Dieet

Verloor gewig – slaap meer

Jy kán, volgens Amsterdamse navorsers. En navorsing uit Frankryk bevestig dit: As jy sleg geslaap het, is die kans goed dat jy die volgende dag tot 2 300 kilojoules (kJ) méér sal eet as jou vriendin wat ‘n goeie nagrus gehad het. Dis gelyk aan ‘n ”goeie bord kos” of groterige hamburger.

Mense wat minder slaap is meer ”hongerig” as dié wat sowat agt ure ‘n nag in droomland is. Slaap (of die gebrek daaraan) het egter nie net ‘n invloed op jou eetlus nie. As jy kort-kort wakker word, kan dit boonop meewerk om jou metabolisme ”deurmekaar” te krap. En dus lei dit tot metaboliese sindroom. (Dis die sambreelterm vir ‘n klomp simptome waaronder hoë bloeddruk, oorgewig en insulienweerstandigheid.)

Jy kan nie altyd die omstandighede verander wat jou snags wakkerhou nie. Maar jy kan bewus wees van die uitwerking op jou gewig – en jouself nie bedags verder kasty met ‘n onmoontlike streng, rigiede dieet nie.

Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za.