sk1010jogurt3_310w
Dieet

WEEK 2: Resepte vir jou eetplan met BeterEet™

Tuisgemaakte MUESLI

  • 1/3 koppie sesamsade  
  • 1/3 koppie sonneblomsade  
  • 1/3 koppie gekapte amandels  
  • Opsioneel 2/3 koppies gerolde hawermout indien jy nie styselsensitief is nie.
  • 1/3 koppie rosyne of gesnipperde droë vrugte.

Metode:
Rooster oor lae hitte. Bedien met ongegeurde jogurt en ‘n vrug as ‘n volledige maaltyd. Dit is geskik vir ontbyt of middagete of as ‘n lekkerny.
WENK: Pars gerus ‘n stukkie vars gemmerwortel se ‘ sap’ uit en meng met die vrugte en jogurt en muesli. 

Spinasie-tertjies

  • 700 – 800 g vars spinasie baie fyn gesny
  • 4 eiers
  • 2 koppies Laevet-jogurt
  • 1 t sout
  • 1 t knoffel of 1 groot knoffel huisie
  • ½ t swart peper
  • 1 koppie gerasperde mozzarella
  • Opsioneel: 1 wielietjie Laervet-feta gekrummel

Voorverhit oond tot 180 °C. Blansjeer die spinasie deur dit net vinnig in ‘n groot pot kokende water te onderdompel. Klits die 4 eiers en Griekse jogurt saam. Voeg peper en sout by. Roer die mozzarella en spinasie by. Skep lepels vol van die mengsel in ‘n gesmeerde muffin pannetjie. (18 muffins) – 1 gehoopte eetlepel per tertjie. Bak vir 30 tot 35 minute tot gepof. Gebruik ‘n tandestokkie om te toets of die tertjies deurgaar is. Bedien met sop of ‘n tamatie-en-uie slaaitjie.

NOTAS: GLUTEN VRY. LAE KOOLHIDRATE. 
3 Tertjies = 1/3 sny brood, 2 proteiene, 1 vet, 1 groente

Vinnige growwe mieliepap

(Maak sommer genoeg vir die week vooruit)

Gebruik verkieslik klipgemaalde mieliemeel. Gebruik ‘n bak met ‘n deksel wat in jou mikrogolf pas.

Voeg 2 – 3 keer die volume koue water by mieliemeel. Dus vir elke koppie mieliemeel, voeg jy 2 tot 3 koppies water. 2 koppies water maak baie stywe pap, 3 koppies maak redelike slap pap. 1 t sout per 1 koppie mieliemeel. Kook die mieliemeel op ‘hoog’ vir 5 minute. Roer. Kook weer op hoog vir 5 minute. Roer. Kook nou op medium vir 10 minute. Roer weer en skep in ‘n vierkantige houer en laat afkoel. Sny blokke en verhit soggens net die blokkie wat jou porsie is.

Vir nog inligting, klik by BeterEet™