Tim Noakes

Tim Noakes

Dieet

Tim Noakes-dieet: Kan almal by dié eetwyse baat vind?

Versadigde vet is jou vriend, koolhidrate die vyand, sê prof. Tim Noakes. Die debat het weer opgevlam met die verskyning van sy boek. Almal praat daaroor, maar kan almal baat vind daarby?

Drie kenners antwoord – kan almal baat vind by dié eetwyse?

1) Ja! Dit het my lewe verander

Dr. Gerhard Schoonbee, ’n mediese dokter van Stellenbosch, sê dit het sy lewe verander. Hy het twee jaar gelede 126 kg geweeg. Vandag is hy 26 kg ligter en minus ’n rits kwale: diabetes tipe 2, onegalige hartklop, slaapapnee, hoë bloeddruk, jig, selfs growwe vlekke op sy vel. Sy vrou het 9 kg verloor en sy skoonsuster 30 kg. Sy swaer weeg 25 kg minder en gebruik tans geen medikasie vir sy diabetes tipe 2 en hoë bloeddruk nie.

2) Nee, dít is nie die antwoord nie

Prof. Tess van der Merwe, endokrinoloog en vetsug-kenner van Pretoria, sê daar is geen dieet wat dogmaties voorgeskryf kan word as die enigste wetenskaplike uitweg nie. En geen studie wat met oorweldigende resultate wys ’n hoëvet-dieet slaan vetsug, diabetes of hartvatsiektes hok nie. Die realiteit is dat ’n oormaat versadigde vet jou insulien-reseptore onder net soveel fisiologiese stres plaas as verfynde koolhidrate. Die boodskap was nog altyd: Pasop vir ’n oormaat verfynde koolhidrate. Net so met ’n oormaat versadigde vet. Te veel kJ is ook nie aan te beveel nie – of dit nou van vet of koolhidrate af kom.

3) Ja en nee

Dit lyk tog asof mense met “insulienweerstandigheid” hul gesondheid daarmee ’n hupstoot kan gee, sê Carine Visagie. Indien jy ál dikker word, sukkel om gewig te verloor (veral daai magie!) en heeltyd honger is, is daar ’n kans dat jy wel daarby kan baat vind. As jy oorgewig/vetsugtig is, en/of diabetes tipe 2 het, raai prof. Noakes aan jy probeer dit. Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl, stem saam dit hou voordele vir sekere mense in. Sy het egter heelparty kliënte wat nie gewig daarmee verloor nie. En bowenal moeg is, stywe gewrigte het en tam en lam voel. Die simptome verdwyn as hulle ’n bietjie meer koolhidrate – onverfynde bronne soos bruinrys, vrugte, peulgroente en heelkorrelhawermout – eet. Jy verloor dan ook sommer weer gewig.

Diaan Lawrenson Mei

Lees meer oor die Tim Noakes-dieet in die nuutste uitgawe van SARIE. Ons beantwoord dié kwelvrae:

  • Wat sê die dieet presies?
  • Is die “ou” navorsing dan verkeerd?
  • Wat mag jy eet en nie?
  • Wat van as jy nie van vleis hou nie?
  • Is dit net nóg ’n gier?
  • Wie vind baat by dié dieet?
  • Kan dit sleg wees vir jou?

Alles in SARIE se Mei-uitgawe, nóú op die rakke!

  • Garry David Frasca

    Dit het my lewe verander lees my webtuiste vir die storie en resepte http://paleoliving.co.za/

  • Judit

    Hy’t dit NOG NOOIT dogmaties voorgeskryf nie. As wetenskaplike het hy bloot sy bevindings weergegee (wat eintlik sy plig is) – dosyne dokters wereldwyd weet nou beter. Twee borskas-chirurge in die VS het jammer gese dat hulle altyd hul pasient op laevet-diete gesit het. Hulle kry nou beter uitkoms met hoe vette (die goeies)