paf137000061
Dieet

Water en nogmaals water?

Agt tot twaalf glase water per dag. Gesond, of dalk juis nie?

Ons almal wéét van dié aanbeveling. Min van ons doen dit – ten spyte van goeie voornemens. Beteken dit jy is minder gesond, of dat jy moeiliker gewig sal verloor as iemand wat dit wel doen? Inteendeel – ons het nie almal dieselfde hoeveelheid vloeistof nodig nie. Dis ook nie noodwendig ’n goeie ding om soveel water te drink nie.

Jou behoefte aan vloeistof word bepaal deur jou unieke metabolisme, hoe lank jy is, hoeveel jy weeg, hoe aktief jy is en die klimaat waar jy woon. Die algemene aanbeveling – 8 tot 12 glase water per dag – is gegrond op die behoeftes van ’n tipiese man wat sowat 70 kg weeg. Vroue en kinders weeg oor die algemeen minder en hul liggame het dus minder water nodig. Daar is ook ander maniere om “water” in te neem – bv. vrugte, groente, rooibostee en kruietee.

As jy voel jy drink nie genoeg water nie, volg die voorstelle hieronder. Dis meer sinvol én makliker bereikbaar:

  • Eet 3 vrugte daagliks
  • Eet 2 koppies groente daagliks
  • Drink 3 groot bekers rooibos- of flou tee (met melk of daarsonder) daagliks
  • Drink 3 glase water daagliks

Dit sal heel waarskynlik jou lyf se “waterlus” bevredig.

* Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za vir ‘n berekening van jou persoonlike “water”-behoeftes.