feb09gesondheid_waterfotorz
Gesondheidstories

5 liggaamlike reaksies van te min water

Jou liggaam droog makliker uit as wat jy dink. Dit bestaan uit sowat 60% water en al verloor jy net 1,5% daarvan, is jy reeds effens gedehidreer. Nie net is jy dan dors en jou mond droog nie, dit kan selfs gevaarlik wees om te bestuur.

Hoeveel per dag?

Jy benodig sowat 20 tot 30 ml water vir elke kilogram liggaamsgewig. Dit kan vloeistowwe soos rooibos- en ander kafeïenvrye tee insluit, maar die helfte moet suiwer water wees. As jy dus 55 kg weeg, is dit minstens 20 x 55 = 1 100 ml (1,1 liter) per dag. Maar verkieslik meer: sowat 1 650 ml (dus 30 x 55). Dis sowat 4 tot 6 glase per dag.

SUIKERTAND

Dehidrasie kan skuil in die gedaante van honger, veral ’n smagting na soetgoed en stysel. Dit kan veral ná oefening gebeur. As jy oefen terwyl jy ontwater is, gebruik jou lyf glikogeen (gestoorde koolhidrate) teen ’n vinniger pas. En dan crave jy koolhidrate sodat jy dit blitsvinnig kan aanvul.

BIBBEREND VAN DIE . . . DORS?

Net so. Dit gebeur omdat jou liggaam bloedvloei na die vel begin verminder. Water behou boonop hitte. Droog jou lyf dus uit, is dit moeiliker om jou liggaamstemperatuur te reguleer. Jy kry dan gouer koud, selfs in die somer.

NIE DRONK NIE, DORSTIG! 

Jy drink nie water voor jy die langpad vat nie, omdat jy nie vir ’n dringende blaaskans wil stop nie. Pasop! Jou bestuursfoute verdubbel gedurende ’n twee uur lange rit as jy gedehidreer is, volgens navorsing in die internasionale joernaal Physiology and Behaviour. Dit het ’n soortgelyke invloed as wanneer jy onder die invloed van alkohol bestuur.

KORT VAN DRAAD . . .

Slegte bui? Drink ’n glas water en jou bui kan in ’n oogwink verbeter. Selfs al is jy net effens ontwater, kan dit hoofpyn, konsentrasieprobleme en geïrriteerdheid veroorsaak, volgens ’n klein studie in die Amerikaanse Journal of Nutrition.

SPIERE KLA

As water min raak, verskuif jou liggaam dit weg van die spiere na die belangrikste organe toe. Dit kan jou pynlike spierkrampe gee. Sweet jy baie, kan veranderinge in sout- en kaliumvlakke dit ook doen.

BRONNE