Verloor gewig sonder dieet - Rêrig! (Wenke 1 - 5)
Dis winter en tyd vir tuisgemaakte bredies, cappuccino en lepellê. En sowaar, dís dinge wat jou kan help gewig verloor.
Eers die slegte nuus: Die gemiddelde mens sit van 'n halwe tot 1 kg gewig per jaar aan.
Die goeie nuus? Jy kan dit voorkom as jy elke dag net 400 kJ minder inneem. As jy gewig wil verloor, moet jy 1 000 kJ per dag uit jou dieet sny.
Maar dit gaan al hoe meer oor wát jy eet, en nie net hoeveel jy eet nie, sê Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl.
Hier is goeie gewoontes waarmee jy hierdie winter gewig kan afskud, sonder dat jy 'n ingewikkelde dieet hoef te volg.
1. Eet 'n tuisgekookte ete...
...minstens 5 keer per week. Dis een van die geheime van mense wat gewig verloor en dit nie weer aansit nie, het die Amerikaanse tydskrif Consumer Reports in 'n opname bevind. Want restaurant- en wegneemetes laat die kilogramme opstapel. (www.consumerreports.org)
Mariza se wenke
- Moenie meer as een keer per dag iets eet wat "kits" en klaargemaak is nie - hetsy soet of sout. Dit sluit energiestafies, souse, skyfies en kits-noedels in.
- Onderskei tussen kitskos en geriefkos. 'n Romerige sous waarby jy net water gooi, is waarskynlik "kitskos", terwyl 'n blikkie vis gerieflik is, eerder as kitskos.
- Eksperimenteer met jou eie gesonde kits-etes. Jy kan onverfynde staatmakers soos gerolde hawermout, grofgemaalde mieliemeel, gort, rys, lensies en selfs aartappels en patats vooraf kook en in die yskas bêre.
- Maak grofgemaalde geel mieliemeel gaar net soos polenta (fyn geel Italiaanse mieliemeel). Sit dit voor met dik tamatieskywe en 'n bietjie gerasperde kaas, gesmelt in die mikrogolfoond. Of gebruik gisteraand se oorskiet-aartappel. Jy kan die kaas met gekrummelde feta vervang. Gebruik 1 tot 2 medium-aartappels (afhangend van hoe aktief jy is),'n groot tamatie en 2 eetlepels gerasperde kaas of 'n derde skyfie feta.'n Lepeltjie pesto daarby is lekker - en gesond.
2. Superkosse
Sommige studies toon "warm" gekruide kos (soos kerrie) kan jou metabolisme sowat 'n halfuur lank met 20% versnel. En 'n klein studie met Japannese vroue het gewys rissiepeper maak jou metabolisme ná 'n maaltyd vinniger. Des te meer as dit saam met kos geëet word wat hoog in vet is.
In nog 'n studie het manlike atlete rooipeper oor koolhidraatryke kosse gestrooi. Hul metaboliese tempo was 30 minute daarna hoër. Daar is egter nie bewyse dat dit langer as 'n halfuur 'n uitwerking het nie.
Maar jy kan ook met ander speserye laat waai. Dit kan help dat jy jou nie ooreet nie, aldus navorsing twee jaar gelede vir die Amerikaanse endokrienvereniging.
Oorgewig mense wat hul kos daarmee besprinkel, het gemiddeld 14 kg meer in 6 maande verloor, teenoor 'n kontrolegroep se 2 kg. Volgens Mariza help geurmiddels boonop dat dieetkos nie vervelig raak nie.
3. Lê weg aan sop
Dis mos stapelkos in die winter! Sop laat jou meer versadig voel - met minder kJ's. Skop jou maaltyd daarmee af en verminder jou aptyt. Jy kan só tot 20% minder eet. Pasop net vir roomsoppe, dit bevat baie vet en kJ's.
*Hier's Mariza se warm- en koue groentesop-resep.
4. Eet meer proteïen
Jou liggaam werk harder om proteïene af te breek as vette en koolhidrate. Jy verbrand dus 'n bietjie meer kJ's. Dit kan ook help dat jy vet verloor en nie spiere nie, aldus 'n studie in die Amerikaanse Journal of Nutrition. Volgens voedingkundige riglyne moet sowat 15% tot 20% van jou daaglikse kJ-inname laevet-proteïene wees.
Mariza se wenke
- Eet 'n bietjie proteïen saam met elke maaltyd, ook as jy peusel. Soos vis, hoenderborsies, maer rooivleis, vetvrye of laevetmelk, eiers, neute, laervetkaas, maaskaas, lensies, droë bone en kekerertjies.
- Peusel aan 'n paar lentertjies biltong of 'n stukkie oorskiet-hoender en skywe tamatie.
- Braai kekerertjies in 'n bietjie olyfolie in 'n kleefvrye pannetjie - en eet dit soos grondbone. Dit kan ook die basis wees van 'n middagmaal met oorskietgroente en 'n bietjie feta.
5. Onthou die suiwel
Melk maak mos vet? Onwaar, sê Mariza. Melk kan jou inderdaad help om gewig te verloor. Dit maak ook nie saak of dit laevet-melk of vetvry is nie, blyk uit Amerikaanse navorsing. 'n Australiese studie wys melk saam met jou kos laat jou versadig voel en dus eet jy met die volgende maaltyd minder.
Boonop kan kalsium, saam met ander stowwe in suiwel, jou metabolisme 'n effense hupstoot gee, wys nog 'n Amerikaanse studie. Suiwelprodukte werk beter as kalsiumryke kos (soos broccoli) of kalsiumaanvullings.
Maar onthou:
As jy gewig wil verloor, moet jy minder kJ's inneem. Dit help nie jy eet net soveel soos voorheen en voeg net melk by jou dieet nie. Jy sal op 'n ander plek kJ's moet sny. Al hoe meer navorsing wys ook op 'n verband tussen suiwel en 'n kleiner kans vir insulienweerstandigheid.
Hoe gemaak as jy sensitief vir suiwel is? Voor jy dit summier uit jou dieet sny, vind uit of jy sensitief is net vir melk, of vir alles in dié kosgroep. Soek dan gepaste alternatiewe.
Mariza se wenk
Bederf jouself hierdie winter met rooibos- en koffie-cappuccino, of warm melk met 'n bietjie sjokolade of heuning en kaneel.
Verwante artikels
-
24 uur in die lewe van jou lyf
SARIE September 2010
Van die regte tyd vir kos en seks tot wanneer jou kop die wakkerste is – leer ken die ritme van jou lyf. Dit kan jou gesondheid beïnvloed
-
Eetplan vir nuwe ma's
SARIE - Januarie 2011 | Kommentaar: 1
Dalk is jy ook ’n nuwe ma wat ná jou swangerskap sukkel om gewig te verloor. Ons het gaan uitvind wat is die beste en veiligste manier om jou figuur terug te kry.
-
Kelly Osbourne verloor byna 20 kg+ haar 1ste voorbladfoto in bikini!
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Sy was beslis nie die celeb-rolmodel van hoe om gesond te leef nie, maar nou lyk dit asof Kelly Osbourne mal is oor haar nuwe leefstyl. So baie, sy't byna 20 kg verloor!
-
Leser vertel: 'Dieet laat my in beheer voel'
SARIE - Maart 2011
Die feit dat jy gedurig op dieet is, het dalk min met jou lyf te doen. Dalk probeer jy net onbewustelik beheer oor die chaos in jou lewe kry. is dit tyd om terug te keer na die werklikheid?
-
Ons glansmense smelt weg - foto's
SARIE - Oktober 2010
Die vermaakwêreld kan nie uitgepraat raak oor hoe slank Claudia Henkel (Mej. SA in 2005), die sepie-akteur Terence Bridgett en radio- en TV-omroeper Darren Scott deesdae lyk nie.
-
Verloor gewig sonder dieet - Rêrig! (Wenk 6 - 15)
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 8
Dis winter en tyd vir tuisgemaakte bredies, cappuccino en lepellê. En sowaar, dís dinge wat jou kan help gewig verloor












Kommentaar
Pat het gesê:
Hi daar, ons almal het skynbaar dieselfde probleem. Ons weet ons moet gewig verloor maar weet nie hoe en waar om te begin nie.
23ste Mar. 2012, 16:20senovia rossouw het gesê:
help my asb ek is 47 en sukkel om gewig te verloor ek is nog nie in menopause nie kan jy asb die diet virmy email
11de Feb. 2012, 19:12JENNY MEYER het gesê:
HI, EK HET NA MY MENOPAUSE GEWIG AANGESIT EN EK EET BITTER MIN. EK IS RAADOP EN EK OORTREE NIE MET KOEK, ONGESONDE KOS NIE. EK EET BAIE GESOND. IS DAAR 'N MOONTLIKHEID DAT EK BAIE WATER DRA. EK IS MAAR 47 JAAR OUD. GAAN 'N MENS DEUR 'N STADIUM VAN MENOPAUSE WAT DIE GEWIG NET OPTEL. HOU DIT OP 'N STADIUM OP. EK SAL ENIGE EET PLAN PROBEER EN ENIGE RAAD ASB. EK HET VAN 'N NR.10 NA 'N NR 14 GESTYG EN EET BASIES DIESELFDE AS VOORHEEN. SAL JOU HULP EN RAAD WAARDEER. GROETNIS JENNY MEYER
29ste Nov. 2011, 14:51NICOLENE het gesê:
HI EK SUKKEL NET SO NA MY DERDE KIND EN WIL GRAAG 30KG VERLOOR EN SUKKEL,EK EET NIE REGTIG SOETIGHEID EN SUKKEL,.ASB KAN U VIR MY OOK DIT EMAIL.
27ste Okt. 2011, 08:03Ina Knoesen het gesê:
E-mail asb vir my ook die diet verllor gewig sonder dieet.
12de Okt. 2011, 09:45Gerda Venter het gesê:
ek sukkel en ek het hulp nodig.het na my baba se geboorte net nog nooit weer gewig verloor nie maar ook nie opgetel nie,kan julle dalk ook vir my die dieet e-pos sodat ek kan kyk of dit dalk 'n oplossing is vir my probleem.
15de Nov. 2010, 08:05Lydia het gesê:
Daar ís nie 'n dieet nie. Dis juis die punt van die artikel, dat jy gesonde leefstylkeuses moet maak. Lydia/SARIE
25ste Okt. 2010, 15:09Eljo het gesê:
Ek is met yo-yo dieet, dit is nie lekker nie, HELP!!!!! Ek sal ook graag die uitgewerkte dieet wil ontvang, miskien kan ek ook 10-12kg verloor, dankie vir jul hulp met die vettes!!!!
25ste Okt. 2010, 14:10Mariana Loubsrt het gesê:
Ek probeer al my hele lewe gewig verloor en kry dit net nie reg nie. Sal u die dieet vir my email ek het nog net 4 maande oor voor my dogter se troue en moet ten minste 20 kg verloor.
27ste Aug. 2010, 00:10Jeannie NIeman het gesê:
Ek het nog nooit regtig gesukkel met my gewig nie, maar die afgelope 4-5 maande het ek om een of ander rede 5 kg opgetel. Ek weeg nou 'n volle 59 kg. Ek sukkel baie met waterretensie - alle toetse is gedoen en daar is niks fout nie....ek moet dringend die 5 kg afskud - help!!!
10de Aug. 2010, 12:47Magda Greyling het gesê:
Ek gaan definitief hierdie dieet probeer. Kan ek hierdie dieet volg al is ek in 2007 met Limfklier kanker gediagnoseer en het so ± 20kg gewig verloor maar het sederdien weer alles plus ekstra opgetel. Ek voel regtig my liggaam is te swaar vir jy been struktuur.
28ste Jul. 2010, 16:21Verne Smit het gesê:
Sal bitter graag wil he die artkkel moet aan my ge-e-pos word 'sebief en indien moontlik!?
28ste Jul. 2010, 11:32