FOTO: Instagram  @clau_rhm

FOTO: Instagram @clau_rhm

Dieet

Voedingkundige Mariza blog: ‘As jy iets kon verander oor “kos” … ‘

Een van my gunsteling-kunstenaars is die Nederlandse musikant Herman van Veen. Sy musiek is melodieus en lirieke verwoord alledaagse “lewensdinge” en kwessies – al verstaan ek nie altyd al die Nederlands nie.

Tog dring die onderliggende boodskap of gist van sy liedjies tot my deur. “Als ik de koning was van Nederland” draai van Nuwejaar af in my kop en my gedagtes bly braai in die diepvet wat in die dieetwêreld aan’t prut en borrel is.

Ná ’n lekker wegbreek – ten minste van die verkeer – is die meeste van ons weer terug in die tuig, of agter die wegholbus se stuurwiel.

Saam met kospakkies pak, byhou met sportroosters, en boeke oortrek, is daar dan natuurlik ook nuwejaarsvoornemens. Soos pogings om verlede jaar se “dieetmislukkings” aan te spreek, of nuutgevonde motivering om dié jaar werklik aandag te gee aan jouself en jou gesondheid.

Ek wonder wat jy sou nastreef as jy die koning was van Kos-, Gesondheid- en Dieet-land?

Moontlik is jou wens dat iemand vanjáár die magic potion wil uitvind wat kan maak dat “Ek soveel pizza kan eet as ek wil”. Dís my 9-jarige se wens. Of miskien is jou wens dat jou lyf anders was as wat hy is. Of dalk was jy een van die gelukkiges wat in 2014 ’n klomp gewig verloor het met Banting, maar jy hunker steeds elke dag in die geheim na daai lekkertes wat nou taboe is omdat dit te veel koolhidrate bevat …

Het jy sterk gestaan, want jy het nog altyd geëet wat jy wou? Dan is jou wens moontlik dat die ophef wat oor elke nuwe “dieet” gemaak word, geherklassifiseer word as sensitiewe staatsinligting sodat dit onder die beoogde media-muilbandwet kan val.

Wat sou ek doen as ek die koning was van Dieetland? Ek sou die woord “dieet” – en alle assosiasies wat daarmee saamgaan – verban! Die woord “dieet” – hetsy dit een is met lae vet, hoe vet, lae koolhidrate, hoë koolhidrate, en alle variasies op hierdie tema – maak ’n bespotting van een van die belangrikste aspekte van ons menslike bestaan: die noodsaaklikheid van voedingstowwe. Ons praat hier van dinge soos vitamiene, minerale, probiotika, prebiotika en fitonutriënte.

Tensy genoeg aandag gegee word aan dié aspekte van jou voedselinname, is enige “dieet” ’n onvanpaste en oorvereenvoudigde poging vol leë beloftes.

As dit van my afhang, sal al die oorvereenvoudigde “moets en moenies”, reëls en regulasies, en maniese soeke na die sleutel wat álle slotte kan oopsluit – dus één resep vir almal – saam met hul predikers, profete en dissipels in die see gejaag word!

Pleks daarvan wens ek vir ’n terugkeer na gesonde verstand (common sense). ’n Ingesteldheid waar voeding en voedingaanbevelings nie ’n teater is vir allerhande kaskenades wat op die ou end nadelig kan wees vir jou gesondheid nie.

Ek sal ook myself liefs ’n voedingkundige as ’n dieetkundige wou noem…

Mik jy saam vir 2015? Geen dieet – net BETEREET vir JOU unieke lyf?!

Vir idees en inligting oor Beter VOEDING, besoek gerus www.betereet.co.za of facebook/bettereat!

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

www.betereet.co.za