FOTO Unsplash / Yanko Peyankov

FOTO Unsplash / Yanko Peyankov

Gesond

Eerste entstof teen kanker nóg – en tog nie betyds toegedien

Vandag is Internasionale Hepatitis-bewusmakingsdag en die tema is “uitwissing”. Meer as 2,5 miljoen Suid-Afrikaners het waarskynlik chroniese hepatitis B en het dus ’n verhoogde risiko vir lewerkanker. Dis wêreldwyd die derde grootste oorsaak van sterftes weens kanker.

Hepatitis is inflammasie van die lewer, veroorsaak deur verskeie virusse bekend as hepatitis A, B, C, D, E.

Jy kan teen die hepatitis B-virus (HBV) ingeënt word. Dit is inderdaad die eerste entstof teen kanker – omdat dit jou immuun teen die virus maak, voorkom dit ook chroniese infeksie en die gevolge daarvan, soos littekenvorming van die lewer (sirrose) en lewerkanker. Die HBV-entstof by geboorte kan die oordrag van HBV van ma na kind voorkom. Maar in Suid-Afrika en baie ander Afrika-lande suid van die Sahara word dit eers op ses weke toegedien. Die baba is dus by geboorte blootgestel aan infeksie.

Die voorkoms van HBV en MIV saam versnel die ontwikkeling van lewerkanker, volgens navorsing aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit medisyne en gesondheidswetenskappe. Die meerderheid van sulke pasiënte is jong, swart mans. En omdat dit dikwels in ’n laat stadium gediagnoseer word, is die kanse op oorlewing baie skraal. Sowat 50% sterf binne ’n jaar ná diagnose.

*Dis Internasionale Hepatitis-bewusmakingsdag en die tema is “uitwissing”.

Besoek: www.sun.ac.za/health of Facebook