek op haar gehad. Sy het meer selfvertroue om aan skool-aktiwiteite deel te neem. Sy wou skielik mooi klere koop. Al die komplimente wat sy van maats, hul ma’s, onderwysers, vriende en familie gekry het, was so goed vir haar. As ek na al die ‘lekker’ kyk wat sy nou ervaar, lyk die bietjie swaarkry van die dieet nie na ’n opoffering nie.

Vir my as ma is die grootste voordeel die goeie gewoontes wat sy aangeleer het. Sy het nie net ’n eetplan gevolg nie, sy het ook haar leefstyl aangepas en eet steeds so. En die rimpeleffek op die res van ons gesin is fantasties.”

*Skuilnaam

8 Wenke aan ouers

 

  • Stel ’n voorbeeld. Leef en eet soos jy graag wil hê jou kind moet.

  • Doen dadelik iets as jy agterkom jou kind se gewig of liggaamsbeeld is vir hom ’n probleem. Luister na hom, bespreek saam ’n oplossing en kry hulp indien nodig.

  • Probeer die oorsaak vasstel. Is dit verkeerde eetgewoontes, of is daar mediese of emosionele redes?

  • Gee hom inligting oor die aard, oorsake en gevolge van sy probleem. Doen dit só dat hy verstaan.

  • Kitsoplossings werk nie en herhaalde mislukkings gaan hom net laat glo hy kan nie gehelp word nie.

  • Alle gesprekke met hom moenie rondom kos of die verbod daarop draai nie. Doen lekker goed saam en gesels ook oor ander dinge. Hy sal beter saamwerk.

  • Maak van kleins af konsekwente reëls oor maaltye en veral snoepgoed.

  • Waak van kleins af daarteen om hom met kos te beloon. Of om hom te dwing om nóg te eet. Hy moet op gereelde tye eet. En net as hy honger is, nie vir dinge soos beloning of stres nie.

Bron: Annalize Green, opvoedkundige sielkundige van Pretoria