24 uur in die lewe van jou lyf
Van die regte tyd vir kos en seks tot wanneer jou kop die wakkerste is – leer ken die ritme van jou lyf. Dit kan jou gesondheid beïnvloed
Jy gaan waarskynlik vieruur smiddae die 100 m vinniger hardloop as op enige ander tyd van die dag. As jy 'n baba kry, is die kans goed dat dit in die vroeë oggendure gaan wees.
Bygelofies? Nee, wetenskap. Elke stelsel in jou liggaam het sy eie ritme wat oor sekondes, minute, ure, dae, weke, maande of jare kan strek. Van jou stygende en dalende hormoonvlakke tot jou liggaamstemperatuur, hartklop en bloeddruk.
Studies aan die Universiteit van Minnesota het vroeg in die jare tagtig gewys jou biologiese ritmes kan jou vatbaarheid vir siektes beïnvloed, asook hoe jy in 'n verskeidenheid fisieke en intellektuele take vaar.
Sedertdien het dit 'n gewilde studieveld geword. Word jou liggaamsritmes deurmekaargekrap, het dit 'n uitwerking op jou gesondheid en hoe jy funksioneer. Soos met nagskofwerkers en reisroes. Jy gebruik daarenteen jou energie slim as jy 'n taak beplan vir wanneer jou lyf die beste daarvoor toegerus is. Onthou, dit wat hier volg, geld vir gesonde mense. As jy erge stres het, kan dit ook jou lyf se horlosie deurmekaarkrap.
8.00 - 12.00 vm.
Vroeteltyd
Die sekshormoon testosteroon, wat mans én vroue se seksdrang woema gee, se vlakke is nou die hoogste (tot vyf keer hoër as gewoonlik). En dis die laagste tussen sesuur saans en middernag, skryf Susan Perry en Jim Dawson in The Secrets Our Body Clocks Reveal (Scribner,1988).
Tog het ons nie tussen agt en twaalf soggens meer seks nie. Studies wys tienuur saans is geriefliker, wanneer ons bed toe gaan. Ook gewild is seweuur soggens. Digters kan die lente besing, maar die sexyste seisoen is die herfs en laatsomer! Mans en vroue se testosteroonvlakke bereik dan 'n jaarlikse piek. Die meeste babas word ook in die somer en vroeë lente gebore, nege maande ná die herfs se bedkaperjolle. Die weer en kosvoorraad speel in dié tyd saam om 'n pasgebore baba te laat oorleef. (Ons is toeka só geprogrammeer toe ons in grotte gewoon het en kos skaars was, aldus Perry en Dawson.)
5.22 - 10.37 vm.
Opstaan!
Ons volg almal dieselfde 24-uur-siklus. Maar sommiges begin - en eindig - later as ander. Dalk is jy 'n lewerik. Jy word vroeg wakker en is op jou beste voor middagete. As jy daarenteen 'n naguil is, sukkel jy om soggens aan die gang te kom, maar tel spoed op soos die dag vorder. Jy kan maklik tot in die vroeë oggendure werk. Heel moontlik val jy iewers tussen die twee uiterstes. Uile en lewerikke se temperament verskil ook, wys 'n studie by die Universiteit van Westminster in Brittanje.
Vrywilligers se speeksel is deur die dag getoets. Hul wakkerwordtyd het gewissel van 5.22 tot 10.37 soggens. Dié wat voor 7.21 wakker was (lewerikke), het hoër vlakke van die streshormoon kortisol gehad. Dié vroegoggend-"voëltjies" konsentreer beter, is besiger en ervaar meer struikelblokke deur die dag.
Hulle is ook kwaaier en het saans minder energie. Teenoor die uiltjies, wat kalmer en minder bedrywig is, sê die navorsers.
Opvolgnavorsing wys lewerikke is buieriger en het meer spierpyne, verkoue en hoofpyn. Dis moontlik dat kortisol bydra tot die verskille in temperament. Dit beïnvloed jou bui en konsentrasie.
Daar is nie 'n "regte" tyd om soggens op te staan nie, verklaar die navorsers. Maar as jy gestres voel, kan dit 'n groot verskil maak as jy 'n halfuur langer slaap. Net so hang dit van jou eie ritme af hoeveel ure jy slaap. Die hoeveelheid wat jý nodig het, is dit wat jou toelaat om die volgende dag jou beste te lewer.
Dalk is ses uur vir jou genoeg, of het jy agt uur nodig. Margaret Thatcher het gespog sy kan met net vyf uur slaap klaarkom. Dis nie vreemd vir mense bo sestig nie: Ons het minder slaap nodig hoe ouer ons word. Bron: www.netdoctor.co.uk
8.00 vm.
Skeer jou beenhare!
Jy gaan minder bloei as jy jouself raaksny, volgens Jennifer Ackerman in Sex Sleep Eat Drink Dream: A Day
in the Life of Your Body (Houghton Mifflin Co., 2007). Jou bloedplaatjies (wat bloed help stol) is nou meer aktief. Dis die rede waarom meer mense soggens beroerte kry. Jou pyndrempel is ook hoër. Die hormoon adrenalien, wat ons help om pyn te verduur, bereik 'n piek. Dis ook die ideale tyd vir 'n inspuiting.
Sowat 'n uur nadat jy opgestaan het
Jou grootste maaltyd
Dis wanneer jou metabolisme op sy toppunt werk.Wanneer jy wát eet, hoe gereeld en hoe ver uitmekaar, het sedert die jare tagtig baie aandag gekry, sê Mariza van Zyl, 'n dieetkundige van die Paarl. Daar is selfs 'n studierigting genaamd chronobiologie of -voeding. (Chronos beteken tyd in Grieks.)
Maar net so belangrik is die samestelling van jou ontbyt. Jou beste keuse is onverfynde of onverwerkte produkte soos gerolde hawermout of growwe mielie/maltabella/koring. As jy staatmaak op "kits"-ontbytgraan, kombineer dit altyd met melk/jogurt en 'n vrug.
10.00 - 11.00 vm.
Was jou hande
Jou immuunstelsel is nou die minste aktief en jy is dus meer kwesbaar vir kieme. Atlete wat vroegoggend oefen, is meer geneig tot infeksies, wys navorsing aan die Brunel-universiteit in Middlesex, Brittanje. Jou immuniteit is inderdaad sterker in die nag as bedags. 'n Studie aan die Universiteit van Stanford in Amerika wys vrugtevlieë is meer geneig om te sterf as hul bedags met bakterieë besmet word. Jou liggaam het dalk bedags te veel om op te konsentreer om nog aandag aan jou immuunstelsel te gee.
11.00 vm.
Knak 'n KitKat
Jy kry nou jou eerste energie-insinking. Voorkom dit deur 'n goeie ontbyt te eet. Volstaan jy met net graankos, kan dit jou kelder, verduidelik Mariza. Eet byvoorbeeld 'n gekookte eier en tamatie, of kipper en tamatie vir ontbyt as jou energievlak teen elfuur baie laag is. En peusel nou aan 'n vrug, of 'n bietjie rou neute, of jogurt. Of selfs 'n handjie vol biltong of stukkie kaas met 'n kraakbeskuitjie of 'n paar tamaties, sê sy.
1.00 nm.
Middagete
Vir 'n wakker kop en om 'n energie-insinking in die namiddag te voorkom, meng proteïene (vis, vleis, eiers, kaas, peule) en koolhidrate (rys, aartappel, gekookte koring of gort), beveel Mariza aan.
Die kombinasie van proteïene en koolhidrate help om jou bloedsuiker en serotonien-vlak (die "goedvoelhormoon") te stabiliseer. Eet jy egter net koolhidrate (soos koeldrank en 'n pakkie tjips), kan jou bloedsuiker wipplank ry - en jou energievlakke daal. Probeer byvoorbeeld vis en bruinrys met groente en/of slaai.
Vermy kos wat baie vet bevat, soos 'n hamburger met skyfies - dit verteer moeiliker en kan jou slaperig en lui laat voel, sê sy.
2.30 nm.
Gee my krag!
Jou energie en geesdrif is nou op 'n laagtepunt. Maar daar is niks verkeerd met 'n middagslapie nie, skryf dr. James B. Maas in Power Sleep (HarperPerennial, 1998). Navorsing wys ons het 'n ingebore geneigdheid om tussen twee- en drieuur smiddae te wil dut. 'n Swaar middagete maak jou dus nie vaak nie, dit "ontmasker" bloot 'n oeroue instink.
Maar moenie langer as 'n halfuur insluimer nie: Jou liggaam gaan daarna in 'n "diep" slaap. Dis moeilik om daaruit wakker te word en dit kan jou half bedwelm laat voel. Slaap eerder 90 minute lank as jy baie moeg is - dis hoe lank 'n slaapsiklus duur, sê Maas. Nie almal kan egter nou gaan slaap nie. Gaan loop tien minute lank flink om die blok en jou energievlak bly tot twee uur daarna hoog, volgens 'n studie aan die California State-universiteit.
Vir 'n vinnige regrukker, peusel aan rou neute en vrugte. Sien "Knak 'n KitKat" vir nog idees. Jou liggaamsritme begin hierna weer opwaarts kurf. Berei jou dus voor op 'n energiepiek rondom 5.30 nm.
6.00 nm.
Tyd vir skemerkelkies
Sowaar! Jou lyf se weerstand teen alkohol is vroegaand die hoogste. Jou lewer ontgif jou liggaam dan doeltreffend, skryf Jennifer Ackerman in Sex Sleep Eat Drink Dream.
7.00 nm.
Aandete
Dit word skemer en jou liggaam begin melatonien afskei om jou op slaap voor te berei. Soos jou lyf ontspan, raak jou reuk- en smaaksintuig skerper. Dis dus 'n goeie tyd vir 'n lekker bord kos.
Onthou egter jou spysvertering begin ook vir slaap regmaak. Vir 'n lekker nagrus, eet 'n ligte ete met min vet, sê Mariza.
11.00 nm.
Bed toe
Jou liggaamsritme is ingestel sodat jy tussen elfuur saans en vyfuur soggens die slaperigste voel. Dis die beste tyd om te slaap,maar daar is uiteraard individuele verskille. Hoe vroeër jy soggens opstaan, hoe vroeër sal jy bed toe wil gaan.
In die ou dae is geglo jy slaap beter in die ure voor middernag, dat 'n uur se slaap dan gelyk is aan twee ure se slaap daarna. Ja, feitlik al jou groeihormone (belangrik vir goeie gesondheid en liggaamsherstel), word in die eerste ure van slaap afgeskei. Maar dit maak nie saak waar die horlosie se wysers staan nie.
Om lekker te slaap: Drink melk (laevet of vetvry) met 'n blokkie sjokolade of lepel sjokoladedrankiepoeier, beveel Mariza aan.
*Sien www.betereet.co.za vir nog wenke van Mariza.
*Nog bronne: NewYorkTimes, Time Magazine, www.malehealth.co.uk
Verwante artikels
-
Afgaanse-meisie kry 'n nuwe neus
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Aisha,die Afgaanse tiener wie se neus deur haar man afgekap is, het breed geglimlag toe sy haar nuwe prostetiese neus aan die wêreld gewys het.
-
Bertha se 10 dieetreëls vir élke dag
SARIE - September 2009 | Kommentaar: 15
Sy't al 'n volle 18 kg verloor! In die September-uitgawe het SARIE haar modewenke gegee vir haar nuwe lyf. Nou deel sy haar 10 eetreëls vir élke dag eksklusief met sarie.com-gebruikers
-
Franci Swanepoel se dieet: Dag 1 - 3
SARIE September 2010 | Kommentaar: 8
Franci Swanepoel, Binneland Sub Judice se Toeks, was voorheen ’n ‘reeks-diëter’, maar dié keer wil sy al haar ‘vet’ klere weggooi. Boonop het sy ’n nuwe lus vir haar werk en die lewe. Kry dag 1 tot 3 van haar dieet hier.
-
Franci Swanepoel verloor 18 kg - hier's dag 1 van haar dieet
SARIE September 2010 | Kommentaar: 20
Franci Swanepoel, Binneland Sub Judice se Toeks, wasvoorheen ’n ‘reeks-diëter’, maar dié keer wil sy al haar ‘vet’ klere weggooi. Boonop het sy ’n nuwe lus vir haarwerk en die lewe
-
Jou dieet-vrae beantwoord
SARIE - September 2009
-
Jy en jou cravings - dieetkundiges gee raad
SARIE - Oktober 2010
-
Verloor gewig sonder dieet - Rêrig! (Wenke 1 - 5)
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 12
Dis winter en tyd vir tuisgemaakte bredies, cappuccino en lepellê. En sowaar, dís dinge wat jou kan help gewig verloor.












Kommentaar
Karen de Wet het gesê:
Waar kan ons die ander dae van Fransie se dieet kry? Sy lyk fantasies!!
3de Mei. 2011, 17:27Karen de Wet het gesê:
Waar kan ons die ander dae van Fransie se dieet kry? Sy lyk fantasies!!
3de Mei. 2011, 17:27