Gesond

5 maniere om water te drink dié winter

Dis reeds in die somer ’n uitdaging om 8 glase water per dag te drink, en noudat die temperatuur spoedig daal, word dit selfs moeiliker. Hier is ’n paar slim maniere om dié winter die nodige vloeistowwe in te neem.

Jy ry al in die donker werk toe en sien net-net die son sak as jy by die huis aankom. Kouer dae beteken jy raak nie so baie dors nie en jy vergeet heeltemal om water te drink.

Boonop is water koud en wie wil nou iets kouds drink wanneer die kwik daal?

Tog is dit in die winter nét so belangrik om genoeg vloeistof in te neem soos wat dit in die somer is. Winter (en die kwaai lugversorging wat daarmee gepaardgaan) het ook die manier om jou van binne af buitentoe uit te droog.

Hidreer hierdie winter só

1. Kry ’n water-maatjie

Span met iemand by die werk saam en herinner mekaar elke uur om ’n glas water te drink. Die bietjie rondloop sal jou óók goed doen.

2. Kikker jou water op

Maak ysblokkies uit suiwer vrugtesap en voeg dit by jou water, of sny ’n suurlemoen, lemoen, komkommer of pynappel op en voeg dit by. ’n Paar pepermentblare sal ook die wêreld se verskil maak.

3. Geur jou water

Plaas 1½ framboos, in kwarte gesny en effens fyngedruk, saam met ¼ koppie pepermentblare in ’n waterbeker. Maak die beker vol met gewone mineraalwater. Voeg ys by as jy wil.

4. Maak dit warm

Rooibos- en ander kafeïenvrye tee laat jou water drink sonder dat jy voel jy drink water. Let wel, groen tee en gewone tee bevat albei kafeïene. Drink dit sonder melk of suiker as jy kan.

5. Slaap met ’n lang glas langs jou bed

Dit is nie ideaal vir jou slaappatroon om baie water te drink nét voordat jy gaan slaap nie, maar dis altyd ’n goeie idee om water langs jou bed te hê vir wanneer jy in die nag dors wakker skrik en die kraan net te ver is.

Het jy geweet?

’n Vrou moet elke dag 8 x 250 ml-koppies vloeistof inneem en net 4 hiervan hoef suiwer water te wees. Mans, daarenteen, moet 12 koppies per dag inneem waarvan die helfde suiwer water moet wees.

Só sê Claudine Ryan, geregistreerde dieetkundige by die Compass Group Southern Africa.

Bronne: Lydia van der Merwe in Maart 2014-uitgawe van SARIE en Elle.com