mariza
Dieet

Mariza blog: Waarom 67 minute etenstyd jou lewe kan verander…

Die gevolge sal nie noodwendig NOU sigbaar wees nie. Nie soos ‘n huis wat gebou is, of ‘n stel klere wat gedeel is nie. Nee – dit sal nou onsigbaar wees.  In die toekoms sal dit egter jou lewe – en diegene met wie jy hierdie 67 minute gedeel het, se lewens verander

Ek pleit vir ‘n 67 minute etensuur (ha ha ha). Alle grappies op ‘n stokkie – ek pleit dat jy vanaand 67 minute sal ‘af vat’ – en tyd neem om ‘n maaltyd voor te berei, te eet, te kuier rondom jou etenstafel. Net dit.

Ja – dít sal verrykende gevolge hê vir nasiebou! Gelukkiger gesinne, minder oorgewig, diabetes, hartsiekte. Minder spysverteringsprobleme. Minder mense op chroniese medikasie – alles doenbaar as jy bietjie meer tyd neem om jou kos voor te berei en te eet.

Onlangs publiseer die Britse Mediese Joernaal ‘n artikel oor die verband tussen plastiekverpakte voedselverpakking en oorgewig. Die plastiekverpakking het nie net moontlik ‘n direkte effek in ons liggaam op selvlak nie (via bv. zeno-estrogene of ‘endocrine disruptors’), maar dit het ook ons ‘verhouding’ met kos verander. Dit is vinnig om iets net warm te maak. Dis maklik om te sit en eet terwyl jy lees, TV kyk of gou opvang met facebook op jou foon. Dis ook ‘skoon’ en netjies én min skottelgoed. Bewus of onbewus laat jy die heilsaamheid van jou ete oor in die bekwame hande van ‘n ánder.

Die sousie proe elke keer dieselfde. Foutloos. Jy kry elke keer sooibrand. Foutloos. Jy verstaan nie: Hoekom is jy so FUTLOOS?

Dit is geskryf – en ook bevestig deur hierdie artikel – die opname in en gepaardgaande siektes gaan oor veel meer as net die ‘regte’ dieet … dis ook belangrik om te kyk na mense se éétgewoontes en gewoontes rondom eet.

Myns insiens, het die moderne eet-scenario twee groot probleme tot gevolg:

1) Aan die een kant voorsien die voedsel wat vooraf verpak/voorberei/vervaardig is, meesal ‘n totaal anderse voedingswaarde-profiel as wanneer jy dit tuis sou voorberei.

Byvoorbeeld: Kyk jy watter soort olie gebruik is in die sous? Ja – dis belangrik – want sonder die regte olie sal jy, ten spyte van MIN VET jouself blootstel aan meer hartsiekte maar ook oorgewig, en selfs meer brein-verwante toestande soos Alzheimers….

Kyk jy of daar ‘n preserveermiddel gebruik is al dan nie? Ja – dis ook belangrik maar het jy geweet, meer en meer mense is sensitief omdat meer en meer kosse preserveermiddels bevat. Ja, die effek is dikwels subtiel – miskien ‘n onverklaarbare spysverteringsongemak of chroniese sinus-drup..

Die hoeveelheid proteïene, koolhidrate en vette word aangedui op die pakkie – maar wat van die vitamiene en minerale? Dit is ou nuus dat hierdie voedingstowwe verlore gaan wanneer voedsel verfyn en verwerk word

2) Aan die ander kant, is die Achilles-tendon van ‘kits’-klaar en vinnig natuurlik die feit dat jy ook meestal in staat is om ‘vinnig’ te eet. Het jy geweet hoe goed mens jou kos kou beïnvloed jou BLOEDSUIKERVLAK na die maaltyd? Ja, die sogenaamde GI van jou ete kan jy positief manipuleer deur bloot STADIGER TE EET. Wanneer ons ons voedsel fyn kou en stadig eet, is vertering ook beter en dit het ook ‘n effek op bloedsuiker – en versadiging en algemene gesondheid.

‘SLOW DOWN!’- en sonder dat jy eers enigiets hoef af te meet of weeg of ‘n ‘spesiale’ produk moet koop, het jy reeds jou lyf gehelp.

Neem asseblief 67 minute … en begin kyk na nie net wát jy eet nie, maar ook hóé jy eet: hoe vinnig, hoe baie ek dit geniet, saam met wie…

Leer saam beter eet –maklik en smaaklik op www.betereet.co.za en daaglikse wenke op FACEBOOK/bettereat.

Groete tot volgende keer!

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

* Lees nóg blogs deur Mariza hier.