FOTO: Unsplash / Robin Yang

Gesondheidstories

5 redes hoekom jy heeltyd moeg is – en hul oplossings – DEEL 2

Vind hier uit of ’N YSTERTEKORT, TRAE SKILDKLIER en SLEGTE NAGRUS nie dalk die rede is vir jou moegheid nie …  plus oplossings om dit te hok te slaan.

4. Slegte eetgewoontes

Jy is dikwels só aan die gang dat jy nie jou maaltye beplan nie. Jy eet dan kitskos, restaurant- of wegneemetes: soms tot drie keer per dag. Vitamien B is veral noodsaaklik vir energie. Eet ’n halwe bord groente en/of slaai vir middag- en aandete, en 2 tot 3 vrugte deur die dag.

As jy maaltye oorslaan, daal jou bloedsuikervlakke en dit kan jou moeg en geïrriteerd laat voel. Jy smag dan na iets wat jou vinnig energie gee (soos ’n stuk sjokolade), en dit word ’n bose kringloop. Eet ontbyt, middag- en aandete en klein peuselhappies tussenin.

Koolhidrate (stysel en suiker) kan wisselinge in bloedsuikervlakke veroorsaak en dus ’n effek op jou energievlakke hê. Fokus op onverwerkte styselkosse en vermy suiker en moenie meer as ’n vuisgrootte porsie koolhidrate per maaltyd eet nie.

Alkohol en kafeïen is stimulante wat tydelik jou energievlakke verhoog en jou kort daarna weer moeg laat voel – met ’n behoefte aan nog koffie. Drink minder koffie, koladrankies, gewone tee en energiedrankies. Alkohol en kafeïen kan ook jou slaappatroon versteur.

5. Nie net vir jappies nie

Chroniese-moegheid-sindroom (CMS) is in die jare tagtig “jappiegriep’’ genoem, maar dis nie net sogenaamde jappies wat dit kry nie. Jy is só moeg dat jy sukkel om jou normale daaglikse take te verrig. Die toestand word nie goed verstaan nie en daar is geen mediese toetse om dit te diagnoseer nie. Jy kan dus sukkel om te aanvaar jy het dit – of om ander mense te oortuig. Maar jou moegheid is eg, nie net in jou kop nie.

Volgens prof. Meyer is die presiese oorsaak nie bekend nie. Genetiese en persoonlikheidsfaktore, asook langtermyn-stres, speel waarskynlik ’n rol. Soms begin dit ná ’n ernstige virusinfeksie soos klierkoors. Jy ly in die helfte van gevalle ook aan depressie.

Simptome:

• Oorweldigende moegheid. (Jy voel al minstens drie maande só en jou daaglikse fisieke aktiwiteite is met meer as die helfte ingekort.)
• Angstigheid
• Prikkelbaarheid
• Neerslagtigheid
• Jy sukkel om helder te dink, te konsentreer en dinge te onthou.
• Koors, hoofpyn, keelseer en teer kliere in jou nek en armholtes.

Oplossing: Daar is nie ’n magiese kuur nie, maar baie van die simptome kan verlig word. Lae-intensiteit-oefening help dikwels. Sekere persoonlikheidstipes (soos oormatige perfeksioniste) vind ook baat by kognitiewe gedragsterapie. Jy leer dan om jou negatiewe denkpatroon te verander. ’n Lae dosis trisikliese (ouer) antidepressant kan ook help en dis belangrik om goeie slaapgewoontes aan te leer.