000016484
Dieet

Té groot babas nie gesonder

Jy kry ‘n e-pos met ‘n foto van jou vriendin en haar pasgebore baba. Dit gaan goed met Ma en Baba, dankie. Die kleinding weeg ‘n gesonde 3,8 kilogram. . .

Maar dié geboorte-gewig is glad nie gesond nie. Navorsing toon baie klein én baie groot babas het ‘n groter kans om later in hul lewe metaboliese afwykings te hê, wat kan lei tot probleme soos oorgewig, diabetes, artritis en hartsiektes.

Jou eetgewoontes vóór jou baba se bevrugting het reeds ‘n uitwerking op hom/haar. Die hoeveelheid en soort vette wat jy eet, beïnvloed byvoorbeeld sy/haar breinontwikkeling. Dis belangrik om omega 3-vetsure (soos olieryke vis) in te neem – selfs nog vóór bevrugting.

Hoeveel gewig jy tydens swangerskap aansit, asook wipplank-bloedsuikervlakke, het ook ‘n uitwerking. Ma’s wat in hul swangerskap met diabetes gediagnoseer word, het dikwels groter babas. As jou bloedsuikervlakke hoog was, is jou baba boonop ”gewoond” daaraan. Die mediese span moet dan met die geboorte regstaan omdat jou baba se bloedsuiker skielik val.

Te min proteïene strem weer jou baba se groei en kan beteken hy/sy is by geboorte klein – en dit maak hom/haar net so vatbaar vir metaboliese afwykings as ‘n te groot baba.

Goeie voeding is die grootste geskenk wat jy jou ongebore kind kan gee. En daarmee word nie bedoel jy moet jou volstop omdat jy nou ”vir twee” eet nie!

Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za.