sr1202_gesond_dieet_shad
Dieet

Verloor 10 kg vir altyd

Dis Nuwejaarsdag 2008 en jy sit in ’n vol saal. Almal in die verslankingsklub het een voorneme: Om in die komende jaar gewig te verloor. En julle doen dit ook. Twee jaar later hou julle reünie – en net die voorste twee rye het nie weer al daardie gewig aangesit nie. Skuif die horlosie aan tot by 2012. Van die oorspronklike groep is net die voorste ry steeds maer.

Sowat 85% van alle mense wat gewig verloor, sit dit (en méér) binne twee jaar weer aan. Ná vier jaar is die persentasie 95%, sê dr. Luc Evenepoel, narkotiseur van Kaapstad en skrywer van die boek Dr. Luc’s Promise: Lose the Weight & Keep it Off (Penguin, 2012).

Google “weight loss” en jy kry sowat 8 miljoen webblaaie in 0,3 sekonde. Op die webwerf everydiet.org word sowat 400 diëte ontleed en gekritiseer. Dan is daar die blitsverkopers: die Atkins-dieet, South Beach, Ornish …

Tog is ’n miljard mense op die planeet oorgewig. En elkeen behoort gewig te verloor nie om estetiese redes nie, maar hul gesondheid. Vetweefsel, veral dié om jou middel, is gevaarlik. Dit stel skadelike stowwe vry en speel ’n rol by van diabetes tot kanker.

“Jou liggaam het ’n ideale gewig waarna dit altyd neig. Dit verskil van mens tot mens, en van brandmaer tot ‘kussinkies’ op strategiese plekke. Maar as jy net 5 kg verloor en dit nie weer aansit nie, het dit reeds gesondheidsvoordele,” sê dr. Luc, wat inligting vir sy boek uit verskeie internasionale studiebevindings gekry het.

So het ’n groot studie oor 16 jaar gekyk na mense met gewigsverwante probleme. Diegene wat net 3 kg permanent verloor het, was gesonder as dié wat hul ideale gewig bereik het maar die gewig weer aangesit het. As jy dus van die kilogramme wil ontslae raak, doen dit op só ’n manier dat jy daarmee kan volhou. Moenie dieselfde foute oor en oor maak nie.

Hou in gedagte
Jy gaan waarskynlik gewig verloor op daardie dieet, ja. Maar jy gaan nie onbepaald só bly eet nie. En dan gaan al daardie vetjies net mooitjies weer aanpak. Diëte neem jou te ver weg van jou gewone weë – jou individuele lewe, jou omgewing en voorkeure. Voorts: As jy besluit om 100 dae nie sjokolade te eet nie, wat gaan jy op dag 101 doen? Jy gaan dit met sjokolade vier, nie met slaaiblare nie!

Gewigsverlies gaan nie oor bomenslike uithouvermoë nie. Ontspan en bederf jouself nou en dan. Eet ’n klein stukkie sjokolade ’n paar keer ’n week. Ons lywe het nie saam met die tye verander nie. Porsies het geleidelik groter geword en is nou sowat 35% groter as vyftig jaar gelede.

Resepteboeke het dieselfde spyskaarte as in die sestigs. Maar porsies wat toe bedoel was vir ’n gesin van ses tot agt, is nou vir vier tot ses mense. Kosverpakkings in supermarkte is soms tot vyf keer groter,” sê hy.

Die metodes wat ons inspan om gewig te verloor werk nie. Neem nou maar die laevet-dieet-manie. Van 1970 tot 2007 het ons dieselfde hoeveelheid proteïene ingeneem en minder vet geëet. Tog het die hoeveelheid kilojoules wat ons inneem, vermeerder, vertel dr. Luc.

“Want ons het meer verfynde koolhidrate verorber: muffins, broodrolletjies, koek en suiker. In die 1700’s het die wêreldbevolking jaarliks sowat twee kilogram suiker per persoon geëet. Vandag is dit vyftig kilogram per persoon! Daar is selfs suiker in produkte waar jy dit glad nie verwag nie, soos kitssop.” Laevet-produkte kan 20 tot 25% minder kilojoules hê, tog eet ons maklik 30% meer daarvan. (Want dit maak mos nie vet nie!)

Maar pasop, sommige laevet-produkte het meer kilojoules as die oorspronklike. Bestudeer die etikette goed. Volgens dr. Luc gaan gesondheidsartikels en -raad altyd oor wat jy eet. Maar net so belangrik is hoekom, hoeveel, wanneer en hoe.

Hoekom eet jy?
Omdat jy honger is? Dis net 35% van die tyd waar.Die ander 65% van die tyd is jy verveeld, of kyk TV, of peusel aan oorskiet. En jy stop nie voor die program klaar of die bak leeg is nie.

Les Luister na jou lyf, dit probeer naarstig om jou by jou ideale gewig te hou.

Wat eet jy?
Min koolhidrate, min vet of kos met ’n lae GI . . . daar is soveel diëte, wie kan kop of stert uitmaak? Kom ons maak dit makliker. Daar is niks wat jy nié mag eet nie. Wat wel ononderhandelbaar is: Eet elke dag 5 porsies vrugte/groente.

Les Bly naby die natuur. Dit moet herkenbaar wees as iets wat van ’n boom af of uit die grond kom. Dr. Luc sê: “Jy kry appelbome, maar nie malvalekker-bome nie!” Só maak jy seker jy kry al die voedingstowwe wat jy nodig het in.

  • Makro-voedingstowwe (proteïene, koolhidrate, vette) is soos die wiele en enjin van ’n motor.
  • Mikrovoedingstowwe (vitamiene, minerale en spoorelemente) soos die motor-olie. Daarsonder gaan jou motor ook nie ver kom nie.

Baie moderne mense is ondervoed, al spog hulle met boepies. Want ons eet gereeld hope verfynde kos waarvan al die mikro-voedingstowwe verwyder is. Daarsonder kan jy nie vet verbrand nie.

Hoeveel eet jy?
Volgens ’n twintig jaar lange studie in die New England Journal of Medicine wys jou skaal nie jy is oorgewig omdat jy te veel kos eet nie, maar omdat jy elke dag net ’n klein bietjie meer eet as wat jy nodig het. Eet net 837 tot 1 256 kJ elke dag ekstra en die skaal gáán klim. Dis gelyk aan vier tot ses Oreo-koekies, ’n Coke, ’n klein pakkie tjips of ’n Mars-sjokolade-stafie.

Les
Benader gewigsverlies op dieselfde manier. Eet dieselfde hoeveelheid (837 tot 1 256 kJ) elke dag minder en jy sal geleidelik gewig verloor – en dit afhou.

Doen dit só

  • Jy eet ook met jou oë. Sit jou kos op ’n kleiner bord en dit gaan vir jou baie vullend lyk. Maar sit presies dieselfde porsie op ’n groot bord en jy gaan honger van die tafel af opstaan – en nog kos soek. En dis jou kop wat jou fop!
  • Navorsing wys as jy jou kos op ’n bord 22 cm in deursnee sit (teenoor een van 30 cm), gaan jy outomaties 25% minder eet. Volgens dr. Luc is dit gelyk aan gemiddeld 10 kg gewigsverlies per jaar.

Wenk
Hou jou hande bak langs mekaar. Jou opgehooptemaaltyd moet daarop pas. Dit sluit nié jou voorarms in nie!

Wanneer eet jy?
Twee muise word dieselfde soort en hoeveelheid kos gegee. Net die een sit gewig aan. Hoekom? Die maer muis kry sy kos met gereelde tussenposes. Hy eet dan net tot hy genoeg gehad het. Die vet muis daarenteen, kry ongereeld kos: Soms drie keer per dag, soms een keer, soms dae lank nie. As Besoek ook die arme muis wel kos gegee word, eet hy asof sy lewe daarvan afhang.

Les

  • Volg ’n roetine, verkieslik drie maaltye en twee versnaperings per dag. Laasgenoemde is iets kleins, ’n appel of ’n paar neute.
  • Een appel (334 kJ) = ’n klein stukkie Mars-sjokoladestafie of sowat ses bros aartappelskyfies. Maar die skyfies of stukkie sjokolade gaan nie jou maag vul soos ’n appel nie.
  • En onthou ontbyt! As jy dit oorslaan, vermeerder jou kanse vyfvoudig om gewig aan te sit.

Hoe eet jy?
Twee groepe muise kry presies dieselfde kos op dieselfde tye. Net een groep word vet. Hoekom? Die maer muise is in ’n stil, ontspanne omgewing. Die vet muise, daarenteen, word in isolasie gehou en dan gepla terwyl hulle eet. Daar is geraas, ligte wat aan- en afgaan, mense wat op en af loop en aan die hokke ruk. Dié muise is binne ’n paar maande spekvet. Stres stel sekere hormone vry wat jou liggaam waarsku om energie te bespaar vir die veg of vlug wat voorlê. Jy is dan meer geneig om gewig aan te sit, verduidelik dr. Luc.

Les

  • Moet nooit eet terwyl jy aan’t ronddraf is nie.
  • Maak van jou maaltye ’n okkasie. Dek die tafel, sit aan en geniet dit.
  • Eet minstens twintig minute lank. Die seine van jou maag dat jy versadig is, duur só lank om jou brein te bereik.

 

Oefening

Oefening

Dis wetenskaplik bewys as jy gesonde eetgewoontes volg, kan jy gemiddeld 10 kg per jaar verloor. Gesonde oefengewoontes kan jou van gemiddeld 2½ kg verlos. Gewigsbeheer kom 80% van reg eet en 20% van hoeveel jy beweeg.

Sê nou maar jy eet reeds 12,5% (1 256 kJ) per dag minder. Probeer nou 12,5% meer energie verbrand. Dis 25% meer kilojoules, dieselfde as ’n lae-kilojoule-dieet. Maar jy gaan makliker daarmee kan volhou.

Hoe verbrand jy meer kilojoules?

  • Gaan gimnasium toe, beoefen ’n sport of stap.
  • Beweeg net, elke keer wat jy kans het.
  • Moenie in jou motor ry as jy kan loop of in die hysbak klim as jy die trappe kan klim nie.
  • Kry vir jou ’n pedometer by ’n gesondheidswinkel en tel jou treë daagliks – en jy sal sien hoe jy vorder. Só verloor jy geleidelik gewig. En vet, nie spiere nie. (Die geval as jy te vinnig gewig verloor.)

Boonop kan jy onbepaald daarmee volhou, sê hy.

BESOEK OOK: drlucspromise.com

  • Anne Snyman

    AI, DIE ALEWIGE GEWIGKWESSIE!!!

    Hier is my filosofie:

    Bietjie of baie oorgewig? Die kort van die lank is dit: (a) Ons eet te veel, per maaltyd of gedurigdeur die dag, ten einde deurentyd ‘n versadigde of oor-versadigde gevoel te hê; en (b) Ons eet meer as wat ons energieverbruik nodig het.

  • Marie rheeder

    Troos kos laat my beter voel as ek die trane afgevee het

  • marianne Jacoby

    Ja dit is waar – elke dag word dit in jou keel afgedruk – een of ander dieet – mens voel eintlik of jy net eenvoudig nooit goed genoeg is nie. Hoekom kan ons nie liewers daardie bree glimlag en vriendelike oe raaksien nie – hoekom altyd die lyf.

  • Annoniem

    Annoniem: Ek eet 2 bakhande, of ‘n kleinporsie, maar dan ondervind ek dat my liggaam dit nie wil uitskei elke dag nie? Slegs wanneer my maag eers die regte hoeveelheid kos inkry, dan is my maag gereed om dit uit te skei? Dws, my liggaam skei dit nou elke 3de dag uit ipv elke dag. Ek is ongeveer 6 kg oorgewig.

  • Josephine Hendricks

    Dit wat jy inneem moet jy kan verbrand in die dag!!

  • charmaine fourie

    Ek stem saam met anne snyman. die alewige gewigskwessie. ek voel lomp en uitgeput. wil vreeslik
    graag gewig verloor. maar die ou manier. nie die afweeg kwessie dieete nie. so ja. enige een daar buite.
    help as jy kan met n diete wat jy nie hoef groot geld moet spandeer nie.

  • Amandi Eilerd

    Amandi Eilerd vertel, as jy deur jou man die hele tyd afgekraak word, en beskuldig word dat jy nie goed genoeg is vir sy familie nie het mens die gewoonte om die bottel lekkers nader te skraap. Vanaf vier jaar gelede het ek agtergekom hy gebruik ons geld vir ander goed en betaal nie water of huur nie, die meeste betalings geskied met my geld, ek werk my hande stukkend en sy bankrekening is gedurig leeg, dit gee jou gereeld die begeerte om alles te eet wat voorkom, geen raad meer nie.